Feesteiken: Polisie waarsku besighede

Foto: SAPD, Facebook

Die Suid-Afrikaanse polisiediens het besighede landwyd Sondag gewaarsku om meer waaksaam te wees teen misdaad dié feestyd.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê besighede moet dié Desembervakansie aansienlik minder kontant in hul kasregisters en by hul kassiere hou, aangesien misdadigers dikwels winkels juis oor die feestyd teiken.

Besighede is ook gewaarsku om waaksaam te wees wanneer hulle aflewerings doen. Talle vragmotors is reeds tydens afleweringstye gekaap.

“Besighede wat aflewerings doen, word gewaarsku om nié die sleutel van die vragmotor binne die voertuig te los terwyl hulle die aflewerings doen nie – misdadigers is bewus hiervan. Hulle kaap die vragmotors en steel dan die goedere ook. Los liewer jou sleutels by veiligheidswagte,” waarsku die verklaring.

Die polisie het gesê hy sal op ʼn hoëgereedheidsgrondslag wees om te reageer wanneer daar ʼn noodsituasie is, maar lede van die publiek moet ook hul samewerking aan die polisie gee.

Dié waarskuwings volg nadat die polisie motoriste en vragmotorbestuurders vroeër vandeesweek gewaarsku het om bedag te wees op kapers wat hulle voordoen as polisielede om bestuurders sodoende in ʼn lokval te lei.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, sê dié waarskuwing kom nadat ʼn vragmotor Dinsdag op die N2 naby Humansdorp in die Oos-Kaap gekaap is.

Die polisie het lede van die publiek gemaan om enige misdaad aan te meld deur die  misdaadnoodlyn te skakel by 0860 010 111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marous ·

Die polisie sal reageer as daar ‘n nood situasie is …. hulle is te sleg om voorkomend op te tree!

PJC ·

Net asof ons nie alreeds alles om ons met agterdog bejeen nie.

Eish ·

Dit sal baie help indien hul weer patrollies loop soos van ouds en hul kwaste uit die bakkies kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.