Fietse lei polisie tot nog lykies

Foto: Facebook

Foto: Facebook

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen nadat drie jong seuns Maandagmiddag in die Paddadam by Vryheid in KwaZulu-Natal verdrink het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie seuns het omstreeks 16:30 in die dam gaan swem en al drie het verdrink. Die drie liggame is later deur die polisie se soek-en-reddingseenheid uit die water gehaal.

Maroela Media verneem ʼn verbyganger het een van die seuns se liggaam in die water sien dryf en hulp ontbied. Die drie fietse langs die dam het reddingswerkers ʼn aanduiding gegee dat daar nog kinders in die water moes wees.

ʼn Inwoner het op ʼn Facebook-groep vir die Vryheid-gemeenskap vertel dat hy gesien het hoe die drie seuns in die water baljaar voordat hy net voor 16:00 by die dam weg is. Iemand het glo die seuns gewaarsku dat die dam diep is.

Kobus Joubert, ʼn lid van die beheerliggaam van die Nuwe Republiek Primary School, het aan Maroela Media gesê dat ʼn personeellid van die skool Maandag na die dam ontbied is om die kinders uit te ken. Hy het gesê een van die kinders, ʼn agtjarige seun, was ʼn leerder aan die skool. Dit is nie duidelik hoe oud die ander twee seuns was of in watter skool hulle was nie.

Zwane wou nie onmiddellik die name van die seuns bekendmaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

rudolph germishuys ·

My vraag is altyd, waar is hulle ma en pa. 8 jaar oud sonder toesig by n dam.

Paula ·

Nie almal kan dit bekostig om hul kinders in nasorg sentrums te sit nie. Heel moontlik werk die mamma en pappa en die kind moet maar noodgedwonge met sy fiets skool toe en huistoe ry.
Kinders volg soms hulle eie koppe en het seker warm gekry en besluit om gou by die dam te stop voordat hul huistoe gaan. Sterkte aan die gesinne.

Kobus 4e ·

Ai Rudolph, “hind sight” is n lat wat gereeld gepluk word. Het jou ouers geweet waar jy elke minuut van elke dag was? Het jy en jou maters gaan swem, al het jou ma/pa gese julle mag nie?
Net more kla ons weer die kinders sit die heeldag in die huis.

Swem? ·

Nou is die groot vraag: kon die kinders swem? Indien wel dan het hier iets ongewoons gebeur. Ons het as kinders gereeld in plaasdamme en kuile van spruite geswem. Oppas net vir stukke draad en takke wat jou onderwater kan vaskeer.
Sterkte aan die ouers in hierdie tragedie met kinders wat tog ook aan die jong kant blyk te wees om alleen te swem.

Tarina Marais ·

Hierdie is so ‘n tragiese insident vir ons gemeenskap hier op Vryheid. Ek kan my net voorstel dat hulle mekaar probeer help het toe hulle in die moeilikheid geraak het, en al drie het verdrink. Dit is vreeslik hartseer en ons harte gaan uit na die ouers van hierdie drie jong kinders. Ons dorpsmense het uit goedgesindheid die dam weer op standaard gebring en mooi gemaak sodat ons dorpie se ingang goed daarna uitsien, en nou hierdie tragiese gebeurtenis. Ons gaan reeds gebuk onder die droogte en ry nog steeds water aan na ons huise vir die afgelope 6 maande, en nou hierdie ironiese insident dat lewenwater 3 lewens geneem het. Ai, my hart bloei vir ons gemeenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.