Die polisie in Krugersdorp aan die Wes-Rand ondersoek ʼn saak van strafbare manslag nadat ʼn fietsryer die afgelope naweek dood is ná ʼn tref-en-trap-voorval.
AO Matome Masedi, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het Saterdag kort voor 06:00 plaasgevind.
Volgens Masedi was die slagoffer, wat intussen as Nino Oppel (41) geïdentifiseer is, besig om vir ʼn fietswedren op te warm toe ʼn motor hom van agter getref en toe van die toneel weggejaag het. Omstanders kon die voertuig net as ʼn sjampanjekleurige Volkswagen Polo-luikrug eien.
“Nooddienste was ná die ongeluk onmiddellik op die toneel en het met die slagoffer na die Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp gejaag. Hy het ʼn paar uur later in die hospitaal aan sy veelvuldige beserings beswyk,” sê hy.
Club 100, ʼn fietsryklub waarvan Oppel ʼn lid was, het gesê Oppel is deur die motor getref kort voor die begin van die Berge en Dale-fietstoer.
Club 100 het in ʼn verklaring op sosiale media gesê hy neem met ʼn swaar hart kennis van Oppel se afsterwe. “Ons innige meegevoel aan sy vrou, Daleen, sy dogters, ouers, vriende en spanmaats. Ons gedagtes en gebede is by julle. Ons gaan jou mis, Nino. Rus in vrede,” het die groep geskryf.
Volgens ASG Events, die organiseerders van die fietswedren, het die wedren oor altesaam 107 km gestrek. Fietsryers het by die Cradlestone-winkelsentrum weggespring.
Darren Herbst, ʼn ASG Events-direkteur, sê ʼn ambulans het Oppel binne minder as een minuut ná die ongeluk bereik. “Dit is ʼn ongelooflike moeilike tyd vir die familie en ons bied ons diepste medelye aan hulle. Ons doen altyd alles om die veiligheid van ons fietsryers te verseker. Dit is ʼn tragiese voorval.”
Oppel was volgens die Institute of Tax Professionals ʼn rekenmeester.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Masedi het mense met meer inligting oor die voorval versoek om met die polisie in verbinding te tree deur hom direk te bel by 079 694 6366.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Kan nie verstaan dat motoriste nie kan versigtig wees….fietsryers! Tragies?
Hoe leef jy met jouself saam na jy iemand raak gery het?
elke saak het twee kante. hoe tragies.aangesien hy alleen gery het, sou dit seker aan die kant van die pad gewees het soos dit hoort.
Stem saam met jou Pop en hoe verduidelik jy die stamp aan jou motor en jou geestes toestand – kan nie vir my se daai persoon se motor het niks oorgekom nie en dat dit hom/haar nie pla nie -hoop daardie persoon word vinnig aangekeer.
Baie tragies. Innige simpatie vir die hele gesin en fietsry gemeenskap. Ek kan my indink hoe julle moet voel.
Ek is self ‘n fietsryer.