Ficksburg-seun tydens huisroof geskiet

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie is op soek na twee verdagtes wat Saterdagaand ʼn gesin in hul huis in Ficksburg in die Vrystaat oorval het en kort daarna glo ook ʼn vulstasie in die omgewing beroof het.

Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê twee mans het  omstreeks 22:00 by die huis in Erweestraat ingebreek deur ʼn slot by die voorste skuifdeur oop te breek.

“Die verdagtes is na die kamer van die slagoffers se 21-jarige seun. Hulle het ʼn geweer op hom gerig en aangedring op geld,” het Dhlamini gesê. “Die verdagtes het die seun in sy been geskiet. Sy ouers het gaan ondersoek instel waarna die verdagtes gevlug het sonder om iets te steel.”

Die seun is na die Phuthulaha-hospitaal geneem vir behandeling.

“ʼn Vulstasie naby die Ficksburg-grenspos is ʼn uur daarna deur twee verdagtes beroof. Die mans het swart sykouse oor hul kop getrek. Een was gewapen met ʼn 9 mm-pistool. Hy het ʼn vuurwapen op die kassier gerig en op geld aangedring, waarna hulle te voet gevlug het met ʼn onbekende hoeveelheid kontant,” het Dhlamini bygevoeg.

Hy het gesê in albei gevalle het ooggetuies dieselfde beskrywing van die verdagtes gegee. “Albei verdagtes is kort en skraal gebou en het ʼn donker gelaat. Hulle het grys sweetpakbaadjies gedra en hul gesig bedek.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende sakeroof en poging tot moord.

Die polisie het ʼn beroep op mense gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Die speurders van die Ficksburg-polisiestasie kan by 083 745 6729 gebel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jean ·

Donker gelaat huh? Jul meen swart in gewone taal ne…maak meer sin. Te poets en preets as jy my vra..

CHRISTA ·

Vang hulle gou, dan is dit 2 minder kriminele op straat!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.