Feestyd: Motoriste wat padreëls oortree sal swaar gestraf word

Argieffoto: Pixabay

Motoriste sal swaar gestraf word as hulle dié feestyd die padreëls oortree.

Só het Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, motoriste gewaarsku nadat hy die afgelope naweek saam met verkeersbeamptes by een van die provinsie se besigste langafstandkruisings – die een in Beaufort-Wes – gewerk het.

“Namate die feestyd ons nader, verdubbel ons pogings om padveiligheid vir alle padgebruikers te verseker. Daar sal gevolge wees vir diegene wat nie die padreëls gehoorsaam nie,” het Madikizela gesê.

Volgens Madikizela het provinsiale verkeersdienste tussen 9 en 15 November altesaam 53 gesamentlike padblokkades gehad, voertuigbeheerpunte beman en spoedbeheer gedoen. Altesaam 23 875 voertuie is voorgekeer en nagegaan.

“Altesaam 232 spoedoortredings is aangemeld en 3 171 boetes ten bedrae van R2 773 450 is uitgereik. Voorts is 28 voertuie geskut en 86 voertuie is van die pad verwyder omdat dit nie padwaardig was nie.”

Motoriste is aangekeer wat onder meer 159 km/h in ʼn 120 km/h-sone, 144 km/h in ʼn 100 km/h-sone, 126 km/h in ʼn 80 km/h-sone en 98km/h in ʼn 60 km/h-sone gejaag het.

Twaalf klagte is aanhangig gemaak ingevolge die Wet op Rampbestuur en boetes vir oortredings van dié wet beloop R36 000.

Madikizela het gesê 30 mense is in hegtenis geneem is, onder wie 15 vir dronkbestuur, drie vir bedrieglike dokumentasie, vyf vir roekelose bestuur, twee vir oorlading, een vir die besit van dagga, een vir poging tot moord, een vir die versuim om te stop om beamptes van inligting te voorsien en nog een vir regsverydeling.

Altesaam 15 mense is vandeesweek in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van drank bestuur het.

“My boodskap is duidelik: Moenie drink en bestuur nie; selfs klein hoeveelhede alkohol kan ʼn motoris se oordeelsvermoë beïnvloed.”

In dieselfde tydperk is 24 ongelukke en 25 sterftes aangeteken. Vier van die slagoffers was bestuurders, een ʼn motorfietsryer, drie passasiers, 13 voetgangers en vier fietsryers.

Madikizela het motoriste versoek om veilig te wees en die padreëls te gehoorsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ek wens korrupte politici word swaar gestraf…

Piet

Altyd so dramaties met hierdie aankondigings. Wat van bietjie ondersoek joernalisme? Ek stel voor ons word ingelig wie boetes betaal bv Vragmotor boetes, Bus boetes, Maatskappy voertuig boetes, mini bus taxi boetes. Ek is seker dit behoort baie interessant en insigewend te wees van wie die “Boetes ondersteun”

Wielspore

Na my mening is spoed wel ‘n bydraende gedrag tot padsterftes en terselfde tyd kan daar gerus gekyk word na onpadwaardige voertuie, oorlaaide voertuie, voertuie wat verkeer ophou, swaar voertuie wat in kettings ry en dan daardie bestuurder wat voor almal by die see wil uitkom, die verby-steker. Maak nie saak wat van voor af kom, hy gaan jou verby.
Lekker vakansie hou!

Francois Le Cochon

Swaar Strawwe? 12 oortreders altesame R36,000. Wat ‘n grap. ‘n Paar jaar gelede is voorgestel dat daar beslag gele^ moet word op ‘n dronkbestuurders se motor. ‘n Hof het dit toe as ongrondwetlik beskou. Ek sou se^ dat die minimuim boete vir dronkbestuur R250,000,00 moet wees. Dan sal ‘n dronkbestuurder verplig wees om sy motor te verkoop, of selfs sy huis. Hy/sy sal dan nooit weer dronkbestuur, en dit is wat ons wil he^.

Tsek!

Ok…verduidelik dan die gedrag van taxi bestuurders – sou verwag dat 90% van hulle van die pad geskraap sal wees teen die tyd?!