Fietsryer sterf by gruiswedren

Die driekampatleet is Saterdag tydens die Race to the Sun-gruis-fietswedren dood toe ʼn taxi hom getref het. (Foto: Francois Mienie/Facebook)

ʼn Suid-Afrikaanse driekampatleet is Saterdag tydens die Race to the Sun-gruis-fietswedren dood toe ʼn taxi hom getref het.

Die 162 km-roete strek van die Hartebeespoortdam tot by Sun City.

Die groep fietsryers het glo afdraande op ʼn gedeelte van die roete gery en die taxi het met die bult opgekom. Die persoon voor Francois Mienie (29) het glo gerem en hul wiele het vermoedelik aan mekaar geraak.

Mienie het glo uitgeswaai en voor die taxi beland.

Volgens Fritz Pienaar, besturende direkteur van Faces, wat die byeenkoms saam met King Price aanbied, sê daar was geen duidelike teken van roekelose bestuur van die taxibestuurder nie.

“Daar was oral duidelike waarskuwingstekens sigbaar. Die pad is glad nie ʼn risikogebied nie; hierdie was dus bloot ʼn fratsongeluk. Ek kon dit byna nie glo toe ek die oproep ontvang het nie,” sê Pienaar.

Na verneem word, is Mienie op slag dood.

Die taxi het ʼn paar meter verder tot stilstand gekom en die bestuurder se weergawe van gebeure strook met dié van die ander fietsryers.

Mienie se vrou was in Ierland vir werk toe sy die oproep Saterdag ontvang.

Mienie was ʼn meganiese ingenieur van Centurion, ʼn uitblinker in verskeie sportsoorte en het in 2022 by Trivium aangesluit as ʼn driekamp-afrigter.

Magda Nieuwoudt, ook ʼn driekamp-afrigter by Trivium, ʼn beroepsatleet en vriendin van Mienie, het die voorval as uiters tragies bestempel.

Talle ander mense het ook hul meegevoel met die jong man se familie betuig.

“Ons groet ʼn groot gees! Jou sagte glimlag en geduldige stemtoon gaan ons mis. Niks was ooit te groot of te veel moeite vir jou. Dankie dat jy jou tyd vir ons as klub gegee het en ons elkeen bitter diep geraak het,” lui ʼn plasing op Facebook.

Nog ʼn inskrywing lui: “Jy was ʼn voorbeeld van ʼn ongelooflike man vir jou vrou, betroubare vriend, konstante staatmaker op alle vlakke. En iemand wat gedissiplineerd en gebalanseerd die lewe voluit kon aanpak!

“Ons hoop jy kry jou Speedo Triathlon daarbo soos jy nog altyd wou doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gaitsigubib ·

Ons paaie is bloot net te gevaarlik vir fietste. Verby is die dae wat jy sorgeloos op jou fiets van die skool af kon huistoe ry. Die taxis gee nie ‘n flenter om nie. Hoeveel is nou al op fietse omgery in die laaste dekade? In SA is jou lewe nie meer n sent werd nie. RIV jongman, jy verdien dit verseker nie.

Duck ·

Lees die berig, die taxi bestuurder was nie roekeloos nie. Wanneer laas het jy saam met ‘n klomp fietsryers gery, of agter hul gery, of saam hul gery? Hul gee nie ‘n vlenter om nie en ry die langs mekaar en jy, die motorbestuurder moet maar bedagsaam wees en aftrek. En dan word daar gewoontlik ook geskel en die vinger gewys. Nee wat, as jy met jul “fancy bicycles” wil ry, gaan doen dit weg van die algemene verkeer af want jul sal raak gery word, dis nou al die hoeveelste geval en ook nie die laaste keer nie!

Kobus ·

Ek hou ook nie van die taxis nie, maar lees tog net die berig weer…

Anel ·

Ek stem saam dat dit vandag gevaaelik is om fiets te ry op ons paaie, maar van die fietsryers is ook nie onskuldig nie. Volgens die berig was dit ‘n ongeluk en nie die taxi se skuld nie. Baie tragiese ongeluk. Baie sterkte aan die jongman se familie en vriende.

Liezel ·

Ek wil graag ‘n regstelling hier maak. Ek was op die toneel pas toe die voorval gebeur het. In die berig blyk dit dat die taxi bestuurder nie roekeloos bestuur het nie
Ek wil graag ‘n regstelling maak en se dis glad nie die geval nie. Die taxibestuurder het gejaar op die grondpad en hy het vir die fietsryers gemik! Die fietsryer wat voor Francois was moes skielik remme aanslaan om te keer dat hy nie in die taxi in vasry nie, dis toe dat Francois in die voorste fietsryer in vasgery het en geval het, waarna hy sy kop teen die taxi gestamp en so oorlede is
Hierdie ongeluk was verseker voorkombaar en onnodig, dis wat dit soveel meer hartseer maak

Bolandse Nooi ·

OK, so hoekom word ‘n fietswedren gehou op ‘n gruispad wat NIE vir ander verkeer VERSPER is nie?

Koen ·

Taxis word telkemale gebruik om vinger na te wys. In die geval het die fietsryer voor ‘n voertuig ingeswaai. Dit kon jy gewees het. Let bietjie op hoe ry die tannies in die 4X4’s cellfone in die hand. Vieslik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.