Ficksburg-plaasaanval: ‘Ek sou by die huis gewees het’

Arend Corbett en sy vrou, Sanette. Foto: Facebook

Sanette Corbett, die vrou van Arend Corbett (26) wat Donderdag drie keer in die gesig geskiet is nadat hy en ʼn plaaswerker deur vyf mans op ʼn plaas in Ficksburg in die Vrystaat aangeval is, sou die betrokke dag voor Arend op die plaas aangekom het as dit nie vir ʼn telefoonoproep was nie.

Sanette het in ʼn Facebook-inskrywing vertel hoe haar broer haar toevallig daardie middag gebel en gepraat het oor hoe hulle hul veiligheid op die plaas kan opskerp en hoe sy moet optree as hulle dalk aangeval sou word.

“Ek was Donderdagmiddag klaar met werk en reeds 15:40 op pad om te ry. Ek sou voor 17:00 reeds by die huis gewees het. Ek het in my kantoor gebly tot ek klaar [met my broer] gepraat het en toe in my kar geklim op pad Ficksburg toe. As my boetie my nie op daardie oomblik gebel het nie, was ek Donderdag voor Arend by die huis gewees.”
Arend het volgens Sanette net ná 17:00 by die huis gekom met ʼn traliehek agterop die bakkie wat hy by hul voordeur wou installeer.

“Mense sê baie dat ons meer paraat en voorbereid moes gewees het … en ek was tot Donderdag een van daardie mense wat altyd kritiek kon lewer dat mense hul wapens by hulle moet dra. Maar Arend sê hy het gesien Sokkies (ons skaaphond) het vreeslik vir iets geblaf en voor hy enigsins kon reageer, het een man met ʼn rewolwer teen sy kop kom staan en vier agter hom met messe, pype en knopkieries in hul hande.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn struweling het tussen die aanvallers en Arend en Lenyara Thsotetsi, ʼn plaaswerker en vriend van Arend, ontstaan. Arend is in die proses drie keer geskiet. Arend en Thsotetsi is ook albei met messe gesteek en met knopkieries geslaan. Thsotetsi kon daarin slaag om weg te hardloop om hulp te ontbied en die aanvallers het op die vlug geslaan.

Karien Collett, woordvoerder van die Mediclinic Hoogland in Bethlehem waar Arend behandel word, het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan tans baie goed met Arend. “Hy is Saterdagmiddag [vanaf die waakeenheid] na ʼn algemene sjirurgiese saal oorgeplaas. Hy stap hier in die hospitaal rond en maak vriende met almal. Al sy dreineringspype is ook uitgehaal. Hy het ʼn baie groot ondersteuningsnetwerk.”

Sy het gesê die swelling in Arend se gesig moet eers verder sak en die omvang van dié besering bepaal word voor daar ʼn besluit oor sy vergruisde wangbeen geneem kan word. Dit is nog nie duidelik wanneer Arend ontslaan sal word nie.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê daar is nog nie sedert Donderdag meer verdagtes in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Maroela Media het vroeër berig twee verdagtes is kort ná die aanval vasgetrek. Hulle was erg beseer toe hulle deur boere in die omgewing aan die polisie uitgelewer is.

Een van die verdagtes het later in die hospitaal gesterf. Mbambo het gesê die tweede verdagte sterk steeds aan in die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willie ·

By al die tragedie nog so baie om voor dankbaar te wees! Spoedige herstel word hom toe gebid!

Tienie ·

Baie sterkte met die herstelproses! Die engele van die Here was met jou!

bgj van der westhuizen ·

hoop hy kom reg en raak gesond boere en wit mense wat in die dorp / stad bly en daar is nog baie wat glo dit is vielig kom en begin om julle huise te bevielig en veral die ou mense wat almal glo daar is geen kwaad in mense nie jou makste hond byt die seerste

Willie ·

Baie sterkte, dank die Heer jy lewe… Dis skokkend hoe uitgelewer is die werkende klas in die land… Hier is definitief n derde mag in die land, wat onder toesig so moor…

Louise ·

Hoop net nie die boere word nou aangekla oor die beweerde beserings, voor die varke oorhandig was aan die polisie nie.
Sterkte aan julle so dankbaar hy leef!

Theresa ·

Die eerste stap met sulke moordenaars moet wees om GEEN hospitalisasie beskikbaar te stel nie. As jy moor, moet daar nie hulp vir jou gegee word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.