#FeesMustFall: Gespanne situasie by TUT

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

ʼn Gespanne situasie het Donderdagoggend by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se hoofkampus in Pretoria-Wes geheers tussen studente en polisiebeamptes.

Betogende studente het klippe uit die koshuise gegooi na talle polisiebeamptes wat naby die kampus gestasioneer was. Die studente het ook verskeie items, waaronder ʼn beheerkamer van kampussekuriteit (sien video onderaan die berig), aan die brand gesteek. Daar is ook goedere aan die brand gesteek by die ingange en polisievoertuie is verhoed om die perseel binne te kom.

Polisiebeamptes het voor 12:00 in formasie met kampussekuriteit gestaan, vermoedelik gereed om ʼn klopjag uit te voer op die koshuise.

Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, het die betogings bevestig. Sy het gesê daar was ontwrigtings by die Pretoria, Ga-Rankuwa en Soshanguve-kampusse. “Die situasie is egter bestuur en daar is slegs minimale skade aangerig.”

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

Sy het bevestig die situasie op die hoofkampus is vinnig onder beheer gebring, maar klasse is ongelukkig ontwrig. Daar was ook nie akademiese aktiwiteit by Polokwane-kampus nie, alhoewel die situasie daar kalm bly.

“Alhoewel die universiteit die regte van studente respekteer om te betoog, sal enige TUT-student wat die bedrywighede by die universiteit ontwrig, aan tugstappe onderwerp word en sake sal aanhangig gemaak word teen persone wat hulself skuldig maak aan kriminele misdrywe,” het De Ruyter bygevoeg. “Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn aansoek aangehoor vir ʼn interdik teen alle ontwrigtende aktiwiteite by die universiteit. Die interdik is toegestaan.”

De Ruyter het Donderdagmiddag gesê alle bedrywighede hervat Vrydag by die instansie. “Veiligheidsmaatreëls word verskerp by al die kampusse om die veiligheid van ons personeel en studente te verseker,” het sy gesê. “Personeel en studente word daaraan herinner dat hulle slegs met amptelike TUT-identifikasiekaarte die kampus sal kan betree.”

Volgens De Ruyter sal alle toetse wat geskeduleer is om op 15 Oktober te begin, ook voortgaan.

Verskeie kampusse beleef geweld en onrus sedert Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se aankondiging op 19 September dat universiteite self hul studentegeldeverhogings vir 2017 kan bepaal, tot ʼn maksimum van 8%.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ahooy ·

Wat gaan aan met ons regstelsel.????? Die SAPD word BETAAL om WET en ORDE te handhaaf!!!! Hoeveel van die arme studente is al gearresteer??? Los hulle dat hulle die hele TUT tot op die grond afbreek!! Die SAPD staan net daar rond as teikens om met klippe gegooi te word. Waar is die BEVELVOERDERS wat n besluit kan neem?? Of gaan Pahlane nog tot vervelens toe vra dat hulle soet moet wees?? PATETIES!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.