Fietsryer vertel van ‘koue stilte’ ná tref-en-trap

Die ongelukstoneel op die R55. (Foto: Verskaf)

“Ek het ’n baie harde slag gehoor, toe iemand wat skree. Ek het die motor teen my been gevoel en toe het ek deur die lug getrek.”

Annemi Kapp het Vrydagmiddag met Maroela Media gepraat nadat ʼn motor vroegoggend op die R55 in Centurion in lede van die fietsryklub waaraan sy behoort ingeploeg het. Die bestuurder het daarna die motor agtergelaat en te voet op die vlug geslaan. Een fietsryer het in die voorval omgekom.

Volgens Kapp het dié groep van sowat 18 fietsryers die oggend om 05:00 in die pad geval om 100 km af te lê. “Ons ry juis altyd daardie pad omdat dit ʼn dubbelpad is en ʼn breë skouer het,” sê sy.

Sy vertel dat die Toyota Tazz van agtergekom het. “Hy het letterlik bo-oor en deur ons gery.

“Daar is nie ʼn manier dat hy ons nie gesien het nie. Ons was in die geel streep en het almal voor- en agterligte op ons fietse gehad. Ons het soos ʼn Kersboom gelyk.”

Volgens Kapp het die ongeluk om 05:30 gebeur. “Ek weet ek het op my horlosie gekyk toe ek die eerste ambulans gebel het. Dit was 05:35.”

Kapp vertel dat sy alles van die slag kan onthou en dat die bestuurder geensins remme aangeslaan het toe hy die groep fietsryers tref nie. Hy het deur die groep gejaag waarna hy oor twee bane wat in die dieselfde rigting loop, gery het en teen ’n versperring tot stilstand gekom het.

“Daar was die koue stilte. ʼn Stilte voordat almal tot verhaal gekom het.”

Kapp het ’n sny aan haar kuit, ’n stamp teen haar kop en ’n gekneusde heup in die voorval opgedoen.

Die motor wat die bestuurder agtergelaat het op die R55. (Foto: Verskaf)

Andrew Randall van Pretoria is in die voorval dood. “Andrew het agter gery en die meeste van die impak gevat. My verloofde het saam met hom agter gery. Ek het soontoe gehardloop, ek het gedink dit is my verloofde wat daar lê. Toe ek nader kom, het ek gesien dis Andrew. Hy het nie asemgehaal nie en geen polsslag gehad nie,” vertel sy.

Kapp het Randall goed geken. “Ek sê altyd mense wat nie fietsry nie sal nie verstaan hoe hegte familie ʼn mens raak nie. Andrew het ʼn wonderlike manier gehad om met min woorde baie te sê,” onthou sy. “Hy het baie van ons gered. As dit nie vir hom was nie….”

Sewe beseerdes, onder andere Kapp se verloofde, is na hospitale geneem vir mediese behandeling. Haar verloofde sterk tans in die waakeenheid van ʼn hospitaal aan. Hy het reeds sy bewussyn herwin en sal na verwagting ten volle herstel.

“Ek dink ʼn mens besef eers [die impak] as jy al die ander families in die hospitaal sien. Jy sien dan die hartseer in almal se gesigte. Om net aan jouself te dink, kry jy nie die volle scope van die situasie nie,” sê Kapp.

Maroela Media het vroeër berig ʼn passasier in die motor is ook in die voorval beseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die metropolisie doen ʼn beroep op die bestuurder om homself by die owerhede aan te meld.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die bestuurder is nog nie in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frikie

dit wat gebeur het is baie hardseer en ek se ook nie die bettoke groep het nie. Maar ek moet eerlik wees om tese dat nog elke keer wat ek n groep fiets ryers op die pad gekry het dat hulle 3 langs mekaar ry soms 4 asof hul die paaie besit. Dus word daar baie in die baan gery maar motors moet ry. Het al selfs met een probeer praat op n tyd en was die persoon verskriklik ongeskik. Kyk ek is geleer jy ry agter jou vriend nie langs hom nie. Dit is nogsteeds baie hardseer dat sulke… Lees meer »

David

Dit was ‘n terreuraanval of moord en poging tot moord, nie manslag en roekelose bestuur nie

Wat van die passasier!?

Daar was dan n passasier in die voertuig!? Kan hy nie aangehou word tot dat hy vir hulle die naam van die bestuurder en sy woon adres gee nie? Is dit so moeilik??

smurfie

Lyk my dis die nuutste guur.
Los jou motor net daar en hardloop weg.
En dit lyk of dit werk, kyk maar net, die polisie sukkel steeds om die ou wat die welkomse gesin en maaitjie dood gery het te vang

Diertjie

Waarvoor moet n mens dan jou address en als opgee as jy n lisensie skyfie hernu? Kan die polisie nie op die nommerplaat die skuldige vastrek nie?