Ferdi Barnard se parool goedgekeur

Ferdi Barnard. Foto: Johann van Tonder/home.intekom.com

Ferdi Barnard, die moordenaar van die anti-apartheidsaktivis dr. David Webster en Mark Francis, sal volgende maand op parool vrygelaat word.

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Donderdag die parool van Barnard goedgekeur. Barnard sal op 2 April op parool vrygelaat word.

Volgens Masutha is hy tevrede dat Barnard aan al die voorwaardes en vereistes vir parool voldoen. Die minister sê in ʼn verklaring hy het met Maggie Friedman, Webster se lewensmaat, gekonsulteer voordat hy die besluit geneem het. Friedman het haar bekommernisse met Masutha bespreek, maar volgens die minister het sy geen beswaar gehad dat Barnard op parool vrygelaat word nie.

Barnard is op 4 Junie 1998 tot lewenslange tronkstraf gevonnis op verskeie aanklagte, insluitend moord, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en dwarsboming van die gereg. Barnard was ʼn agent van die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) en het op versoek van die BSB vir Webster op 1 Mei 1989 voor sy huis doodgeskiet. Die BSB het destyds aan Barnard gesê Webster was betrokke by terreurbedrywighede.

Barnard is ook skuldig bevind aan die moord op Francis en poging tot moord op wyle Dullah Omar, wat later ʼn kabinetsminister geword het.

Ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste mag ʼn gevangene wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir parool of dagparool oorweeg word wanneer die persoon 20 jaar of meer van sy vonnis uitgedien het. Die parool is onderworpe aan verskeie ander faktore, insluitend ʼn profielsamestelling en gedragsgeskiedenis van die gevangene.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat [Barnard] se vrylating op parool nie die einde van sy lewenslange vonnis beteken nie. Hy is oorgeplaas na die gemeenskap-korrektiewe kantoor wat ʼn oog op hom sal hou en hom sal monitor aangesien hy die res van sy vonnis vir die res van sy natuurlike lewe in die gemeenskap sal uitdien,” sê Masutha.

Barnard se paroolvoorwaardes sal voortdurend hersien word na gelang van sy gedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ou Johnny ·

Nou moet hulle sommer die sogenaamde Boeremag lede ook parool gee

Lindtjies ·

Dit lyk my dit hang af van wie jy doodgemaak het. As jy nou vir Chris Hanie doodgemaak het het jy vir ewig gesit sonder enige parool.

IK ·

Of die bomplanter van Magoo’s Bar dan het jy skotvry weggestap.

Phillie ·

Stem 200%saam Darby Lewis en Walus het minder “kwaad” gedoen maar politiek het eugene en ferdi gespaar want dit het anc trog vreter bevoordeel om teenkanting te verwyder

Gaitsigubib ·

Phillie waarvoor het Eugene amnestie gekry? Hy was tronk toe. Oor Ferdie sal ek liewer niks se nie. Om Peter Stiff aan te haal. …..(he is) “not a man to tango with”….. Mens kan eintik nie Walus en Barnard lekker vergelyk nie, vir baie redes, maar een is dat Ferdie in diens was van die staat. As hy moes sit dan moes PW Botha saam met hom gesit het. Ek is bly hulle laat hom gaan, al dink ek steeds……… he is not a man to tango with!

Genieve ·

Lindtjie lekker lag ek nou vir jou ja dis ook weer waar wat jy se neh.

Jare ·

Sê dan asseblief net mense gaan tronk toe ASSEBLIEF want regtig lewenslank verstaan ek is totdat jy jou laaste asem uitblaas. Moenie eers sê 5 of 3 of 30 jaar nie. Plein en reguit die oortreerder gaan tronk toe. So maklik.

Ja swaer ·

As ek die naam Ferdi Barnard hoor dan dink ek aan die spreekwoord van ‘hell hath no fury like a woman scorned’ . Hy het gaan sit vir 20 jr agv vroumense wat hom gesink het. En sy eie groot bek. Lewensles aan jong manne: moenie vroue agterlaat wat teen jou kan getuig nie

Ha ha ha ·

Jy bedoel seker nie vroue inlaat op jou bedrywighede nie

Nico Horn ·

Ferdi Barnard het vir Niel Webster koelbloedig doodgeskiet hoewel hy en Kalla Botha opdrag gehad het om hom net te monitor.
Webster was nie n lid van die SAKP nie en as n geswore pasifis het hy ook nie die gewapende stryd ondersteun nie.
Die BSB leierskorps is ook nie onskuldig nie. Barnard het voordat hy by die BSB aangesluit het, ook ‘n vonnis vir geweldsmisdade uitgedien. Hy was in die SAP toe hy die misdade gepleeg het. Die BSB het hom in die gevangenis gewerf.
Ek hoop mnr. Barnard is gereabiliteer en sal n wetsgehoorsame burger wees.

Nico Horn ·

Ferdi Barnard het vir Niel Webster koelbloedig doodgeskiet hoewel hy en Kalla Botha opdrag gehad het om hom net te monitor.
Webster was nie n lid van die SAKP nie en as n geswore pasifis het hy ook nie die gewapende stryd ondersteun nie.
Die BSB leierskorps is ook nie onskuldig nie. Barnard het voordat hy by die BSB aangesluit het, ook ‘n vonnis vir geweldsmisdade uitgedien. Hy was in die SAP toe hy die misdade gepleeg het. Die BSB het hom in die gevangenis gewerf.
Ek hoop mnr. Barnard is gereabiliteer en sal n wetsgehoorsame burger wees.

Johan ·

Ferdi alke sterkte vir jou. Miet net nooit weer n vrou vertrou nie

Carl ·

Stukkie humor: Ferdie het destyds homself so vas gelieg tydens kruisondervraging dat hy begin lag het en vir die staatsaanklaer spottende wyse gevra het; “Ag dr Torie Pretorius, gooi my net ‘n pointer, asb”. Ek is bly die boek kan nou ook toe gemaak word.

Willie ·

As hey geweet het, wat hy nou weet, sou hy dalk iemand anders gedooi het?

Cherokee ·

‘… sy vonnis uitgedien,’
Jy sê dit met ‘n toon in jou stem wat dit laat klink asof jy hom verdedig. Asof jy tronkstraf as genoegsame straf beskou vir die neem van ‘n lewe. Wanneer moordenaars vrygelaat word is hul slagoffers se kinders steeds wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.