Fifa-omkoopgeld in ‘$10 000-sarsies’ betaal

Argieffoto Foto: usfinancepost.com

Argieffoto Foto: usfinancepost.com

Hooggeplaaste Suid-Afrikaanse sokker- en regeringsamptenare word daarvan beskuldig dat hulle $10 miljoen omkoopgeld aangebied het om te verseker dat die 2010 Sokkerwêreldbeker in die land gehou word.

Volgens ʼn aanklag deur die VSA se departement van justisie sal dit die tweede keer wees dat Suid-Afrikaanse beamptes omkoopgeld betaal het, nadat ʼn eerste poging om die 2006 Sokkerwêreldbeker te verseker, misluk het.

Die besonderhede van Suid-Afrika se beweerde betrokkenheid by die internasionale Fifa-korrupsieskandaal word kortliks vervat in die Amerikaanse departement van justisie se aanklag teen van die organisasie se grootste rolspelers. In die aanklagdokument word twee hooggeplaaste Suid-Afrikaanse bodkomiteelede, slegs genoem Samesweerder #15 en #16, daarvan beskuldig dat hulle die omstrede Jack Warner, toe Fifa se adjunk-president, omgekoop het. Die identiteit van die beamptes is nog nie bekendgemaak nie, aangesien geen verdagtes nog in hegtenis geneem is nie.

Die eerste bedrag omkoopgeld vir die 2006 Sokkerwêreldbeker is glo in “pakke van $10 000” by ʼn familielid van Warner se hotelkamer in Parys afgelewer. Volgens die aanklagstaat het Warner en sy familie bande gesmee met Suid-Afrikaanse sokkerbeamptes met betrekking tot Suid-Afrika se mislukte bod om die gasheer vir die 2006 Sokkerwêreldbeker te wees.

“In die vroeë 2000’s het Samesweerder #14, ʼn lid van Warner se familie, Warner se kontakpersone in Suid-Afrika gebruik om vriendskaplike wedstryde vir Concacaf-spanne in Suid-Afrika te reël. In een stadium het Warner ook vir Samesweerder #14 aangesê om na Parys, Frankryk, te vlieg en ʼn aktetas met $10 000-pakke te aanvaar wat in ʼn hotelkamer deur Samesweerder #15, ʼn hooggeplaaste Suid-Afrikaanse bodkomiteebeampte, afgelewer is,” lui die aanklag.

“Ure nadat hy in Parys aangekom het, het Samesweerder #14 teruggevlieg en die aktetas teruggeneem na Trinidad en Tobago, waar Samesweerder #14 dit aan Warner gegee het.” Die dokument het aan die lig gebring dat die Suid-Afrikaanse regering $10 miljoen betaal het om die stemme van drie Fifa-amptenare te kry om die 2010 Sokkerwêreldbeker te verseker.

In of rondom 2004, het Fifa se uitvoerende komitee aanbiedinge om as gasheer op te tree van Marokko, Suid-Afrika en Egipte oorweeg, asook ander lande wat onttrek het voordat daar gestem is. “In die maande voordat die gasheerland vir die 2010 Sokkerwêreldbeker gekies is, wat geskeduleer was om in Mei 2004 te gebeur, het Jack Warner en Samesweerder #1 na Marokko gereis.

Terwyl hulle in Marokko was, het ʼn verteenwoordiger van die Marokkaanse bodkomitee aangebied om Warner $1 miljoen te betaal in ruil vir sy stem vir Marokko om die gasheer vir die 2010 Sokkerwêreldbeker te wees. Dit is glo hier waar Warner aan Samesweerder #1 gesê het dat hooggeplaaste Fifa-beamptes, die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse bodkomitee bereid was om $10 miljoen te betaal om die gasheer te wees. Die geld sou glo in ruil wees vir Warner, Samesweerder #1 en Samesweerder #17 se stemme vir Suid-Afrika eerder as Marokko.

Warner het aangedui dat hy die aanbod aanvaar het en $1 miljoen van die omkoopgeld aan Samesweerder #1 sou gee. Samesweerder #1 het later vasgestel dat Suid-Afrika nie kon reël dat die betaling direk uit regeringsfondse gemaak word nie. Daar is toe met Fifa-beamptes gereël dat die $10 miljoen direk vanaf Fifa na CFU gestuur sou word deur geld te gebruik wat andersins van Fifa na Suid-Afrika sou gegaan het om die Wêreldbeker te ondersteun.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ig ·

Ek glo hier gaan n hele paar wurms uitklim .Dit gaan interessant wees om te hoor wie die skuldiges in die Regering is.Ek wonder ook of Danny Jordaan se 10 miljoen rand bonus destyds sy beloning vir stilswye was of was dit dalk sy beloning vanaf die regering dat hy die omkopery mooi hanteer het?

CHRISTA ·

Dink julle als gaan vorendag kom of gaan dit ook eers met ‘n heuningkwas geverf word voordat dit openbaar gemaak word (soos met Nkandla)!!!

Knersus D ·

Somehow dink ek ook Danny is hier betrokke – Die ANC is net te danig met hom….

Hendrik ·

Dit lyk asof FIFA so korrup is, dat hierdie soort van die werkswyse was/is. Nie dat dit dit reg maak nie.

Dis baie soos Tour de France: Lance het verneuk, maar die verneukery was eintlik so wydverspreid dat niemand met sekerheid kan sê wie het nié verneuk het nie, so die resultaat is in die algemeen maar onder verdenking.

Ten minste weet ons nou dat die aapstreke op die veld net so uit die raadsaal uit kom…

Andrew Jennings ·

Lees die boek:
FOUL!: The secret world of FIFA: Bribes Vote Rigging and Ticket Scandals.
deur Andrew Jennings. 2006 en 2007 uitgawes.

johan ·

Wel wat kan mens anders verwag van n anc regering. Hulle veryk hulself, korupsie is hulle bynaam, zuma lag en maak grappe oor ernstige sake en die land en sy eie mense ly daaronder.

retha ·

Sê ek al lankal. “Okay ons hou dit by julle maaaar ál die geld wat gemaak word moet ts ons gedeel word.” Hoekom het daar nêrens iets tot voordeel van ons land gebeur nie? Ons moes tot al die stadions bou vir al die skelms.

Rynhardt ·

Die Anc het saam met Fifa n groot aandeel in die $10miljoen dollar se omkoopgeld om die destydse 2010 wereldbeker-sokkertoernooi aan te bied.Ons moet n bietjie verder kyk.Die nuwe wereldorde beheer alle groot sportbyeenkomste in die wereld.Hulle het hul groot deel gekry,so ook Fifa,die Anc ens.Die toernooi het destyds SA R46miljard gekos en die Fifa boewe het nog n ekstra R25miljoen ook ontvang.Die toernooi was n verlies en slegs 200000 toeriste het SA besoek.Die SAUK en RSG het destyds hard probeer om dit as suksesvol te bemark.Dit is niks om n toernooi as suksesvol te benark nie,maar om dit winsgewend te kry is n ander storie!Vanaand op SABC3 het die amerikaners dit duidelik gemaak dat talle bankinstellings betrokke was by die Anc en Fifa transaksies.Wat hul egter nie vir jou se nie,is dat alle bankinstellings sterk verbintenisse met die nuwe wereldorde het.Dit was egter lagwekkend toe Corne Mulder die volgende gese het:”Ons het geglo dit was Madiba magic”. Uiters lagwekkend,want SA is al vir jare deel van die nuwe wereldorde.Gaan ons die volle verhaal hoor oor die omkopery agter die skerms?Dit is n ander storie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.