Ferrari, Maserati-werknemer in hof oor bedrog

Die Viglietti Motors-tak in Roelandstraat, Kaapstad Foto: ferrari.co.za

Die Viglietti Motors-tak in Roelandstraat, Kaapstad Foto: ferrari.co.za

ʼn Voormalige verskepingsbestuurder van die Viglietti-motorgroep staan tereg op aanklagte van bedrog ter waarde van R2.9 miljoen.

James Sbusiso Xulu (37) het Dinsdag vir die eerste keer in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn.

Volgens die klagstaat is Vigletti Motors, wat in Roelandstraat in Kaapstad se middestad geleë is, die amptelike invoerder en agent vir luukse Ferrari en Maserati motors in Sub-Sahara-Afrika.

Xulu was aanvanklik in November 2009 verskepingsbestuurder by Viglietti Motors betrokke en is later as verskepingsbestuurder oorgeplaas na Market Demand Trading, ʼn maatskappy binne die Viglietti-groep. As verskepingsbestuurder was dit sy verantwoordelikheid om as toesighouer op te tree oor die invoere en uitvoere van Ferrari en Maserati-voertuie en onderdele van verskepingsverskaffers en klaringsagente. Hy het ook die groep se stelsel bestuur waar ingevoerde voertuie en -onderdele belastingvry gestoor kan word.

Staatsaanklaer Sipokazi Makanda voer aan dat Xulu, as ʼn verskepingsbestuurder, tussen 2011 en 2013 bedrae ter waarde van R2 955 043 uit die groep se Nedbank-rekening na sy privaat rekening by Standard Bank oorgeplaas het. Volgens Makanda het hy die deposito’s verbloem as betalings aan maatskappykrediteure.

Hy is nog nie gevra om te pleit op 34 aanklagte van bedrog, alternatief diefstal, nie. Hy moet op 9 Oktober weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Is hierdie “Masserati” dieselfde renmotor “Maserati” (met een ‘s’) wat ek wel van weet ?

Sune van Heerden ·

Dagsê Peet

Dankie dat jy ons op die fout gewys het, ons het die berig gewysig.
Ons het die persoon wat onder die skuilnaam “redakteur” kommentaar gelewer het, se kommentaar verwyder.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.