Fietsryers in Pretoria-reservaat beroof

Klapperkop-natuurreservaat in Pretoria. (Foto: Louis Geeringh/Facebook)

Twee fietsryers is Saterdag tydens ʼn vroegoggend fietsry-sessie in die Klapperkop-natuurreservaat in Pretoria beroof.

Hoewel die verdagte(s) ʼn vuurwapen op die fietsryers gerig het, het hul ongedeerd van die voorval afgekom.

Louis Geeringh, woordvoerder van die bewaring- en rehabilitasie-groep Vriende van Groenkloof en Klapperkop Natuurreservate, sê die fietsryers is om 08:30 beroof toe hulle die eerste spoedhobbel by die reservaat se R21-ingang genader het.

“Dit gaan goed met albei fietsryers, maar hulle is wel van hul selfone beroof.”

Maroela Media het navraag aan die polisie gerig, maar wag nog op terugvoer in hierdie verband. Dit is dus nog nie duidelik of die vermeende misdadiger(s) al vasgetrek is nie.

Volgens Geeringh doen die reservaat nou alles moontlik om die gebied in en om die reservaat se ingange te beveilig.

“Alle bome aan die binne- en buitekant van die reservaat wat moontlik gebruik kan word om maklike toegang tot die reservaat te verkry, sal gesnoei word,” sê hy.

“Al die punte waar misdadigers geredelike toegang tot die reservaat kan verkry is reeds met bykomende lemmetjiesdraad versterk en alle stormwaterdreine sal ook nou met lemmetjiesdraad beveilig word.”

Die departement van omgewingsake en natuurbewaring is in die proses om met die metropolisie in gesprek te tree om weer patrollies in die omgewing in te stel.

Enige ander kwesbare punte om die reservaat sal deur die loop van die week geïdentifiseer en versterk word.

Die departement het intussen fietsryers en hardlopers gemaan om nie na die pad te gaan wat na Fort Klapperkop toe gaan nie totdat wetstoepassers ʼn deeglike inspeksie van die omgewing gedoen het en die huidige veiligheidsmaatreëls hersien het nie.

“Ek wil lede van die gemeenskap verseker dat die beveiliging van Klapperkop die departement se hoogste prioriteit is,” sê Geeringh.

“Ons sal daaraan werk om praktiese oplossings te vind om te verseker dat ons natuurlike juwele beskerm word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem Wikkelspies ·

.. ek neem aan dat totdat die reservaat hulle eendjies in ‘n ry kry betaal hulle dan alle skade vergoedings eise en ook ‘n addisionele bedrag vir trauma beleef deur die slagoffers .. ?

Marius ·

Die plek is bekend vir rooftogte en aanvalle op stappers, drawers en fietsryers. Jy kan ook nie meer in ‘n motor by die uitkyk punte stop nie. Wat soek die mense nog daar ? Vermy die area en gaan oefen elders.

Heinrich ·

Reservate en vakansie plekke word deesdae toenemend geteiken want sekuriteit is minder as die gemiddelde huis met alarm, kameras en betaalde reaksie. Maklike prooi, was seker maar net ‘n kwessie van tyd voordat hierdie vryheid ons ook deur die ANC en EFF lede ontneem word.

Eiervrug ·

So waarvoor is die “booms” en die sekuriteitswag?. Is dit net om die zebras binne te hou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.