Fees gekanselleer as gevolg van droogte

Riebeek-vallei se olyffees wat jaarliks in Riebeek-Kasteel plaasvind, is gekanselleer as gevolg van die droogte wat die Wes-Kaap teister.

Klaus Piprek, voorsitter van Riebeek-vallei se toerismevereniging, het gesê dit was ʼn lang en moeilike besluit om die fees te kanselleer.

“Dit is nie ʼn besluit wat ons oornag geneem het nie. Ons praat al ses maande lank hieroor, maar ons het nie regtig geweet wat die watersituasie in die Vallei is nie. Ons hoor so baie oor Kaapstad se waterkrisis, maar oor ons eie weet ons min,” het hy gesê.

“Ek het toe ʼn bietjie by die munisipaliteit gaan hoor hoe die watersituasie hier by ons is, en toe het ek gehoor dat die Vallei se ‘Dag Zero’ eintlik nóg nader is as in die Kaap, dít kom op 6 Maart.”

Die Riebeek-vallei-olyffees lok jaarliks sowat 12 000 mense vir die duur van die twee dag lange fees.

Piprek het gesê hulle kon dit nie regverdig om so baie mense in die vallei se klein gemeenskap in te laat vir dié jaar se fees nie, want die boere en die hele gemeenskap is onder baie druk.

“Die wynboere het ʼn baie slegte oes gehad, en hulle mag ook nie meer besproei nie. Ons weet ook nie hoe lyk die olyfoes dié jaar nie, en dít is juis waaroor die fees gaan. Die gemeenskap is onder geweldige finansiële en waterdruk.”

Piprek het ook gesê die besluit om die olyffees te kanselleer gaan oor meer as net die waterkrisis.

“Dit gaan nie net oor die water nie, dit gaan oor die lang termyn ekonomiese en sosiale impak op ons gemeenskap. Ons moet water bespaar deur die fees te kanselleer, om sodoende ons gemeenskap se sakeondernemings aan die gang te kan hou.”

Die publiek was vinnig om te reageer op die aankondiging dat die fees gekanselleer is, maar volgens Piprek neem meeste mense nie die organiseerders kwalik nie.

“Die terugvoer wat ons kry is oorweldigend positief. Die mense staan 100% agter ons. Hulle is teleurgesteld, maar hulle is bly ons doen dit. Daar is selfs mense wat sê dat hulle ons nou nóg meer sal ondersteun.”

Die feesorganiseerders het in ʼn verklaring gesê dat almal wat reeds kaartjies vir die fees gekoop het, terugbetaal sal word. Hulle hoop om in 2019 weer ʼn suksesvolle olyffees aan te bied.

Piprek het gesê mense moet dié jaar vergeet van die partytjie en dink aan die vallei se gemeenskap wat daaronder sal ly.

“Ons moet nou fokus op volhoubare toerisme, eerder as een naweek se feesviering, en dan val alles daarna plat. Ons bid maar vir goeie reën sodat ons volgende jaar weer lekker partytjie kan hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jubel ·

Habakuk 3v17-19
7Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
18nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
19Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Ons bid saam vir uitkoms

Johann Marx ·

Bel vir Piet le Roux…..

Kinders moenie in die water mors nie…
Die ou mense wil dit drink.
O kinders moenie in die water mors nie…
Die ou mense wil dit drink.

Dit kom van ver af…
Dit kom van ver af..
Dit kom van ver af…
Van Piet le Roux se plaas….

Alida ·

Dit is jammer vir die ekonomie van die dorp maar feesgangers drink in elk geval nie water nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.