‘Finale nekslag’ vir toerisme-rasfonds

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir die departement van toerisme se toerismefonds bly onwettig.

Solidariteit en AfriForum het Woensdagoggend die departement se toerismefonds die finale nekslag toegedien toe die departement se aansoek om verlof tot appèl in die Konstitusionele Hof met koste van die hand gewys het.

Die departement wou appelleer teen ʼn uitspraak van 2021 waartydens die hoogste hof van appèl in Bloemfontein in Solidariteit en AfriForum se guns beslis het dat die gebruik van SEB as kriteria vir die toerismefonds onwettig is.

“Die kriteria vir die fonds was doodeenvoudig rassisties, sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit nadat die land se hoogste hof dit beaam het.

“Die regering kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure gewys. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike Covid-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor aangerig het, uit te buit om boonop teen mense te diskrimineer. Suid-Afrikaanse burgers is moeg daarvan om toe te kyk hoe die regering se rasse-ideologie die land se ekonomie lamlê. Hierdie uitspraak stuur ʼn belangrike boodskap aan die regering dat ras nie meer as ʼn troefkaart bo alle ander belange kan dien nie.”

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, van 2019 tot 2021 die minister van toerisme, het in 2020 die toerisme-ekwiteitsfonds as ʼn instelling bekendgestel wat slegs lenings en toelae aan ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, sou toestaan. Solidariteit en AfriForum het egter volgehou dat die toeken van hulpfondse op grond van ras onredelik is en dit is in September 2021 as onwettig verklaar.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die jongste uitspraak deur die Konstitusionele Hof is ʼn harde hou vir die Suid-Afrikaanse regering in sy stryd om sy “reg” om te kan diskrimineer op grond van ras te probeer beskerm.

Van der Bijl sê op sy beurt die uitspraak is ʼn reuseoorwinning, “maar die nalatenskap van die regering se verknogtheid aan ras bo alles anders is steeds sigbaar by talle staatsinstellings soos Eskom en dit dra tot ʼn groot mate by tot die huidige krisis in die land.

“Vandag se uitspraak lê egter ʼn sterk fondasie vir verdere gevegte en litigasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Welgedaan,nou kan die regering sy beleid rakende kwotas,ras en velkleur uit die wetboeke uitskryf en almal gelyk behandel ongeag ras of kkeur.

Harley Davidson ·

Duidelik is en moet alles onwettig wees wat die kriteria van velkleur ondersteun, seb,kwotas sisteme gebaseer op velkleur moet beveg en geskrap word.

Sê maar net ·

Baie geluk Solidariteit en Afriforum, dit is ‘n groot oorwinning vir ons minderheidsgroep.. Dankie vir julle harde werk en uithouvermoë. Dit gee ons almal nuwe moed. Nou moet julle asseblief vir Eskom ook takel oor hierdie aangeleendheid. Sterkte vorentoe!

Marcello ·

Stem 100% saam, dit is hoekom dit gaan soos dit gaan in Eskom a.g.v Affirmitative Action, en dit is hoekom Andrè de Ruyter getreiter is, want hy moet mos nou vervang word !!!!!!!!!!!

Daisy ·

Dit is wonderlik, maar soos onder genoem – gaan dit prakties toegepas word. Dischem het kastig hulle moratorium teruggetrek – weet enige iemand van net een witmens wat by Dischem aangestel is?
Vra maar net namens ‘n vriend.

Lourens ·

Dagvaar nou daardie minister en sy handlangers in hulle persoonlike hoedanigheid vir die volle regskoste. Anders kom dit eenvoudig uit die belastingbetaler se sak, en verminder beskikbare geld wat beter aangewend kon word êrens anders.
Dit sal ook ‘n sterk boodskap stuur dat hierdie onbevoegde amptenare nie langer met ander mense se geld hulle eie oortuiginge kan probeer vestig nie.

Nico ·

Ek wonder of hierdie mense nie aan ‘n miderwaardigheids gevoel ly nie. Dit is al waaroor dit gaan, weet die mense ooit wat is rassisme daar is rassisme onder hulle self tussen die rykes en die armes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.