Finansiële hoof van Kgetlengrivier-munisipaliteit geskors

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. (Argieffoto: Molaole Montsho/ANA)

Sipho Ngwenya, finansiële hoof van die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Noordwes, is Maandag geskors hangende ’n ondersoek na ernstige finansiële ongerymdhede by die munisipaliteit.

Die munisipaliteit bedien Koster, Swartruggens en Derby.

Frans Potgieter, VF Plus-raadslid van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, sê die skorsing volg op verskeie klagte wat teen Ngwenya aanhangig gemaak is. Dit sluit in nalatigheid, finansiële wanbestuur, wanbesteding van munisipale geld en ongerymdhede met verkrygingsprosesse.

Volgens Potgieter sal die skorsing voorlopig vir drie maande geld hangende ’n indringende ondersoek na die bestuur van die munisipaliteit se geldsake. Verdere klagte teen Ngwenya kan volg hangende die uitslag en vordering van die ondersoek.

Maranatha Khuno is intussen aangestel as waarnemende finansiële hoof.

Daar is tans ook ʼn saak hangende teen die munisipale bestuurder, Joseph Mogale.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het in Mei gevra dat Mogale weens minagting van ’n hofbevel vir 90 dae tronk toe gestuur word. Die hof het egter bevind dat Mogale nie aan minagting van die hof skuldig is nie en daar word tans teen dié beslissing geappelleer.

Die inwoners van Kgetlengrivier sukkel al jare lank weens gebrekke dienslewering en die verval van infrastruktuur.

Maroela Media het vroeër berig die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners-aksiegroep (KBI) het in Desember beheer geneem van die water- en rioolaanlegte op Koster en Swartruggens. Dié aanlegte het lank daarna sonder voorval gewerk en skoon drinkwater het uit inwoners se krane gevloei.

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Kgetlengrivier-munisipaliteit het egter in Maart vanjaar ʼn dringende aansoek ingedien om die bestuur van die water- en rioolwerke in die dorpe van die KBI terug te neem.

Dié aanlegte is in Mei ingevolge ’n hofbevel weer aan die beleërde munisipaliteit oorhandig. Die dorpe sukkel sedertdien weer met gebrekkige dienslewering.

Die KBI en Pionier het aansoeke om verlof tot appèl ingedien teen die onlangse uitspraak dat water- en rioolaanlegte op Koster en Swartruggens aan die Kgetlengrivierplaaslike munisipaliteit teruggegee moet word.

Carel van Heerden, ʼn verteenwoordiger van KBI, sê hulle wag nou vir ʼn hofdatum vir die appèlverhoor. Hy sê intussen het inwoners sporadies water.

KBI het intussen ook ’n hersieningsaansoek teen Magalies Water ingedien om meer inligting rakende die waterverskaffer se aanstelling deur die Kgetlengrivier-munisipaliteit te bekom.

Magalies Water het die bedryf van die aanlegte namens die munisipaliteit oorgeneem en inwoners van Koster en Swartruggens sit sedertdien – nes in die verlede – met gebrekkige waterverskaffing.

Van Heerden sê die skorsing van Ngwenya is ʼn stap in die regte rigting.

“Een veldslag is gewen, maar die oorlog is nog nie verby nie,” het Van Heerden aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dup ·

Die persone wie hierdie kader aanstellings maak moet ook geskors word…maar,dan gaan daar geeneen oor wees nie….

Kokerboom ·

Wat ek graag wil weet is Waar het ANC die sogenaamde klomp “bevoegde”dorpsbestuurders uitgekrap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.