Finale uitstel in saak teen menseregteaktiviste

Schalk en Leoni van der Merwe (Foto: Facebook)

Die saak teen die menseregteaktivis Schalk van der Merwe en sy vrou, Leoni, is vandeesweek vir die “laaste keer” uitgestel.

Die egpaar het Maandag weer in die hof op aanklagte van sameswering om moord te pleeg verskyn nadat bewerings van ’n sogenaamde moordlys vroeër vanjaar teenoor hulle gemaak is.

Die Vrystater Hannes Lottering beweer hy is nommer een op dié lys, waarvan die bestaan nog nie bewys is nie.

Die egpaar se regsverteenwoordiger het nou in die hof in Pretoria‑Noord aangevoer dat die saak voorlopig teruggetrek moet word aangesien die staat nog nie sy ondersoek afgehandel het nie.

Die landdros was egter nie daarvoor te vinde nie en het ’n finale uitstel aan die staat toegestaan. Dié het nou tot 14 Junie om sy ondersoek af te handel óf die saak sal teruggetrek word, sê Jacques Visser, ’n spesialisondersoeker verbonde aan die private speurder Mike Bolhuis se spesialis-sekuriteitsdiens.

Bolhuis se span monitor die verloop van die saak, maar is tot op hede nie deur die egpaar aangestel om hulle te verteenwoordig nie, het Visser Dinsdagmiddag aan Maroela Media verduidelik.

Volgens Visser beoog die staat om die saak na die hooggeregshof oorgeplaas te kry sodat die egpaar verhoor kan word. Die dossier sal nou na verwagting na die direkteur van openbare vervolging verwys word wat oor die pad vorentoe sal beslis.

Schalk en Leoni is in Februarie in hegtenis geneem voordat borgtog van R5 000 elk in Maart toegestaan is.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar hou vol dat Lottering ’n smeerveldtog teen hulle voer en hulle al geruime tyd teister weens hul standpunt rakende Covid-19 en inenting.

Schalk, ’n menseregteaktivis wat ook regsadvies gee, is die direkteur van ’n konsultasie-onderneming en die afgelope jaar veral in die nuus oor sy stryd teen verpligte inenting in die werkplek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Ag genade waarom kan die een nie maar die son oor die ander 1 se kop laat skyn nie.
Wat jou siening en gevoel is oor die inenting het mos nou net mooi niks te doen met
ander nie. Gaan jou gang en los tog net ander uit.

Skadu ·

Sê dit tog ook net vir die werkgewers wat hul werkernemers verplig om die inenting te neem.

Swerwer ·

Dit is verkeerd en bly verkeerd om jou siening/mening op enige iemand af te dwing/forseer.

Trotse Boervrou ·

Pleks los hulle Schalk en Leoni nou net uit. Dit is so duidelik soos daglig dat dit ‘n heksejag was. Almal stem natuurlik nie saam met my nie maar dit is elkeen se reg om te glo wat hy wil. HULLE IS ONSKULDIG!

JM ·

Swerwer, ek stem saam met jou. Trotse boervrou, hoe weet jy Schalk en Leonie is ONSKULDIG! Los dit vir die hof!

Papsak ·

Liewe aarde los mekaar net tog uit wat is nou so moeilik daaraan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.