Feite of fopnuus: Pasop vir dié ou stories

Verskeie artikels wat tans op sosiale media die ronde doen, is verouderd. Om ou nuusberigte jare later buite konteks te deel, is misleidend en word dus gedeeltelik as fopnuus beskou.

’n Berig oor die verkragting van ’n ses week oue baba in 2013, het onlangs weer soos ’n veldbrand op Facebook versprei. Volgens CrowdTangle, ’n platform wat aanlyn tendense monitor, is hierdie berig in 2019 en 2020 meer kere gedeel as in die jaar toe dit gepubliseer is.

Die moord op prof. Daan Wybenga van Clarens in die Vrystaat het ook in 2013 opslae gemaak. ’n Engelse artikel hieroor het in 2013 op die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) se webtuiste verskyn. Dié artikel het, nadat dit ook in 2016 en 2019 wyd versprei is, in Junie vanjaar weer op talle Facebookgroepe opgeduik asof die moord onlangs gepleeg is.

ʼn Video wat in 2016 gemaak is om mense aan te moedig om Landbouweekblad te boikot, is onlangs ook weer op groepe soos “Suid-Afrikaners teen Linkse Rassehaat” en “Verenig teen die uitwissing van ’n blanke volk” gedeel. Die herrie is vier jaar gelede ontketen toe die destydse besturende redakteur van Landbouweekblad na Steve Hofmeyr se aanhangers as “white trash” verwys het.

’n Facebook-gebruiker het mense daarop attent gemaak dat die voormalige redakteur, Albertus van Wyk, reeds in 2016 bedank het. “Dink mooi voor jy plasings en WhatsApps aanstuur wat baie onskuldige mense hulle werk kan kos,” het sy gewaarsku. “Jou share kan skade maak wat jy nie kan omkeer nie!”

Volgens John Sharp, professor in antropologie aan die Universiteit van Pretoria, is daar meer as een rede vir hierdie tipe aanlyn gedrag. “Mense is dikwels roekeloos wanneer dit by kommunikasie via sosiale media kom,” het hy gesê. “Hierdie kwessies leef soms steeds vir hulle voort, óf hul gedrag is bloot kwaadwillig.”

Ook prof. Albert Grundlingh van die Universiteit Stellenbosch se geskiedenisdepartement meen dit is dikwels “nie bloot onskuldig of plein dom nie”. “In tye van krisisse soos oorloë en pandemies floreer gerugte en onwaarhede juis omdat tye so onseker is,” het hy verduidelik.

“Ek vermoed die meeste mense besef nie hulle deel ou nuus nie,” het dr. Sarah Britten, sosialemediakenner en kommunikasiestrateeg by Brand Factor gesê. “Hulle sien iets ontstellends wat hulle wêreldbeskouing reflekteer, en dan deel hulle dit sonder om na die datum te kyk.”

Volgens Britten “leef ons in ’n wêreld wat ongelooflik verdeeld geword het” en “waar niemand na ’n standpunt wil luister waarmee hulle nie saamstem nie”.

“Ons wil sekerheid hê en ons wil voel asof ons altyd reg is.” Sy meen dat hierdie houding tot verdere polarisasie lei en dat daar verder weg van oplossings beweeg word.

“Uiteindelik blaas die deel van ou nuusberigte net emosies aan, wat tot nog meer haat lei,” het Britten bygevoeg.

Meer oor die skrywer: Lynné Schoeman

Lynné Schoeman is ’n meesterstudent in joernalistiek aan die École Supérieure de Journalisme de Lille in Frankryk. Haar tesis het gehandel oor die rol van sosiale media in fopnuus en feitekontroleringsjoernalistiek, met AFP se Fact Check-afdeling as gevallestudie.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Termiet

Die anc regering lieg so dat mense nou al alles glo.

Delon

niks is meer roekeloos as die media self op die stadium nie , sosiale media sou nie so te kere gegaan het as hulle nie geweet het dat die gewone media regering leuns versprei nie

Jacobus

Ja, daar is ‘n probleem. Mense met meer as 2 breinselle verwerk bognuus. Baie bognuus is dalk net verouderde feite wat elk geval nooit die lig gesien het agv verbysterende stilte van die HSM. Dít plus eensydige “deskundiges” wat deur sekere kanale geparadeer word om menings te stoot in ‘n sekere rigting.
Én as jou staatshoof sekere kritieke aangeleenthede vermy om by sy narratief te pas, skep jy ‘n teëlaarde vir bognuus. En wanneer proffies met hopelik meer breinselle doelbewus twak praat dan geld die vorige sin ook.

Jaco

wat van kospakkies wat nie aan wit mense gegee mag word nie? Fopnuus of nie?

marius

Indien daar ‘n wanvoorstelling is oor datum en tyd kan dit seker geag word fopnuus te wees . Indien dit egter uitligting is van feitelike gebeure is dit nie fopnuus nie , maar die waarheid . Dalk kan die skrywers verduidelik hoe lank ‘n feitelike koei in die sloot moet le voor sy nie meer uitgegrawe mag word nie. Hulle moet maar mooi dink voor hulle antwoord ……