Fedusa, Untu beplan om pendelaarsdienste tot stilstand te bring

Argieffoto

Die vakverbond Fedusa en die United National Transport Union (Untu) beplan om te staak en in die proses pendelaarsdienste oor die hele land tot stilstand te bring.

Dié beplande staking sal op 26 Julie plaasvind in ʼn nasionale dag van protesoptrede teen uiters swak en gevaarlike Metrorail-passasierstreindienste, het Fedusa Dinsdag in ʼn verklaring aangekondig.

Luidens die verklaring is Fedusa se aansoek vir ʼn nasionale staking reeds toegestaan. Dié aansoek ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gee werkers die reg om in sosio-ekonomiese belang wettig te betoog.

Masale Godfrey Selematsela, president van Fedusa, het gesê alle werkers oor die provinsies heen kan dus deelneem aan hierdie protesoptrede later vandeesmaand sonder vrees vir viktimisasie.

Volgens Selematsela wou Fedusa en Untu in pres. Cyril Ramaphosa se droom oor ʼn superstad, voorgehou gedurende vanjaar se staatsrede, glo, maar die feit dat hul lede daagliks op treine deur geweld geteister word, het egter die president se visie van koeëltreine en wêreldformaatstede verduister.

Vertraagde treine, brandstigting en die hoë koers van ongelukke is maar net van die redes om oor te gaan tot protesoptrede, verduidelik Selematsela.

Hy sê verder die spoordiens is ook onderworpe aan dissiplinêre optrede weens swak dienste wat pendelaars daagliks hulpeloos en gefrustreer laat.

“Die nasionale dag van protes is daarop gemik om die presidensie te dwing om die passasierspoordienskrisis [in Suid-Afrika] tot ʼn nasionale ramp te verklaar ten einde die ontplooiing van die weermag om spoorbates te beskerm en oorheersende spoorwegmisdaad te beveg,” het Selematsela gesê.

Fedusa en Untu dring daarop aan dat die departement van vervoer, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) asook die polisie dadelik werk maak van die land se swak passasierstreindienste.

“Dit sluit in die vervanging van ou, gebreekte of gesteelde infrastruktuur en toerusting soos spoorlyne, seintoerusting en onveilige en verouderde treinstelle, asook om ʼn goed opgeleide spoorwegpolisie terug te bring,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre Coetzee ·

Julle mors julle eie tyd.Niks gaan verander nie.Skrap trein vervoer in SA en vergeet daarvan.Dit gaan nooi regkom nie.Die oplossing behels kundigheid en goeie bestuur maar nog meer opvoeding van mense ens.Dit behels wette wat misdadigers vasvat en ‘n sterk arm wat enige vorm van vandalisme uitroei.Nie in die land nie en ook nie in ons leeftyd nie. Droom en hoop maar voort.

Dries du Toit ·

Ja en dit kos miljarde om reg te maak. Nadat julle gestaak het val daai geld uit die hemel en “Bobs your uncle”

Belegger ·

Die land is oop vir besigheid en beleggings, volgens Rhamaphosa, maar by die hawens vrot boere se vrugte en motorfabrieke sluit omdat onderdele nie afgelaai word nie. So word die land tot stilstand gestaak. nou wil treindienste ook die land tot stilstand bring. Vergeet maar werkskepping, vooruitgang en beleggings as dit so voortgaan!

Dries du Toit ·

En daar dag ek heeltyd dit staan reeds.My magtie nê

wielie ·

hahahahahahahaha die metro treine in Pretoria is klaar useless, kom laat , gaan staan ure opi spoor for no reason. Wat wil julle lam le in n klaar lam gelede land????

Leon ·

Ek wonder watter taxi vereniging of busmaatskappy betaal hulle om die treine te vernieting. Dit is al afleiding wat ek kan maak uit die gebeure die afgelope tyd.
Selfs treine wat op tyd is word geteiken. Dit is dan definitief nie omdat hulle kwaad is nie. Daar moet iets anders skuil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.