ʼn Middeljarige man is dood nadat hy Maandagmiddag in Vaalpark, naby Sasolburg in die Vrystaat, deur ʼn dubbelkajuitbakkie van sy fiets afgestamp is.
Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, het Dinsdag gesê die ongeluk het op die R59-snelweg plaasgevind.
“Paramedici het die man se liggaam sowat 50 meter van waar die bakkie hom getref het, aangetref” het sy gesê. “Die man het verskeie bene gebreek en is op die toneel dood verklaar.”
Die bestuurder van die bakkie is nie in die voorval beseer nie.
“Die ongeluk het na bewering plaasgevind toe die fietsryer die besige vierbaan-hoofweg wou oorsteek. Die bakkie wat hom getref het, het in die rigting van Vereeniging gery.”
Volgens Majija is die gedeelte van die snelweg berug vir voetgangers en fietsryers wat dit oorsteek om voor en ná werk by die Vaalpark-omgewing uit te kom.
Die polisie ondersoek die saak.