#FeesMustFall-leier glo op hongerstaking

Mcebo Dlamini in die hof (17 Oktober 2016). Foto: Brenda Masilela/ANA

Mcebo Dlamini in die hof (17 Oktober 2016). Foto: Brenda Masilela/ANA

Mcebo Dlamini, ʼn leier van die #FeesMustFall-veldtog en voormalige studenteleier van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), is glo op ʼn eetstaking in die gevangenis.

Dlamini (30) is Sondag in Parktown in hegtenis geneem nadat die polisie op die Wits-koshuis, waar hy woon, toegeslaan het te midde van die voortdurende #FeesMustFall-betogings by dié universiteit. Hy word aangekla van openbare geweld, diefstal, opsetlike saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer en dat hy ʼn hofbevel verontagsaam het.

Hy het Woensdagoggend in die Johannesburgse landdroshof verskyn, waar landdros Albertus Roux sy borgtogaansoek geweier het.

Volgens Nkululeko Tselane, ʼn mede-aktivis en Wits-student, het hy en drie ander studente Dlamini Vrydagoggend besoek. “Hy word in ʼn enkelsel in die korrektiewedienstesentrum in Johannesburg aangehou en het gesê hy het Woensdag met ʼn eetstaking begin,” het Tselane gesê.

Tselane het gesê Dlamini vra studente moet hul stryd om gratis onderrig voortsit en mense moet nie vergeet waarom aktiviste, soos hy, in die tronk sit nie.

Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het egter die beweringe verwerp. “Ons streeksbestuurders en leiers by die departement sê dit is nie waar nie,” het Wolela gesê.

Dlamini bly in aanhouding en moet weer op 15 November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.