Fica-wet goedgekeur; LP’s maan Zuma om te teken

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

LP’s van opposisiepartye het pres. Jacob Zuma Dinsdag gemaan om die Wysigingswetsontwerp op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) onmiddellik te teken.

Dit kom nadat die Nasionale Vergadering klein veranderings daaraan aangebring het omdat Zuma bekommerd was dat dit moontlik ongrondwetlik kan wees en dit toe deur alle partye aanvaar is.

Steve Swart, LP van die ACDP, het daarop gewys dit is al jare sedert die regering die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting hersien het nadat Zuma dit teruggestuur het na die wetgewer en hulle wag steeds vir sy handtekening.

Swart het gesê dit maak nie saak of ʼn mens saamstem met die sogenaamde muilbandwet of nie. “Dieselfde situasie kan homself nie nou herhaal met die Fica-wetsontwerp nie. Dit sal die soeklig op die transaksies van polities invloedryke mense plaas,” het Swart gesê.

Swart het gesê die staandekomitee oor finansies het afdeling 45 van die Fica-wetsontwerp hersien nadat Zuma sy kommer oor dié gedeelte uitgespreek het. Daar was druk om die wetsontwerp te finaliseer voordat die finansiële aksie- taakmag vergader.

Die tesourie het gewaarsku dat sou daar nie aan dié liggaam se standaarde voldoen word nie, dit die finansiële reguleerder se geloofwaardigheid in twyfel kan trek en ʼn verhoogde koste vir transaksies tot gevolg sal hê.

Tydens die hersieningsproses het die prokureurs Ishmael Semenya en Jeremy Gauntlett gesê die wet is wel grondwetlik omdat deursoekings sonder ʼn lasbrief slegs rakelings voorgeskryf word in afdeling 45. Gauntlett het voorgestel dat daar slegs aan die bewoording verander moet word om dit duideliker te stel.

Zuma het sy kommer uitgespreek oor die wyse waarop die wet voorsiening maak vir deursoekings sonder lasbriewe. Hy het gesê dit strook nie met die Grondwet nie. Hy het egter nie ʼn regsopinie aangeheg toe hy die wet terugstuur vir hersiening nie.

Floyd Shivambu, EFF-LP, het gesê dit is duidelik dat die hele proses onnodig was en net daargestel is om Zuma se persoonlike bates te beskerm. “Dit is net omdat die Guptas gesê het die wet moet nie geteken word nie. Daar moet ʼn tydraamwerk gegee word vir Zuma om die wet te teken,” het Shivambu gesê.

Nqabayomzi Kwankwa, UDM-LP, het verder gegaan en gesê Zuma het die wet vir ses maande op sy lessenaar laat lê om “al die geld in sy banrekening rond te skuif”. “Dis is loutere onsin, selfs al is hy die president. Jy is ʼn leier wat die plundering van openbare hulpbronne fasiliteer,” het hy Zuma toegesnou.

Zuma kom te staan voor twee keuses. Hy kan óf die wet teken (die weergawe wat Dinsdag in die Nasionale Vergadering goedgekeur is) óf hy kan die kwessie na die grondwethof toe neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Slim is die man beslis nie; MAAR; hys als behalwe dom! Hy weet presies wat om te doen en NIE te doen om sy eie bas te red en los te kom en los te bly met sy vergrype! Ekt n nuwe teorie…wat as sy domastrantheid JUIS deel is van die ANC se strategie om absurdhede na te streef? M.a.w die sg ANTI ZUMA kamp is niks anders as n rookskerm nie?

zoom zoom ·

Zuma het sekerlik nie die dokument gelees nie. Sy Gupta vriende se prokereurs het dit dalk gelees.

zahn ·

Moet nooit die fout maak om te dink nambawan is dom nie. Hy is ‘n opperste skelm, en daarvoor het jy breins nodig. Waar hy weet hy tekortkom, het hy sy eie raadgewers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.