Fietsryer herstel wonderbaarlik ná sy hart ophou klop

Juan Odendaal (Foto: Verskaf)

’n Fietsryer van Pretoria is gelukkig om te leef nadat sy hart verlede naweek gaan staan het toe hy gaan fietsry het.

Juan Odendaal (23) se hart het Maandag vir die eerste keer weer vanself  begin klop nadat hy dae lank aan ’n ekstrakorporeale membraan-oksigenasiemasjien (Ecmo-masjien) in die Unitas-hospitaal in Centurion gekoppel was – die enigste hospitaal in Pretoria met só ’n masjien.

Nelly Odendaal, Juan se ma, meen God het alles perfek laat saamwerk om haar kind se lewe verlede Saterdagoggend te red. “Nie net was die twee mans wat op hom afgekom het gekwalifiseerde paramedici nie, maar hulle het hom spesifiek na dié hospitaal geneem.”

Johan van der Berg, een van die mans wat op Juan afgekom het, vertel aan Maroela Media dat hy die betrokke oggend tien minute later as beplan na sy vriend Wayne Jooste se huis in ’n woonkompleks in Irene gery het. Albei is paramedici van beroep, maar sou dié betrokke oggend saam aan die Warrior Race in die omgewing deelneem.

“As ek nie daardie oggend later as beplan gery het nie, het ek seker nooit op Juan afgekom nie, maar reeds in Wayne se huis gesit en koffie drink.”

Johan vertel hy het omstreeks 06:30 by die ingang van die woonkompleks aangekom toe hy ’n drawwer en ’n veiligheidswag by ’n fietsryer sien staan. Die fietsryer, Juan, het volgens die veiligheidswag buite die kompleks stilgehou, angstig voorgekom en iemand probeer bel toe hy skielik inmekaarsak het.

Later sou sy ouers aan Maroela Media vertel dat Juan sowat vyf maande vantevore met ’n hartvirus gediagnoseer is. Dokters het hom ná die diagnose beveel om te rus, maar intussen weer die groen lig gegee om te kan oefen.

Juan Odendaal in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Johan sê hy het die ambulans gebel en vir Wayne in die kompleks gebel om ’n noodhulptas te bring. Juan het abnormaal begin asemhaal en blou in die gesig geword. Terwyl Wayne terug huis toe is om nóg mediese toerusting te kry, het Juan se hart gaan staan.

Johan en Wayne het vir sowat ’n minuut lank noodhulp op Juan toegepas toe daar ’n bakkie stilhou en die bestuurder aanbied om Juan hospitaal toe te neem. Johan vertel dié bestuurder was toevallig ’n gevorderde bestuurinstrukteur en het met Juan Unitas toe gejaag terwyl Johan en Wayne agter in die bakkie op Juan noodhulp toegepas het.

Die hartmasjien

By die hospitaal aangekom het Juan se hart slegs vibreer. Hospitaalpersoneel het Juan se hart verskeie kere geskok, maar toe dít hom ook nie kon bybring nie, is hy aan die Ecmo-masjien gekoppel, presies 78 minute nadat sy hart gaan staan het.

“Sy hart het in hierdie stadium nie geklop nie. Hy het ook geen polsslag gehad nie. Hy was effektief dood,” vertel dr. Marlice van Dyk, intensivis by Unitas, aan Maroela Media.

Volgens Van Dyk doen die Ecmo-masjien die werk namens die hart, sodat die hart kan rus. “Die masjien ondersteun die pasiënt se bloeddruk en as jy net die hart kan ondersteun, sal dié orgaan gewoonlik weer begin werk.”

Eers 24 uur later het Juan se hart tekens van herstel begin toon.

Juan se ma vertel dat hulle in Kimberley in die Noord-Kaap was toe hulle Saterdag die nuus van hul seun se ineenstorting gehoor het. Hulle het inderhaas deurgery Pretoria toe, waar Juan by hul aankoms die middag reeds aan die Ecmo-masjien gekoppel was. Hy was ook aan ’n ventilator en dialise-masjien gekoppel.

Juan Odendaal (Foto: Verskaf)

“Die dokters het by ons aankoms vir ons gesê sy hart sal binne twee of drie dae herstel. Ons het hulle geglo. Teen Maandag 16:00 het die hart weer 100% op sy eie geklop. Daardie masjien is ’n wonderwerk.”

Van Dyk vertel dat Unitas reeds die afgelope tien jaar van die Ecmo-masjien gebruik maak. Dit word jaarliks op tussen 20 en 30 pasiënte gebruik.

“Elkeen van hierdie gevalle is vir ons spesiaal. Dit is die beste deel van my werk. Ek spring steeds op en af elke keer wat ʼn pasiënt herstel. Ons het fantastiese stories om te vertel van pasiënte wat dood was voordat ons hulle aan die Ecmo-masjien koppel. Vandag funksioneer daardie pasiënte heeltemal normaal.”

Hoewel Juan teen Vrydag nog aan die ventilator gekoppel was, gaan dit elke dag beter met hom.

Volgens Van Dyk het Juan se brein geen skade tydens die voorval opgedoen nie en sal hy, nes al die ander suksesverhale, na verwagting ten volle herstel.

Nelly kan dit reeds agterkom. “Hy kan nie met die ventilator in sy mond praat nie, maar hy het al geskryf en gevra waar hy is. Sy hartklop skiet ook die hoogte in wanneer hy my sien,” vertel sy van haar seun.

“Hy is oraait.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

My Mening ·

Ek het nou skoon hoendervleis gekry terwyl ek die berig gelees het. God was al die pad met die jong man, alle eer aan Hom. Ek is regtig bly Juan is op die herstel pad.

floors ·

Kan daar nie meer van die soort masjiene aangekoop word nie? Vra maar net.

SomeOne ·

Halleluja, Onse Vader is die Wonder van ons lewens
aanbid , prys , eer , Hom , Hy sal jou lewe regruk
ek bid ook vir jou herstel, jongman

Yolandie ·

Wat ‘n absolute wonderwerk is dit nie. Die Here het beslis die jong man se lewe gered.!!!! Mag hy ‘n getuie wees van die gebeure wat sy lewe gered het. Sterkte met jou herstel pad Juan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.