Fica: ‘Zuma se geldsake moet eerste ondersoek word’

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

“Noudat pres. Zuma die Wysigingswetsontwerp op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) onderteken het, moet sy geldsake eerste ondersoek word.”

Só meen dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, nadat Zuma die wet bekragtig het. “Die ondertekening is nie goeie nuus vir Zuma en sy vriende wat deel is van die staatskaping nie. Dit is duidelik dat Zuma alles in sy vermoë gedoen het om die ondertekening so lank moontlik te vertraag en hy moes weereens eers deur ʼn hofaansoek gedreig word.”

Die wet is ʼn poging om geldwassery te bekamp en sal banke verplig om die finansiële sake van prominente mense te fynkam. Die wet maak onder meer voorsiening vir soektogte sonder ʼn lasbrief.

“Hierdie Fica-wysingswetsontwerp het ten doel om toonaangewende politici en mense se geldsake te laat ondersoek om sodoende verdagte transaksies, geldwassery en die finansiering van terrorisme te beveg.

“Die Vryheidsfront Plus verwelkom die ondertekening en alle kabinetslede se geldsake behoort ook ondersoek te word sodat belastingbetalers verseker kan wees staatskaping word vasgevat,” het Groenewald gesê.

Die DA het intussen gesê daar is ʼn risiko dat Malusi Gigaba, minister van finansies, die inwerkingstelling van die Fica-wet kan vertraag.

David Maynier, woordvoerder van die DA, het gesê die wet word van krag op die datum soos deur die minister besluit en in die Staatskoerant afgekondig word.

Maynier het gesê daar is ook kommer oor of die Finansiële Intelligensiesentrum, wat ʼn begroting van R289 miljoen vir 2017-’18 het, die nodige hulpbronne het om die wysigingswetsontwerp doeltreffend in werking te kan stel.

“Die minister sal sonder twyfel onder politieke druk verkeer om die toepassing van die wet te vertraag om sy politieke meesters, naamlik die Guptas, te beskerm. Die minister moet dus daadwerklik optree en duidelike tydsraamwerke uiteensit vir die inwerkingstelling van die wet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dissie ·

So voel ons almal, Pieter! Natuurlik sal alles mos nou in orde wees… So, wat is die punt?

pieter ellis ·

Verseker kan ons verwag dat Gigaba die inwerkingstelling tot op die laaste sekonde sal vertraag. Dit sal glad nie in enige Zumanoid se belang wees om die wet in werking stel nie. Verwag maar dat Gigaba, in opdrag van die Zupta kamp, Stallingrad regstaktiek sal inspan.

JV ·

Zumanoid, Zupta kamp, Stalingrag regstaktiek – trefwoorde wat meermale gebruik kan word.

Anoniem ·

Ek wil voorstel dat die Guptas tweede ondersoek word, en ons agbare minister van finansies derde.

CHRISTA ·

Ek wil voorstel – ondersoek hulle gelyktydig. Die Finansiële Intelligensiesentrum het seker meer as een span wat aan hierdie sake werk, of hoe?

John ·

Ons hoop te vinnig. Daar moet ‘n plan in plek wees anders sou ons vrome president nie geteken het nie; een wat hom en sy loodsvisse sou beskerm. Met die reserwebank, finansies en Sars in sy hande en daarmee saam ‘n nuwe eie bank waarin slinkses dambord kan speel sonder reels, gaan die roekeloses voortwoed. As jy een rot sien is daar reeds ‘n hele kolonie iewers aan’t knaag. Een van die planne is om ons privaatbankstelsels inneen te laat stort. Hoe? Dink.

3s4e ·

Ek sal daar gaan werk @ 10% kommissie op alles wat ek oopvlek.

CHRISTA ·

Magtag!! Jy wil nou skielik ryker as die superrykes in ons land word!!! hahaha!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Te Laat! Zuma het alles onder beheer en uitgevee wat uitgevee moes word. En al sy loodsvisse (soos iemand hul voorheen genoem het) is besig om hul beskerming uit te voer …. ……. natuurlik teen ‘n betaling. Met hierdie klomp skelmkriminele sal jy ALTYD mosterd na die maal wees. Kyk na al die laaste buitelandse aanstellings bv die ambassadeur na Japan. Niks kan hierdie kriminele stop/stuit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.