Finale dodetal nog onbevestig ná trein ontspoor

Foto: ANA

Die finale dodetal van die tragiese treinongeluk wat Donderdagmiddag buite Kroonstad in die Vrystaat plaasgevind het, kan nog nie bevestig word nie, aangesien daar nog smeulende treinwaens is wat opgelig moet word.

Sipho Sithole, woordvoerder van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het aan Maroela Media gesê swaar masjinerie sal vandag na die toneel gebring word om die treinwaens op te lig wat steeds op die toneel is nadat die Shosholoza Meyl-trein gister ontspoor het.

“Ons kan nie nou kommentaar lewer oor die dodetal van die ongeluk nie, omdat van die treinwaens nog opgelig moet word en ons nie seker is of daar nog mense is wat in hierdie waens vasgekeer is nie,” het hy gesê. Hy het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor mediaberigte wat beweer dat die dodetal tans op 18 staan nie.

African News Agency het berig Mthura Swartz, waarnemende hoof van Prasa, het gesê 18 mense het in die voorval gesterf.

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Sithole het gesê hy kan in dié stadium bevestig dat 254 mense gister na hospitale geneem is en minstens 81 van die beseerdes intussen weer ontslaan is. Hy het gesê honderde ander passasiers wat nie in die botsing beseer is nie, is met busse van die toneel af vervoer.

Owerhede is intussen steeds op die toneel besig met hul ondersoek na die voorval en opruiming.

Maroela Media het vroeër berig die Shosholoza Meyl-trein het Donderdag omstreeks 09:15 buite Kroonstad ontspoor nadat dit teen ʼn vragmotor gebots het wat die treinspoor oorgesteek het, maar nie vinnig genoeg uit die pad kon kom nie. ʼn Motor was ook glo by die botsing betrokke.

Shosholoza Meyl het gesê sewe treinwaens het ontspoor waarvan een ʼn kragwa is wat help met kragopwekking op die trein. “Die kragwa het aan die brand geslaan en die vlamme het na die volgende wa versprei,” lui ʼn verklaring van die treindiens.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) en Prasa opdrag gegee om saam te werk en so vinnig as moontlik die ongeluk te ondersoek. Maswanganyi het ook gesê die vragmotorbestuurder is na ʼn hospitaal geneem om toetse te ondergaan om te bepaal of hy onder die invloed van enige middels was toe die ongeluk gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek bly in Kroonstad en daar is heelwat plekke waar die treinspoor noodgedwonge oorgesteek moet word. Toevallig, hierdie trein wat om 9:15 ontspoor het, moes al 07:36 in Kroonstad aangekom het en weer 7:52 vetrek het. Dit is een van slegs twee treine (vanaf Port Elizabeth en Oos Londen) wat enkele dae van die week vroegoggend en laatnag aankom, so dit is moontlik om die gevolgtrekking te maak dat die vragmotorbestuurder glad nie op treine buite hul gewone tye ag gegee het nie. Maar daar is ‘n kultuur by die gemeenskap om ten alle koste voor die trein oor die spoor te kom. Enkele jare gelede, het ‘n groot groep swart skoolkinders die spoorlyn reg voor ‘n aankomende trein oorgesteek, en hoe meer ek gegil het dat hulle moet stop, hoe groter histerie was daar om ten alle koste voor die trein oor die spoor te kom. En dit was werklik ‘n blinde histerie wat die kinders beetgepak het.

Verstaan nie ·

Bestaan daar dan geen betroubare passasierslys met realistiese feite nie? Indien nie, hoekom nie? Of is ander passasiers ongemerk teen geheime fooie opgelaai, min wetend hoe noodlottig hulle onwettige reis sal eindig?

Casper Labuschagne ·

By die stasies is daar ‘n passasierslys met naam, adres en ID nommer. En die treinbestuurder (soos in ‘manager’ nie ‘driver’ nie) het ‘n gedrukte lys van passasiers. Maar die peronne is ‘n ander storie, verkopers en allerhande karakters kry dit reg om op die laaste oomblikke oor die spoor te hardloop en op te spring, ‘n hele sub-ekonomie wat ook ‘n fooitjie in die hande plaas van diegene wat veronderstel is om dit op die trein self te verhoed.

Johann ·

En nou moet daar staat gemaak word op die vuis voos Vrystaat ANC LEGACY om die krises te hanteer? Sidder om te dink wat als NIE in plek is om sulke situasies te hanteer

Hartseer ·

Dit is n baie hartseer storie die treinongeluk Maar ek se ook n mens gaan nie sommer n spoorlyn oor voordat mens seker is daar kom nie n trein aan nie.
Die meeste spoorlyne is bewaak met kruis voordat jy die spoorlyn kry so dit se vir my die mense kyk nie hul padtekens nie en volgens my kennis moet die drywer van di trein fluit as hy n spooroorgang nader en n hele ent daarvan af
Ek het baie op die passesierstreine gery en ek is ook n ou “spoorie”

Blommie ·

Ek wonder ook waarom is nog niks van die trein drywer en/of assistent gesê is nie. Dit moet ook vir hulle uiters traumaties gewees het om te sien wat gaan gebeur en daar is niks maar niks wat gedoen kan word om betyds te stop as gevolg van momentum van trein.

Pieter ·

Treindrywers word geweldig getraumatiseer en ek ken persoonlik twee wie se treine getref is deur mense of motors op die spporlyne. Een van hulle het nou herhaaldelik mense doodgery en sy senuwees is gedaan. Die mensdom is wetteloos en ander ly daaronder.

Koeksuster ·

Ek is self van Kroonstad en omliggende gebied en dis vir my baie hartseer om te dink dat dit gebeur het! Ek wonder bymyself as die trok bestuurder getoets is vir verbode middels hoop ek die trein bestuurder en sy helper is ook getoets.

cecilia ·

ek stem saam jou al die betrokke drywers moet getoets word.

Pieter ·

Elke spooroorgang is ‘n STOP maar dit, soos ander verkeerstekens, word geignoreer. In Kaapstad stop mense lankal nie meer by rooi ligte nie. Elkeen wat hier kommentaar lewer moet eers hom/haarself afvra of hy/sy altyd stop by stoptekens. In my buurt is ses sulke oorgange en ek sien daagliks watter wile kanse mense vat, soms met noodlottige gevolg. Daar is meer as 7500 sulke oorgange in SA, respekteer hulle ter will van ander.

Willie ·

Kan iemand dalk së wat die brand veroorsaak het. Is dit die diesel??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.