Fetus gesond ná operasie in baarmoeder

Prof. Ermos Nicolaou, ‘n verloskundige en ginekoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Morningside Mediclinic opereer op ‘n fetus in die baarmoeder. (Foto: Verskaf)

ʼn Fetus wat die afgelope naweek in die baarmoeder geopereer is om spinale snykunde te ondergaan, is gesond en alles is ook wel met die ma.

Prof. Ermos Nicolaou, ʼn verloskundige en ginekoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Morningside Mediclinic, en prof. Mike Belford, verbonde aan die Bayor College in Amerika, het die naweek dié operasie gelei. Dit was die eerste keer dat die tipe operasie – om ʼn fetus se spina bifida reg te stel – in Afrika gedoen is.

Die operasie wat in die Morningside Mediclinic, Johannesburg, gedoen is, het sowat 4,5 uur geduur. Dié delikate operasie is op ʼn fetus van 25 weke oud uitgevoer. Meer besonderhede oor die ma is nie bekendgemaak nie.

Nicolaou het gesê die ma is reeds uit die waakeenheid geskuif en die aanvanklik skandering wys die fetus ervaar geen stres nie en die hartklop is normaal. Indien alles goed verloop sal die ma teen die einde van die week ontslaan kan word.

Spina bifida is ʼn neurale buisdefek waarmee een uit elke 1 000 babas gebore word. Die lei tot erge neurologiese skade en permanente gebrek.

Nicolaou het gesê die betrokke pasiënt is tydens swangerskap geïdentifiseer en hulle kon ʼn ingeligte besluit neem oor wat om te doen. “Ouers kan kies om die swangerskap te beëindig, of om ʼn reeks operasies ná die tyd te ondergaan om dit te korrigeer, of om dié operasie te doen. Die in-utero-snykunde gee hulle ekstra opsies.”

Dié operasie help om die inflammatoriese proses te stop wat skade aan die senuwees veroorsaak. Indien dit suksesvol is, sal die baba later dalk net nog een operasie nodig hê. Die neuro-ontwikkelingsgebrek sal dalk ook nie so erg wees nie, het hy gesê.

Die operasie is gedoen met behulp van klein instrumente deur die baarmoederwand, deur middel van ʼn laparoskopie. Die span beplan om die operasies uit te brei na ander korrektiewe operasies in die baarmoeder, soos aan die hart, longe, blaas en niere. Dit sal egter net oorweeg word indien die probleem so erg is dat dit potensieel lewensgevaarlik is, of dit die fetus se dood kan veroorsaak.

  • Elsabé Brits is ‘n vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bolla ·

En wat van die swart dokter wat nou die dag ‘n wereld eerste (3D printing) oorbeen operasie gedoen het? Baie slim né?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.