Fietsryer in Muldersdrift oorval, beroof

Argieffoto

ʼn 57-jarige fietsryer is ernstig beseer toe hy en nog ʼn fietsryer (vermoedelik in sy laat 40’s) Donderdagoggend op ʼn grondpad by Muldersdrift in Gauteng deur twee rowers oorval is.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 06:35 na die toneel ontbied waar hulle die fietsryer aan die kant van die pad aangetref het. Hy sê daar was toe reeds verskeie sekuriteitsbeamptes op die toneel.

“Die man het verskeie ernstige beserings aan sy been en heup opgedoen,” sê Meiring. Quin Young, die administratiewe bestuurder van die sekuriteitsmaatskappy BCI Security, sê die fietsryer se been was gebreek. Dié sekuriteitsmaatskappy was van die eerstes op die toneel.

“Paramedici het probeer om sy pyn te verlig voordat hy na ʼn nabygeleë private hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling,” het Meiring vertel.

Volgens Young is die twee fietsryers deur twee gewapende mans oorval en beroof.

“Die rowers het klaarblyklik skote afgevuur, maar niemand raakgeskiet nie,” vertel Young.

“Soos ons verneem het, moes die beseerde fietsryer sy been gebreek het toe hy in ʼn struweling met die rowers betrokke geraak het. Die ander fietsryer het ongedeerd van die voorval afgekom.”

Volgens Young het die rowers dié fietsryer se fiets en verskeie waardevolle items gebuit en gevlug.

“Ons beamptes het die rowers agternagesit en probeer opspoor, maar hulle het ongelukkig weggekom.”

Die polisie was ook op die toneel.

Maroela Media het ʼn navraag aan die provinsiale polisiewoordvoerder gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stanley

Hoop nie hulle is Pinehaven Kliniek toe nie. Die hospitaal sal hulle erger skade as die rowers aandoen!

Hans

Moet se, die berig is mooi duidelik, veral die terloopse “die polisie was ook op die toneel”

Chantel

Dit gebeur al hoe meer. Vriende van ons is 4 weke terug naby Hartbeesfontein ook beroof en net met hulle bibs gelos. Sterkte aan die fietsryer wat beseer was.