#FeesMustFall: Verslag wys studies moet geld kos

studeer-studies-leer-biblioteek-skootrekenaar

Foto: Stephanie/Pexels.com

Soveel as 92% van afgestudeerde studente wat onlangs deelgeneem het aan ʼn navorsingstudie meen dit is die moeite werd om self verantwoordelikheid vir jou studiegelde te neem – selfs al betaal hul nog self aan hul studies af.

Dit is van die bevindinge wat blyk uit ʼn studie wat Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum onder 300 afgestudeerde studente wat tussen 2015 en 2017 gestudeer het, gedoen het. Hierdie studente is almal deur die Studiefondssentrum met rentevrye studielenings gehelp om te studeer.

Die doel van die navorsing was om by dié groep studente uit te vind tot watter mate hul studies hulle beroepe bevorder het.

“Dit is opvallend dat hoewel 74% van die kandidate nog die finansiële las voel om elke maand hul studieskuld af te betaal, hulle steeds van mening is dat dit die beste is om self aanspreeklikheid vir hul studiekoste te aanvaar,” het Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum gesê. Dit is verder opvallend dat die werkloosheidsyfer onder hierdie studente slegs 7,39% is, in vergelyking met die nasionale gemiddeld van 26,7%.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, “kos sogenaamde gratis tersiêre onderrig natuurlik nie niks nie. Dit is beter dat individue en gemeenskappe vrywillig voorsiening maak vir die finansiering van verdienstelike studente se studies.”

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum bied reeds sedert 2008 finansiële studiehulp in die vorm van rentevrye studielenings aan behoeftige studente en het oor die afgelope tien jaar R156 miljoen bestee om 4 230 studente se studies aan tersiêre instellings regoor Suid-Afrika moontlik te maak.

“Ons droom is dat elke student wat wil studeer moet kan studeer, maar die navorsing het weer bewys dat enigiets van waarde met ʼn prys kom. Opleiding is natuurlik geen uitsondering tot die reël nie,” het Pieterse afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Flojo ·

Baie waar, maar hoe maak mens hulle bewus hiervan? Dit is deel van n kind de opvoeding en dit ontbreek by die wat alles verniet wil hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.