‘Ficksburg-skieter’ dalk gou in hof

Evan Sorour (28). (Foto: Instagram)

Die man wat tereg staan op die moord van Evan Sorour, ʼn boer van Ficksburg in die Vrystaat, sal na verwagting volgende week sy eerste hofverskyning maak.

Die verdagte, wie se naam aan Maroela Media bekend is, is egter meer as ʼn maand ná die skietvoorval steeds in die hospitaal en die hofverskyning sal óf in persoon óf in absentia geskied.

AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die verdagte op 24 Februarie in die landdroshof in Ficksburg moet verskyn.

“Hy het nog nie sy eerste verskyning gemaak nie aangesien hy steeds in die hospitaal is,” sê hy.

Die man is onder polisiebewaking in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem en verdere stappe sal gedoen word sodra hy ontslaan is.

Die verdagte is verlede maand by die hospitaal opgeneem nadat Sorour kort voor sy dood hom in die heup geskiet het.

Maroela Media het vroeër berig dat Sorour op 8 Januarie glo vyf keer deur ʼn buurman (die verdagte) geskiet is en op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk het. Sorour se pa, Reuter, is glo erg deur die verdagte aangerand.

Die skietery spruit uit ʼn beweerde geskil oor vee wat ʼn heining beskadig het, maar volgens familievriende van die slagoffers besit die verdagte nie eens vee of selfs die plaas waar die voorval plaasgevind het nie.

Sorour se geliefdes het intussen ʼn aanlyn en geskrewe versoekskrif van stapel gestuur in die hoop dat die verdagte se komende borgtogaansoek van die hand gewys word. Meer as 200 mense het reeds die geskrewe versoekskrif onderteken, terwyl meer as 9 800 die aanlyn weergawe onderteken het.

“Hou asseblief ons gemeenskap veilig deur om hom van die strate af te hou terwyl die betrokke sake onderweg is,” lui die geskrewe versoekskrif.

Sorour se swaer, Donovan O’Neale, het ook intussen ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur.

“Ons hoop om teen 30 Junie sowat R2 miljoen in te samel wat ons in staat sal stel om namens sy [Sorour se familie] en die boeregemeenskap in Ficksburg die verdagte in die hof te daag,” lui O’Neale se inskrywing oor die veldtog.

“Hulle [Sorour se familie] verdien die beste moontlike regshulp en, indien nodig, ʼn private ondersoek na die voorval sodat geregtigheid vir Evan sal geskied.”

Meer as R90 000 is reeds aan hierdie veldtog geskenk.

Die verdagte het na bewering ʼn geskiedenis van geweld en moet juis enkele dae voor sy hofverskyning vir die moord op Sorour vir ʼn afsonderlike aanrandingsvoorval in die hof verskyn.

Morgan Barrett, ʼn noue vriend van die Sorours, het in Augustus verlede jaar ʼn saak teen die verdagte aanhangig gemaak nadat dié en van sy vriende glo vir Barrett en ander mense by die plaaslike gholfklub aangerand het.

Volgens Barrett se vrou, Toni, sal dié saak op 20 Februarie voortgesit word.

“Ons is onseker wat op die dag gaan gebeur omdat hy [die verdagte] nog in die hospitaal is en dalk nie sal kan verskyn nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Roek ·

Waarom nie in ‘n staats hospitaal nie , het hul dan geen vertroue in hul eie gesondheids sorg nie , wereens vir ons rekening !!!

andre ·

Nie so nie, in n staatshospitaal betaal ons sy onkoste. Mediclinic is n privaat hospitaal, hyself of sy mediese fonds betaal

Renier ·

Sy naam was telke male al in die media, nou will MM skielik die reels volg.

Niklaas ·

Ek dink nie ek sal op vakansie wil gaan met hierdie verdagte , wat nou lê in die hospitaal nie.

Nettie ·

‘n Maand in die hospitaal? Onder polisiebewaking? Sjoe. Is dit baie gemeen van my om so effens te voel “lekker, kry vir jou”, omdat hy net ‘n bietjie van die pyn van die Pa, seun en familie voel? Want duidelik het die skoot in die heup groot skade en probleme veroorsaak as hy ‘n maand lank in die hospitaal al is. Ek wonder of die dokters soms, net soms, kyk na die dosis vir pynmedikasie en net lus voel om dit so titseltjie minder te maak….. ek neem aan hulle is profesioneel en nie so gemeen soos ek nie! ;-)

Duck ·

Daar is altyd twee kante van ‘n storie, ek sal nogal daarvan hou om die “ander kant” te hoor.

Nico ·

Wie is die beskuldigde in hierdie saak, hoekom is Maroela Media nou so geheimsinnig, wie is die persoon, gee sy naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.