Feesseisoen-padsterftes neem skerp toe

‘n Ongelukstoneel op die R59 tussen Vereeniging en Sasolburg gedurende die Desember-feesseisoen. Foto: ER24

Die getal mense wat in die afgelope feesseisoen op die land se paaie gesterf het, het skerp toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Altesaam 1 612 mense het tydens die 2018/’19-feestydperk in padongelukke gesterf, vergeleke met 1 527 sterftes tydens die 2017/’18-feesseisoen. Blade Nzimande, minister van vervoer, het Woensdag dié skokstatistiek tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak.

Volgens die departement se feesseisoenstatistiek het 1 286 ongelukke in die tydperk op die land se paaie plaasgevind. Altesaam 8 507 motoriste is ook oor die tydperk in hegtenis geneem, waarvan 2 223 op aanklag van dronkbestuur vasgetrek is. Altesaam 775 motoriste is in hegtenis geneem omdat hulle die spoedgrens aansienlik oorskry het.

Voetgangersterftes toon ʼn effense afname sedert die vorige feesseisoen – 35% vanjaar teenoor 37% in die vorige jaar.

Volgens Nzimande is slegs in Gauteng en Noordwes minder padsterftes aangeteken as in die vorige jaar. Die dodetal op die paaie van die res van die provinsies het oral gestyg. Die meeste mense het op paaie in KwaZulu-Natal gesterf (328 sterftes in 267 ongelukke), gevolg deur die Oos-Kaap (238 sterftes in 195 ongelukke).

Die minister sê verskeie faktore het tot die slagting op die land se paaie bygedra, insluitend alkohol- en dwelmgebruik, nalatige bestuur, onpadwaardige voertuie, korrupsie, versuim om sitplekgordels te dra en motoriste wie se aandag afgetrek word.

Nzimande sê in talle ongelukke wat voorgekom het weens onpadwaardige voertuie en voertuie wat oorlaai was, was buitelanders agter die stuur.

“Die departement sal voortgaan om die probleem van dronkbestuur uit te roei. Dit sluit in die klassifisering van dronkbestuur as ʼn skedule 5-oortreding in die Strafproseswet,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ilva ·

Word gehammer op onpadwaardige vierruie maar nie die onpadwaardige paaie nie. Dis die regering se skuld.

Peet Schabort ·

Begin reg onder op laerskoolvlak met padopvoeding. Dan eers sal daar ‘n verandering kom waar die kleintjie agter in die kar sal/kan sê: ‘Jy ry darem nou baie gevaarlik en stel my- en ander se lewe bloot aan die dood.’ Daar word algemeen aanvaar dat ‘n bestuurslisensie vanselfsprekend is waar dit eerder ‘n voorreg behoort te wees. Daar is baie tekorte in die K53 wat veral die praktiese opleiding betref. Daarom is die bywoning van BMW-/VW-/Mercedes se kursusse van belang. Selfs ek het na 57 ongeluksvrye jare iets bygeleer deur die gevorderde kursus van BMW. Daar kry jy ook kans om die M3 op Zwartkops te kielie met ‘n ordentlik opgeleide instrukteur aan jou sy. Ja, R5000 is ‘n klomp geld vir die dag maar jou lewe is meer werd. Daar is egter nog ander kursusse wat aangebied word wat slegs kan bydra om jou gesindheid en jou kop reg te draai jeens PADHOFLIKHEID. Ek het ‘n boekie jare gelede gekoop genaamd ‘A Better Pig at the Wheel’. Doen presies die teenoorgestelde. Wees trots op die feit dat jy ‘n lisensie besit en probeer gedurigdeur om jou bestuursvermoë te verbeter. Gaan ry op ‘n privaat grondpad waar jy jou vermoë kan toets en wat jou kar met jou gaan doen wanneer jy ‘beheer verloor’, iets wat vandag bykans alledaags is.

Tinus ·

Hoeveel van die 1612 padsterftes was betrokke by taxi ongelukke? Hierdie inligting word egter van die publiek weerhou. Hoekom? In meer as 70% van alle sterftes is n taxi betrokke.

Amelia ·

1. Paaie se gebrek aan instandhouding
2. Onpadwaardige voertuie
3. Gebrek aan bestuursvernuf/gekoopte lisensies
4. Drank en dwelms

Anette ·

Ek twyfel!! Dis mense wat bloot ongeduldig is en verby vat oor blinde hoogtes ens. Van Fortuners en bakkies tot Figo. Almal te haastig. Dis meermale beleef die vakansie!!!

ne ·

Ek sal ook graag wil hoor hoeveel Taxi’s betrokke was. Maklik om te sê buitelanders het bestuur!

pieter ·

Stem saam met Anette mense ongeduldig gaan verby op sperstrepe,voertuie beweeg in geelstrepe in ander gaan verby maar gaan oor sperstrepe in aankomende verkeer in,trokke hou nie by volg afstande nie 4 tot 5 trokke agter mekaar en motors kan ni verby gaan nie dan raak mense ongeduldig en gaan verby op verkeerde plekke so kan ek aangaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.