Ficksburg-plaasaanval: ‘Groot genade het my kind gered’

Arend Corbett. Foto: Verskaf.

Elsa Corbett se seun, Arend (26), is drie keer in die gesig geskiet nadat hy en ʼn plaaswerker deur vyf mans op ʼn plaas in Ficksburg in die Vrystaat aangeval is.

Corbett het gesê dit is “groot genade” wat haar kind lewend gehou het. Die voorval het omstreeks 16:30 Donderdag plaasgevind toe Arend, die plaasbestuurder, saam met Lenyara Thsotetsi, ʼn plaaswerker en vriend, huis toe gery het om onderdele te gaan oplaai.

“Hy het net voor die motorhuis stilgehou en die deur oopgemaak toe sy hond, Sokkies, ongelooflik begin blaf. Volgens hom het hy net opgekyk om te sien wat is aan’t gebeur, toe kyk hy in ʼn vuurwapen vas,” het sy vertel.

Volgens Corbett het die vyf aanvallers vir Arend gesê om op sy maag te lê en om sy lewe te smeek. “Hy het op sy knieë neergesak en die wapen was hier om en by ooghoogte. Hy het die geleentheid aangegryp om die man wat die geweer vashou te oorrompel. In die struweling is daar vyf skote afgevuur.”

Corbett sê Thsotetsi het ook uitgespring en teen die aanvallers begin veg. “Sokkies het hulle ook gebyt en weg van Arend af probeer trek.” Arend kon daarin slaag om die vuurwapen by een van die aanvallers af te neem en het dit op hulle gerig en die sneller getrek.

“Daar het nie ʼn skoot afgegaan nie. Hulle het uiteraard nie geweet daar sal nie ʼn skoot afgaan nie en het op die vlug geslaan ná Arend een van hulle met die geweer geslaan het,” het Corbett vertel.

Arend is drie keer in die gesig geskiet. “Die een skoot is by sy mond in en by sy wang uit, sy wangbeen is vergruis. Die ander skoot is so onder sy neus in en by sy slaap uit. Die ander skoot is ook tussen sy mond en neus in. Sy een tand is uit en sy gesig is verskriklik geswel, hy lyk nie goed nie.”

Arend en Thsotetsi is albei met messe gesteek en met knopkieries geslaan. “Thsotetsi het met die meswonde aan sy knieë en hande gehardloop om hulp te ontbied. Arend het oor die radio in sy bakkie geroep om hulp. ʼn Klomp mans van die omgewing het agter die aanvallers aangehardloop en kon daarin slaag om twee verdagtes vas te trek.”

ʼn Nooddienshelikopter neem Corbett na ‘n hospitaal. Foto: Verskaf

Arend het meswonde aan sy onderarmholtes en in sy sy. Maroela Media het vroeër berig een verdagte is in ʼn hospitaal dood.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte was een van twee verdagtes wat erg beseer was toe hulle deur boere in die omgewing aan die polisie oorhandig is. Die twee verdagtes is na die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem geneem, waar een van hulle aan sy beserings beswyk het. Die ander een is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Arend is tans nog in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Bethlehem nadat hy Donderdagaand daarheen gehaas is. Corbett vertel hulle het omstreeks 17:45 met hom by die hospitaal geland waarna hy lank in die teater was.

“Die dokters het gesê hulle sal vir hom ʼn plastiekwangbeen inplant en dat daar baie planne is wat hulle kan maak. Ek het ook vir Arend gesê hy moet van hierdie aanval getuig. Hy sê vir my God het saam met hom daar baklei. My kind is fiks en sterk, maar hy is nie ʼn groot man nie en daar is nie ʼn manier waarop hy vyf gewapende mans sou kon afweer nie. Ons wil getuig van die Here se teenwoordigheid.”

Arend Corbett en sy vrou, Sanette. Foto: Facebook

Corbett vertel dat sy gisteraand meer as 400 SMS’e op haar foon gehad het. “Ons het nie ʼn oog toegemaak soos mense gebel het nie. Dit is ongelooflik.” Arend is in Mei vanjaar met sy vrou, Sanette, getroud.

Volgens Corbett vra Arend heeltyd hoe dit met Thsotetsi gaan. Hy word tans in ʼn ander hospitaal behandel. Volgens haar is niks gesteel tydens die aanval nie, selfs sy beursie het op die grond gelê en die bakkie se sleutel was nog in die aanskakelaar.

“Ons is alle dank aan die Here verskuldig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Daan ·

Die Polisie gaan ‘n konstabel die plaasaanval laat ondersoek. En ‘n span van 10 van die Valke stuur om die “wrede boere” wat die arme onskuldige aanvalle se dood te ondersoek.

Lienkie ·

Jou naam Arend sê alles, jy het dapper geveg en ek stem saam met jou ouers dat God se teenwordigheid daar was en nog steeds daar is. Mag jy volkome herstel, en sterkte vir jou en jou familie.

Sandra ·

Arend jy en Thotetsi was baie dapper om julle self te verdedig en met genade van die Here het julle NOG n plaas aanval, deur lafaards oorleef.

Andrea ·

Sulke dapper jong manne en hond! Mooi so! Dankie Here vir U genade!

Wow ·

Wow so dankbaar vir jul lewens wat gespaar is en dat jul bietjie kan deel wat tydens hierdie aanvalle gebeur. Julle is egter gelukkig, dit is nie altyd so maklik. Sterkte aan hierdie wonderlike plaaswerker.

Lee Randburg ·

Ag dis wonderlike nuus dat Corbett aan die herstel is!! Wat n lieflike plaas!!

Lee ·

Ai dis verskriklik. Regte lafaards wat 5 op eenslag toeslaan. Sterkte aan Arend en Thsotetsi. Word gou gesond.

Staan by ·

Arend,,,,dankie tog, boere baie geluk en baie dankie. Arend,,,jys i slagyster nes jou pa…..stil, ordentlik, geduldig toe iemand op jou trap. Baie voorspoed. Boere,,,,,gaan ons die 25ste pretoria toe? Man of muis?

Sterretjie ·

Baie sterkte!!! God is groot….en krag in gebed. Volkome herstel vir julle.

Dina ·

Medaljes vir twee dapper manne en Sokkies! So dankbaar julle lewe.

WARRIOR ·

Ek is ook in my gesig geskiet, die koel het my hoofslagaar met 2mm gemis. My hele lewe is n getuienis. “GENADE ONBESKRYFLIK GROOT”. Hou vas aan “JESUS” ek bid vir julle☝

Erig ·

Eks baie bly om te hoor dat die jong man terug geveg het en ek bid dat hy sal herstel. Ek lees dalk te veel in die saak in maar dit pla my baie dat hy in sy sy en arm holtes gesteek is. As die aanvalers geen ervaring gehad het nie en net die mes geswaai en steek het sou die wonde aan sy arms gewees het. Hulle moes tot teen hom druk en hom “shank”.

PJC ·

Dit is goed om te weet dat daar nog sulke dapper en vreeslose jong mans in ons land is. Mag hy spoedig ten volle herstel.

Marika Liversage ·

Efes.6 – “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug.” Hierdie is ‘n pragtige bewys van God se groot genade en beskerming in oomblikke van nood. Kameraadskap oor kleurgrense heen en tussen mens en dier om die bose te oorwin, met die ingryping van God. Wat ‘n wonderlike getuienis van eenheid met ons Meester, Skepper Here in beheer. My gebed is vir volkome genesing na liggaam en siel vir beide Arend en Thsotetsi en klein Sokkies. Mag die Here julle en julle geliefdes se geloof versterk deur hierdie voorval en mag Sy Naam altyd geloof word op julle lippe. Mag die voorval julle nog meer vasberade maak om Sy liefde en eenheid te versprei oor kleurgrense heen. Want die slegte word net deur die goeie oorwin en haat deur die liefde, nie deur kwaad met kwaad te vergeld nie. 1 Kor 13: “Nou bly slegs die 3 dinge oor: Geloof, hoop en liefde en die grootste hiervan is die liefde.” Ek bid vir liefde en eenheid in die Here ons God, om ons land en sy mense weer blink te poets en ons ‘n trotse nasie te kan maak, wat nie in ons self nie maar in die Here roem. Amen.

Jacques ·

Ek verstaan nie. Hoeveel keer meer moet daar berig word oor die plaag van plaas aanvalle en moorde voor die boere wakker skrik en n vuurwapen aanskaf wat hulle op hul lyf dra? Rerig!?..jy dink daaraan om n hek aan te bring maar nie om n wapen op jou te dra om onmiddelik te kan optree en jouself en jou plaaswerkers te kan verdedig? In watter leuen klou hulle vas?…”Ag, dit sal mos nie met my gebeur nie?”..word verdomp wakker man. Met die passie in my vir die veiligheid van ons boerdery gemeenskappe maak dit my ewe kwaad as die boere maar net aan ploeter en hul veiligheid aan die staat oorlaat of sommer net die realiteit ignoreer….

JOHN COX ·

GOD IS GROOT–MAAK NIE SIN
IS GOD DAN NET GROOT AS IEMAND OORLEEF HET?
IS GOD DAN KLEIN TOE DIE SOWAT 2000+ GEMARTEL EN GESTERF HET?
SKRIK WAKKER MENSE , GOD SE WETTE VAN DIE NATUUR SAL ATYD MET ONS WEES
BID VIR KRAG EN VEG TOT JY WEN

Leeutjie ·

En so gaan God ons beskerm. Na Maandag se gebede is Hy met ons. Ek glimlag van or tot oor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.