#FeesMustFall: Wits-studente hoor oor borgtog

Betogings op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) as deel van die #FeesMustFall-veldtog (11 Oktober 2016) Foto: ANA

Betogings op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) as deel van die #FeesMustFall-veldtog (11 Oktober 2016) Foto: ANA

Vier studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) wat Vrydag in hegtenis geneem is nadat hulle lesings op die mediese kampus ontwrig het, het Maandag in die Hillbrow-landdroshof om borgtog aansoek gedoen.

Die studente is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn hofinterdik oortree het waarvolgens hulle verbied word om akademiese bedrywighede op die kampus te ontwrig. Hulle is op R1 000 borgtog elk vrygelaat.

Groepe studente en werkers van Wits het in ʼn optog van die kampus na die hof beweeg en buite die hof gesing ter ondersteuning van die studente.

Intussen het die universiteit in ʼn verklaring gesê daar is geen voorvalle van geweld op die kampus oor die naweek aangemeld nie. Wits-studente het Sondagaand ʼn nagwaak gehou teen “polisiebrutaliteit” op die kampus nadat verskeie studente Vrydag beseer is toe polisiebeamptes rubberkoeëls afgevuur het.

Vandeesweek is die laaste week van lesings voordat die universiteit se jaareindeksamen begin. Shirona Patel, woordvoerder van Wits, het gesê hoewel protesaksie steeds plek-plek opvlam, sal die aandklokreël weer eens verslap word aangesien daar nie oor die naweek enige voorvalle van geweld was nie.

“Van vandag [Maandag] moet studente in hul koshuise of studieareas wees van 01:00 tot 05:00. Indien jy graag jou studiearea in hierdie tyd wil verlaat, sal jy deur kampuskontrole, wat buite die studieareas ontplooi is, na jou koshuis vergesel word. Hierdie is ʼn tydelike maatreël wat mettertyd gelig sal word namate die situasie stabiliseer,” het Patel gesê.

Sy het gesê die aandklokreël sal Dinsdag nog verder verslap word indien die situasie op die kampus onveranderd bly.

Die reël is aanvanklik ingestel om teen 22:00 te begin, maar is verlede week aangepas om teen middernag te begin. Betogers het egter geweier om by die reël te hou en het deur die nag op die kampus saamgedrom.

Lees alle vorige berigte oor die studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oosie ·

Moenie aan die slaap gevang word nie. Hulle het net ‘n bietjie gaan rus…

sharon ·

hulle mag klippe gooi na SAP ? maar SAP moet tog net nie aan hulle vat nie?

popeye ·

Oop kommentaar aan ons heersers…geagte here en dames; julle probleme kom nie van die oorheersende (minderheid blankes) nie. Ons verduur, hou bek en betaal belasting. As julle miskien ons bestaan erken wil ons aanbied om oplossings tesame voor te stel. Ons moes al leer om aan te pas. Julle het veel meer om te wen deur ons in te sluit as om ons te verguis. Daar is in alle geval mos GEEN manier dat ons weer politieke beheer gaan he nie so komaan, ek daag julle uit..vra vir hulp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.