Fifa eis miljoene vir sokkerwêreldbeker in SA

Gianni Infantino, Fifa se president. Foto: AP Foto/Michael Probst

Gianni Infantino, Fifa se president. Foto: AP Foto/Michael Probst

Die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) het Dinsdag in hofdokumente aangevoer dat Suid-Afrika $10 miljoen se omkoopgeld betaal het om die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi aan te bied en dat die geld terugbetaal moet word.

Fifa het ʼn eisdokument van 22 bladsye by ʼn hof in New York ingedien waarin hy skadevergoeding van meer as $190 miljoen eis wat hy na bewering as gevolg van korrupte sokker- en bemarkingsbeamptes verloor het. Talle beamptes het reeds skuld erken op die korrupsie-aanklagte teen hulle, terwyl aanklagte nog teen verskeie ander beamptes hangend is.

Volgens Fifa is die sokkerfederasie die eintlike slagoffer van korrupte individue omdat hulle die vertrouensposisies by die federasie misbruik het en sodoende langtermyn skade aan Fifa berokken het. Gianni Infantino, Fifa se president, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die geld wat hierdie beamptes in hul sakke gesteek het, was veronderstel om gebruik te word vir die ontwikkeling en bevordering van die spel. “Fifa as die internasionale sokkerfederasie eis daardie geld terug en ons is vasbeslote om dit te kry, maak nie saak hoe lank dit vat nie,” het Infantino gesê.

Benewens die $10 miljoen eis Fifa ook $28,2 miljoen vir “jare se betalings, bonusse, vlugte en daaglikse uitgawes” van korrupte beamptes. Die federasie wil ook vergoed word vir “aansienlike regskostes” wat aangegaan is tydens die skandaal, skadevergoeding vir skade aan Fifa se reputasie en vergoeding vir enige ander omkoopgeld en gunslone “wat moontlik gemaak is deur die waarde van die Fifa-handelsmerk”.

“Fifa het nou bekend geword vir die beskuldigdes se omkopery en korrupsie en nie sy goeie werk nie. Fifa is geregtig op skadevergoeding vir die skade aan sy sakeverhoudinge, reputasie en nie-tasbare eiendom,” lui die eis.

Fifa het in Desember verlede jaar sy voormalige president, Sepp Blatter, en Michel Platini, president van die Europese Sokkerbeheerliggaam (Uefa) en adjunkpresident van Fifa, vir agt jaar van alle sokkerverwante aangeleenthede geskors. Die skorsing het verband gehou met ʼn onregmatige betaling van twee miljoen Sweedse frank van Fifa aan Platini in Februarie 2011. Blatter het die betaling in sy amp as Fifa-president goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jef ·

Sjoe maar dis baie geld dit het tyd geword dat die beamptes vasgevat word en ek hoop dat daar ook iets aan die salarisse van sekere sokkerspelers gedoen word maar dis n ander storie het niks met bogenoemde artikel van doen nie.

Schalk ·

Wat het hulle verwag? As jy met SA wil deel gaan daar korrupsie wees. Kan nie glo ons betaal soveel geld om die World Cup aan te bied, spandeer nog honderde miljoene aan stadions wat leeg staan. En intussen bly mense langs die pad onder plastiek sakke. En dan word daar nog steeds gese hierdie land is so wonderlik. Maar nou ja, wat anders kan n mens verwag van n derde wereld?

Jakes ·

Hkm eis hulle die geld terug van SA , en nie van die persone aan wie dit betaal is nie.
Nou moet SA dubbel betaal , met wie se geld.

Ben (:-) ·

Ek wed jou niemand sal daai vraag antwoord nie. Belasting ?

PJ ·

Wonder op watter manier kan ons wettiglik ons belastings terug hou?

Michael ·

Ek stem saam verstaan nie hoekom ons belasting betaal nie ,ek moet self sorg vir medies,sekuriteit,tol,onderwys brandstof belasting ens ens

ST ·

Gaan oor inkomstes wat ander lande verloor het deur die geknoeiery. Wens ook ons kan op ‘n punt kom en nie Suid Afrika kwalik neem nie maar die anc. Ons arme ou land (mooiste stuk grond met berge, riviere en oseane) stem self seker nie vir hulle nie! Seker julle verstaan my sentiment.

danie ·

Verwys fifa na zuma toe ek wil sien hoe kry hulle antwoorde uit hom uit

Henry ·

Volgens die berig wat eintlik meer vrae as antwoorde verskaf, is dit onbekend wie die $10 miljoen aan FIFA moet terug betaal. Is dit die beamptes by FIFA wat die geld destyds in hul sakke gesteek het, of is dit die SA sokkerbase/regering.

GES ·

Wie anders as die sokkerbase/anc regering kan dit wees? So begin die wiele een na die ander afval. Vat hom Flaffie …

Henry ·

Duidelik uit berigte van ander bronne dat die FIFA amptenare wat die $10 miljoen van die Suid Afrikaanse spul ontvang en in hul sake gesteek het, vir die terugbetaling verantwoordelik is.
Die $10 miljoen wat waarskynlik uit die RSA se belastingkoffers kom, behoort van die betrokke Suid Afrikaanse omkopers geëis te word.

Dee ·

Fifa het nou bekend geword vir die beskuldigdes se omkopery en korrupsie en eis nou geld daarvoor. Die skelm eis omdat hy skelm is.
Die geld sal deur die regering betaal moet word. Die Moses Madiba’s en ander wit olifant stadions gaan nou selfs meer kos. Julle sal moet oortyd werk sodat julle meer belasting kan betaal want julle kan nie die regering drop nie. Waar’s jul lojaliteit? Help hulle!

Delia ·

‘Skuuus MM, het iets van my iPad af gevee en toe per ongeluk die “rapporteer” knoppie gedruk by Henry se kommentaar!

grapkas ·

Hi Fifa, stuur vir ons R1miljoen vir al die admin fooie om die geld los te maak dan stuur ons die geld.

Gert ·

Stop alle sokker todat al die strooi opgelos is.Maak die klomp stadione se dakke toe en siedaar dan het ons blyplek vir die armes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.