FeesMustFall-aktivis op parool vrygelaat

Kanya Cekeshe in die hof. Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency(ANA)

Die FeesMustFall-aktivis Kanya Cekeshe (24) sal Kersfees by die huis deurbring nadat hy Dinsdag in die vroeë oggendure op parool vrygelaat is.

“Na voltooiing van die vereiste programme en nadat die sekuriteitsprosedures gevolg is … is mnr. Cekeshe op parool vrygelaat,” het Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, vanoggend aan eNCA gesê.

Die departement het reeds vroeër vandeesmaand voorspel dat Cekeshe vrygelaat sou word aangesien hy in aanmerking kom vir die presidensiële kwytskelding wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het om Versoeningsdag vroeër vandeesmaand te gedenk.

Maroela Media het vroeër berig Cekeshe is destyds skuldig bevind op aanklag van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging toe hy ʼn polisievoertuig tydens die #FeesMustFall-betogings aan die brand gesteek het.

Cekeshe was die enigste sogenaamde #FeesMustFall-aktivis wat steeds in aanhouding was. Hy het tot nou tronkstraf in die Leeuwkop-korrektiewe sentrum in Johannesburg uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.