Fietsryer sterf ná tref-en-trap; polisie vra hulp

Nino en sy vrou, Daleen (Foto: Facebook)

Die polisie in Krugersdorp aan die Wes-Rand ondersoek ʼn saak van strafbare manslag nadat ʼn fietsryer die afgelope naweek dood is ná ʼn tref-en-trap-voorval.

AO Matome Masedi, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het Saterdag kort voor 06:00 plaasgevind.

Volgens Masedi was die slagoffer, wat intussen as Nino Oppel (41) geïdentifiseer is, besig om vir ʼn fietswedren op te warm toe ʼn motor hom van agter getref en toe van die toneel weggejaag het. Omstanders kon die voertuig net as ʼn sjampanjekleurige Volkswagen Polo-luikrug eien.

“Nooddienste was ná die ongeluk onmiddellik op die toneel en het met die slagoffer na die Pinehaven-hospitaal in Krugersdorp gejaag. Hy het ʼn paar uur later in die hospitaal aan sy veelvuldige beserings beswyk,” sê hy.

Club 100, ʼn fietsryklub waarvan Oppel ʼn lid was, het gesê Oppel is deur die motor getref kort voor die begin van die Berge en Dale-fietstoer.

Club 100 het in ʼn verklaring op sosiale media gesê hy neem met ʼn swaar hart kennis van Oppel se afsterwe. “Ons innige meegevoel aan sy vrou, Daleen, sy dogters, ouers, vriende en spanmaats. Ons gedagtes en gebede is by julle. Ons gaan jou mis, Nino. Rus in vrede,” het die groep geskryf.

Volgens ASG Events, die organiseerders van die fietswedren, het die wedren oor altesaam 107 km gestrek. Fietsryers het by die Cradlestone-winkelsentrum weggespring.

Darren Herbst, ʼn ASG Events-direkteur, sê ʼn ambulans het Oppel binne minder as een minuut ná die ongeluk bereik. “Dit is ʼn ongelooflike moeilike tyd vir die familie en ons bied ons diepste medelye aan hulle. Ons doen altyd alles om die veiligheid van ons fietsryers te verseker. Dit is ʼn tragiese voorval.”

Oppel was volgens die Institute of Tax Professionals ʼn rekenmeester.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Masedi het mense met meer inligting oor die voorval versoek om met die polisie in verbinding te tree deur hom direk te bel by 079 694 6366.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jacqueline Wilbers ·

Kan nie verstaan dat motoriste nie kan versigtig wees….fietsryers! Tragies?

snoefie ·

elke saak het twee kante. hoe tragies.aangesien hy alleen gery het, sou dit seker aan die kant van die pad gewees het soos dit hoort.

Andrea ·

Daardie pad is baie nou en nie geskik vir fietsryers, motors en trokke op dieselfde tyd nie. Eks nie verbaas dat n fietsryer doodgery is nie. Swak van die motoris om net weg te jaag. Krimineel.

Annie ·

Stem saam met jou Pop en hoe verduidelik jy die stamp aan jou motor en jou geestes toestand – kan nie vir my se daai persoon se motor het niks oorgekom nie en dat dit hom/haar nie pla nie -hoop daardie persoon word vinnig aangekeer.

Leon ·

Baie tragies. Innige simpatie vir die hele gesin en fietsry gemeenskap. Ek kan my indink hoe julle moet voel.
Ek is self ‘n fietsryer.

Piet Pompies ·

Dit is tragies dat iemand sterf ter wille van iemand anders se optrede terwyl hy sport be-oefen. Die persoon wat hom gestamp het kon dalk ‘n lewe gred het deur te stop en die nood dienste te kry, in plaas daarvan het hy besluit om soos ‘n skelm die pad te vat met die hoop dat hy nie opgespoor word. Sterkte aan die familie en fietsry vriende.

Sarel swartbrand ·

Daardie deel vanaf pinehaven na clearwater mall is bekend vir sy fiets ongelukke ,kameras en fietsbane daar aanbring.

Valerie ·

Mag dit sy gewete ry todat hy/sy nie meer kan nie en dan homself aanmeld by die Polisie. Tien teen een dronk bestuur ook.

Maak nie saak waar die fietsryer gery het nie, al was dit teen ‘n eenrigtingstraat; ‘n mens ry hom nie om, veroorsaak sy dood, en jaag weg nie.

Lollie ·

Dis net verskriklik!! Soo tragies. Baie sterkte gesin en familie. Mag God julle baie styf vashou.

ONTSTELD ·

Dis lafhartig en uiters ontstellend-blykbaar ‘n nuwe “kultuur” in SA. ‘N familielid v my is ‘n tydjie gelede op soortgelyke wyse tussen ‘n klompie ander fitsryers getref. Dit was. ‘n rooi V/W Polo luikrug en dié se linkerspieëltjie het afgebreek en op die ongelukstoneel bly lê. Dit is opgetel en as bewysstuk by die Middelburg poisie ingedien. Toevallig het ons ‘n dag later ‘n presiese rooi voertuig sonder ‘n linkerspieël identifiseer en aan die polisie gerapporteer. Twee maande later is ‘n ongeluksverslag eers afgeneem. NIKS het sedertdien gebeur nie-die lafaard is steeds op vrye voet!

Herman ·

Ek’t iets soortgelyks oorgekom so 8 jaar gelede op n stil stukkie pad in die bosveld. Wit Toyota minibus my van agter getref en die veld in geslinger. Fiets in sy maai, knieë en elmboë nerf af, gebreekte gewrig, maar genadiglik geen ernstige beserings. Natuurlik toe ek opstaan, afstof en tot verhaal kom is einste taxi skoonveld!
Het net daar besluit om my fietsry te los. Vandag as ek fietsryers sien raak ek skoon benoud vir hul part omrede ek besef hoe gevaarlik dit kan wees.

Koos ·

Om weg te jaag is uiteraard verkeerd en kriminele optrede. Gepraat van krimineel, wat gaan ons doen oor die groot persentasie fietsryers wat hulleself in gevaar stel deur gedurig die verkeersregulasies verontagsaam deur langs mekaar te ry op openbare paaie (amptelike wedrenne uitgesluit). Selfs in die Wieg van die Mensdom-gebied is fietsrybane weerskante van die pad maar bly hulle daarin? NEE! Slegs oortreders hoef te antwoord hierop.

Ek stem, maar tog ·

Ek stem oor fiets ryers wat dink hul is motors en daar is wat ook nie reels gehoorsaam, maak nie saak wat gebeur het, jy stop by die toneel en verleen hulp. My seun is ongeveer 10/11 jaar terug omgery, gelukkig nie noodlottig, maar ek sukkel nogsteeds met die onmenslike faktor van die vrou wat weggejaag het, wat as dit anders was, ek sou haar seker vermoor het, hy het haar registrasie gevat en ek het haar rapporteer en sy het niks oorgekom. Geen verskoning regverdig dit, hy was wettig op die regte plek. Geen menslikheid.

EH ·

Ekself ry ook fiets en kan verstaan waarom mense vies word vir fietsryers, maar… – Ja, dis waar dat fietsryers nie altyd by die padreëls hou nie, maar dis ook waar van motorbestuurders. Dieselfde motorbestuurder wat wat verkeersreëls oortree, gaan dit ook oortree op die fiets. Feitlik alle fietsryers (wat fietsry as sport beoefen), is ook ’n motorbestuurder, ongelukkig is alle motorbestuurders nie ook fietsryers nie, wat dus geen of min begrip het vir fietsryers en die gevare waaraan hulle blootgestel is nie. Klippies langs die pad waaroor ‘n motor kan ry sonder om dit te voel, hou vir n fietsryer potensiële gevaar in. Dan is dit ook so dat fietsryers ’n slegte gewoonte het om langs mekaar of in ’n groep te ry – dis ongelukkig die enigste manier hoe hulle ’n gevoel van veiligheid op die pad kan ervaar. ’n Groep fietsryers word makliker raakgesien en minder geïntimideer deur motoriste. Doen jouself ’n guns wanneer jy weer twee fietsryers langs mekaar sien ry, verminder spoed en hou hulle dop, die kans is amper 70% dat jy sal uitvind dat die een die ander maar net verby wou neem. Punt bly – Die meerderheid fietsryers het groot ontsag vir verkeersreëls, geeneen is arrogant om te dink hulle het enigsins ’n kans teen ’n voertuig nie. Mens lees baie van ’n voertuig wat ’n fietsryer platgery het, maar jy lees nooit van ’n fietsryer wat ’n voertuig platgery het.

EH ·

En aan die bestuurder van die VW Polo, wie ook seker nou hier lees: Doen die regte ding! Nie net vir Nino Oppel nie, maar ook vir jouself. Dis al wat jou nou kan bevry uit die tronk waarin jy jouself opgesluit het. Dit gaan verseker nie maklik wees nie, maar ook dit sal verbygaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.