Finale likwidasiebevel teen Liebenberg se Tariomix

hof, mikrofoon, justisie

(Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Louis Liebenberg, die omstrede diamantsmous, en sy Forever Diamonds and Gold-maatskappy het ʼn bloutjie in die hof geloop.

Waarnemende regter Mark Morgan het Vrydag in ʼn elektroniese uitspraak van die hooggeregshof in Mahikeng in Noordwes Liebenberg se maatskappy Tariomix, handeldrywend as Forever Diamonds and Gold, gelikwideer.

Dit volg nadat 11 applikante verlede jaar ʼn aansoek gebring het om Tariomix voorlopig te likwideer. Dié voorlopige bevel is nou deur Morgan se uitspraak finaal gemaak. Luidens berigte sal duisende beleggers in Liebenberg se diamantpakkie-skema geraak word.

Liebenberg het Tariomix gebruik om sy beleggers se geld in te vorder in sy sogenaamde diamantpakkieskema wat onder die vaandel van die Forever Diamonds and Gold-skema bedryf is.

Die applikante in die aansoek het aangevoer die skema is niks meer as ʼn piramideskema nie.

Morgan het dit in sy uitspraak duidelik gemaak dit was nie vir hom om te besluit oor die wettigheid van die skema en of dit ʼn piramideskema is al dan nie.

Hy het benadruk dat die feite voor hom nie voldoende was om so ʼn bevinding te maak nie en dat hy vermoed die applikante het dit bloot as redes aangevoer oor hoekom die likwidasie-aansoek so dringend is.

“Ek is van mening dat die bewerings [dat Tariomix ʼn piramideskema is] nie relevant is tot die bepaling van die kwessies voor my rondom die likwidasie-aansoek nie,” het Morgan bevind.

Die likwidateurs het vroeër in die hof aangevoer Tariomix is insolvent en word teen ʼn maandelikse verlies van meer as R74 miljoen bedryf.

Morgan het in sy uitspraak genoem dat die aansoek, wat oorspronklik deur Ruan Botes en Jeandré Viljoen gebring is, heelwat verander het. Hulle het aanvanklik aangevoer die maatskappy skuld hulle meer as R700 000.

Viljoen en Botes het hulle ontrek, maar 11 ander partye het aangesluit by die aansoek. Volgens Morgan is sekere tydlyne uitgewerk waarvolgens al die partye hul verklarings by die hof moes indien.

Buiten vir Tariomix, wat gekla het dat van die applikante en respondente nie behoorlike prosesse gevolg het en by die voorgeskrewe tydlyne gehou het nie, is geen ander noemenswaardige redes aangevoer hoekom die finale likwidasie bevel nie goedgekeur moet word nie, het Morgan bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

Ek ken mense wat stinkryk uit die skema geword het. Hoop nie dit back fire vir hulle nie, daar gaan ‘n geween en gekners van tande wees.

Casper ·

Marietjie Prinsloo was baie lank agter tralies oor ‘n piramiede skema.Gaan die
Liebenberg se voorland wees.Hy is baie uitgeslape.Ek hoop net die mense kry hulle geld terug.

SwartBees ·

Die diamant vark gaan seker nou weer n preek op neem in sy stort en verkondig watse gelowige man hy is….blah blah blah.

Oomniklaassevriend ·

Die likwidasiebedryf het teen die aanvanklike bedoeling deesdae ontaard tot praktyke waar kapitaalkragtige besighede en groot boerderye geteiken word dmv goedgelowige aansoekers. Likwidateurs maak miljoene en die aansoekers kry gewoonlik min of niks en moet dikwels selfs instaan vir kostes.

Doreen ·

Ek sien Liebenberg en sy trawante kla dat slegs 10 persone die likwidasie-aansoek gebring het. Wel al het net 1 dit gebring is dit al klaar ‘n stem vir duisende wat hulle geld verloor het. Ek lag lekker vir die trawante hier gaan lang trane gehuil word as hulle die “winste” moet beginne terugbetaal. Al kry ek 1c in die rand dan juig want daardie geld is al lankal in my boek afgeskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.