Fetus-saak voor die hof gebring

voice-of-the-unborn-baby-1

Die drie direkteure van The Voice of The Unborn Baby: Nicci Coertze (Troosdoula), Renaldi Ingram (Prokureur) en Sonja Smith (Stigtingsdirekteur en Besturende Direkteur van Sonja Smith Funeral Group) Foto: Verskaf

ʼn Aansoek is by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om wetgewing te verander en wat ouers die reg sal gee om hul doodgebore fetusse, van onder 26 weke, te mag begrawe.

Dié saak is deur Sonja Smith, stigter van Voice of the Unborn Baby, en haar regspan voor die hof gebring. Volgens Smith sal hulle op 21 Junie vanjaar weer in die hof verskyn om te hoor of dié aansoek onbestrede is.

“Maandag teken ek die dokumente wat beteken gaan word op die minister van gesondheid en die minister van binnelandse sake. Hulle het dan 14 dae om te antwoord. Ons sal daarna hoor of die saak bestrede of onbestrede is,” sê Smith.

Volgens huidige wetgewing in Suid-Afrika word ʼn fetus wat voor 26 weke doodgebore word, as mediese afval beskou. Smith, wat ook besturende direkteur van Sonja Smith-begrafnisgroep is, beywer haar al agt jaar lank vir dié saak en meen die huidige wetgewing is argaïes en is nooit in ooreenstemming gebring met die Grondwet in 1996 nie.

“Niemand het destyds die moeite gedoen om aandag te gee aan dié saak nie. Ons doen dit vir die mammas en die babas wat dit ervaar het, en vir dié wat nog hierdie pad moet stap,” sê sy.

In die aansoek word ook gevra dat geen dokter vervolg mag word wat ouers die keuse bied oor wat met hul doodgebore “babas” se lyfies moet gebeur nie.

“Dit is so ʼn grys area in die wet, want ʼn dokter mag eintlik nie die kennisgewing van sterfte (BI663) onderteken vir fetusse wat voor 26 weke van gestasie doodgebore word nie. Voor 26 weke word dit as ʼn miskraam beskou en na 26 weke word dit ʼn ‘stilgeboorte’ genoem,” het Smith tydens ʼn onderhoud verlede jaar aan Maroela Media gesê.

Volgens haar moet ouers die keuse hê om afskeid te neem wanneer hulle ʼn baba verloor, ongeag die stadium van die swangerskap, want ʼn band word reeds van die begin van die swangerskap gevorm.

Lees die vorige onderhoud met Sonja Smith hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Vra maar net ·

Ek verstaan die emosie agter die beweging, maar is dit regtig die beste idee om verdere stremming te plaas op ons reeds oorvol begraafplase?

Mariette ·

Dis nou net so goed jy sê ons moet ophou kriminele vervolg want ons tronke is oorvol. Dit gaan oor reg en verkeerd en om te verwag ‘n ouer se BABA as mediese afval verbrand moet word omdat oer-oue wetgewing dit vereis is belaglik. Ek verstaan ook jou punt dat dit ‘n emosionele aangeleentheid is maar ek stem 100% saam met hulle poging.

zeno ·

Ek kon die wetgewing nog nooit aanvaar het nie, Op 26 weke lyk die fetus mos al soos `n klein mensie. Vir my is dit ook onaanvaarbaar,dit is baie traumaties vir die Ouers,ek weet waarvan ek praat.

LB S ·

Ek self het nooit ernstig hieroor gedink nie, maar noudat my seun en sy vroutjie ‘n baba verwag, sy is nou amper 26 weke, al was dit vroeëer, sou vir my ondenkbaar gewees het om te dink, as hulle die baba moes verloor, dat dit sommer as afval verbrand word, ons vlees en bloed! Nee, ek stem 100% saam dat dit die ouers se keuse moet wees.

Mariette ·

Ek wens hulle alle sterkte toe met die hofsaak en hoop dat hulle suksesvol sal wees!!!! Goeie werk.

Leo ·

Dit behoort elke ouer se keuse te wees wat hulle met die lyfie wil doen ongeag die stadium van swangerskap. Op 12 weke is handjies en voetjies reeds ten volle ontwikkel en klop daar alreeds van so vroeg as 8 weke af ‘n hartjie. Dit is dus nie mediese afval nie. Goeie werk Sonja, ek hoop van harte jy behaal sukses hiermee, want dis sal ander Mammas en Pappas wat hierdie seer moes beleef voor 26 weke die kans gun om afskeid te neem op ‘n menswaardige wyse.

Absoluut ·

Absoluut Leo, elke ouer meot die keuse, dankie vir hierdie vroue se baanbrekerswerk.

Arsène Lupin ·

Ek sal ooknie daarvan hou as daar na my ongebore baba verwys moet word as mediese afval nie! Ek dink dat dit die ouer se reg is om te besluit wat met die liggaampie moet gebeur. As dit “healing” sal bring, dan hoekom die mense verhoed om babatjie te begrawe of te veras.

snoefie ·

ek weet van iemand wie drie babas op sestien weke verloor het. sy was met die derde een “by”. hulle het gevra of hulle die baba mag kry om te begrawe en dit gekry. maar dit was natuurlik by n private hospitaal. maar sterkte. dis in elk geval in alle stadiums n mensie.

Lies ·

Hoe kan hulle se voor 26 weke is dit mediese afval?? Ons niggie is 6 maande gelede op 23 weke gebore en sy leef. So waar krap hulle die term afval uit?

Marna ·

Vreeslik baie dankie vir wat julle doen. Ek wou so graag my 17weke baba begrawe het, maar moet nou saam met die gewete leef dat hy iewers op ashoop gegooi en verbrand is. Ek hou duim vas julle wen!!!

Cherokee ·

Jy leef nie met die gewete nie maar met die wete, Marna.

Amanda ·

Ek is tans 27 weke swanger en voel my baba elke dag. Enige persoon wat baba bv op 24 weke verloor het ook daai lewe gevoel. Hoe kan hul se dit is afval. Die hart het geklop en daar was lewe. Ek kan nie eers die hartseer indink vir iemand wat so van hul kind moet afskeid neem. Nee dit is darem nie reg. Elke ouer het die reg om hul baba te begrawe, maak nie saak hoe klein nie.

Ondersteuner: Voice of the unborn baby ·

Om geboorte te gee aan ‘n baba wat reeds dood is, is iets wat by mens bly vir altyd. Om te weet die kleinding wat mens met jou lewe sou beskerm sterf binne mens is onbeskryflik pynlik. En om te sien hoe daardie klein lyfie van 20 weke sommer voor jou in ‘n vullis houer gegooi word is traumaties. Dankie, Sonja Smith vir dit wat jy en jou span doen.

nicci.doula ·

Baie dankie vir almal se positiewe terugvoer. Ons saak gaan daaroor om vir ouers ‘n KEUSE te gee oor wat met hulle babas (fetusse) gebeur. Die feit dat hulle NIE ‘n keuse het nie is ‘n skending van 3 basiese Menseregte volgens ons grondwet! Vir meer info besoek asb. http://www.facebook.com/voiceoftheunbornbaby

NS: Meeste van hierdie ouers verkies verassing en ‘n klein nissie, so ek glo darem nie oorvol begraafplase gaan ‘n reuse probleem vir hierdie ou klein lyfies wees nie.

nicci.doula (www.facebook.com/nicci.doula)

Reneo ·

Ek sou ook graag my eie keuse wou maak.
Mens vergeet nooit!

Paperdoll ·

Baie dankie vir die goeie werk wat jule doen Sonja Smith en span. Sterkte met die saak.

John ·

Die kwessie hou direk verband met die regte vir ‘n aborsie. Diegene wat afdrywing wil pleeg se regte is gevolglik groter as by miskrame. Indien bogenoemde versoek toegestaan word, word erken dat ‘n fetus ‘n volwaardige mensie is, wat die wet op aborsie tans misken. Syfers oor aborsies is skokkend en dit terwyl geboortebeperkingsmiddels beskikbaar is. Mans in Afrika besluit glo meestal of ‘n vrou geboortebeperkingsmiddels mag gebruik of nie (99% nie) wat weer glo verband hou met hul viriliteit (mag/grootheidswaan?), maar in watter mate hulle aandring op aborsies is onduidelik. Om ouers wat ‘n baba vroeg verloor te straf en nie ‘n keuse te laat oor ‘n begrafnis na so ‘n hartseergebeurtenis nie, is koudbloedig. Miskien moet foto’s van sulke reeds mensies gepubliseer word, sodat die realiteit kan insink. Wie van ons het nou meer reg op ‘n lappie grond, as ‘n ander? Daar is vroue wat nooit weer swanger kan raak nie en moet dan saamleef met die gedagte van blote hospitaal-afval vir die enigste nasaat.

nicci.doula ·

Hi John, dankie vir jou inset. Ek wil dit net baie duidelik maak dat the Voice of the Unborn Baby gaan oor OUERS se reg om te besluit. Maar ek stem 100% saam met jou: Daar is soveel vrouens wat seer het agv miskraam wat nooit weer kan swanger raak nie en dan word hulle ‘babas’ pre-26 weke weggegooi as mediese afval. Daar is foto’s van hierdie engeltjies op my FB blad: http://www.facebook.com/nicci.doula . Baie dankie vir almal se ondersteuning. Ons hofsaak teen die Staat kom op 21 Junie 2017 voor in die Pretoria se Hooggeregshof.
Groete!
Nicci Coertze (Direkteur: Voice of the Unborn Baby)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.