Filmraad het hoof afbetaal sonder tugstappe, sê minister

Ayanda Dlodlo, minister van kommunikasie Foto: Getrude Makhafola (ANA)

Ayanda Dlodlo, die minister van kommunikasie, het haar misnoeë uitgespreek dat die Rolprent-en-publikasieraad (RPR) eerder besluit het om sy uitvoerende hoof Themba Wakashe ʼn goue handdruk te gee, in plaas daarvan om ʼn dissiplinêre proses te volg.

Dlodlo het gesê die RPR het haar in kennis gestel dat Wakashe ʼn kontantbedrag ontvang het, omdat dit glo moeilik vir die organisasie sou wees om sy saak teen die voormalige uitvoerende hoof te bewys.

“Die proses is afgehandel, maar daar was nie ʼn verhoor nie. Hulle het hom betaal en hy is weg by die instansie. Dis vreemd dat ondernemings gewillig was om ʼn beweerde sekspes af te betaal, dat die raad besluit het om die klagtes terug te trek en dat hulle vir hom ʼn goeie verwysingsbrief gegee het sodat hy die organisasie moet verlaat. Dis baie kommerwekkend vir my,” het Dlodlo gesê.

Sy het gesê sy moet nog ʼn volledige verslag van die RPR ontvang en moet nog hoor of ʼn klag van seksuele teistering die waarheid was.

“As jy vir my ʼn goeie verwysing gee om ʼn amp te verlaat, dan ontstaan die vraag of jy ooit ʼn saak teen my gehad het. Mens kan net indink hoeveel mense se lewens geruïneer is waar mense maklik die klagtes teruggetrek het. Hulle moet nog hul redes met my deel, want dit maak nie sin nie.”

Dlodlo het gesê toe sy die raad se voorsitter kontak, het sy gehoor dit sal ʼn moeilike saak wees.

Wakashe het meer as 200 aanklagte in die gesig gestaar van beweerde opstandigheid, seksuele teistering van ʼn werknemer en dat hy van die werk gedros het. Hy is verlede jaar geskors en het alle bewerings teen hom ontken.

Hy het gesê hy is gereed om homself te verdedig. RPR-raadslid Matome Ditlhake het gesê Wakashe het 14 maande oor op sy kontrak, en het dié bedrag as ʼn skikking ontvang. Hy wou nie sê hoeveel die RPR as ʼn goue handdruk vir Wakashe betaal het nie.

Die werknemer wat die aanklag van seksuele teistering aangemeld het, wou nie teen Wakashe getuig het nie. “Ons het ondersoek ingestel, maar die persoon wou nie na vore kom nie,” het Ditlhake aan ANA gesê. “Dit was reeds in die media en die voormalige uitvoerende hoof is as ʼn sekspes bestempel. Ons het ongelukkig nie enige bewyse gehad nie, aangesien die persoon nie wou getuig nie. Ons het dus nie op dié aanklag ʼn saak gehad nie.”

Die RPR is dus “deur omstandighede gedwing” om te skik en het nie “ʼn tjek in die hand gereed gehad” nie, het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

In die lig van mnr wakeshe se “regte” velkleur, is dit mos nou logies wat met ‘n dissiplinêre proses sal gebeur: die CCMA en die Arbeidshof sal eenvoudig die Filmraad dwing om hom weer aan te stel, waarna hy maar net kan aanhou met maak en breek soos hy wil.

andrea van vuren ·

Waar kry ons siek bankrot land nog geld vir goue handdrukke? O ja, verhoog die brandstof prys en krag rekeninge!

Francie ·

Dit is mos maar hoe dit deesdae hier gaan, die weg van minste publisiteit, want die mense van onbesproke karakter word sagkens by die deur gegroet.
Geen wonder dat soveel mense nie meer enige respek het vir die regstelsel of etiese werkswyse het nie.
Binnekort slaan hy weer vir hom ‘n yslike pos op ‘n ander plek uit.
Heelwaarskynlik het die mense wat hom laat gaan het, self ook geraamtes in die kas, en kan hulle nie bekostig om ‘n dissiplinêre verhoor te hou nie.
En dan wonder ons hoekom onse president so sagkens behandel word deur diegene wat hom wel uit sy posisie kan verwyder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.