Finansiële hulp vir 252 ondernemings in Wes-Kaap

David Maynier saam met personeellede van Bodyline Coachworks (Foto verskaf)

Meer as R38 miljoen is deur die Wes-Kaapse Covid-19-sakeverligtingsfonds aan 252 klein ondernemings in die provinsie verskaf wat minstens 2 000 poste tydens die pandemie gered het.

David Maynier, provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het gesê R38 268 000 is deur die Covid-19-sakeverligtingsfonds, wat verlede jaar September van stapel gestuur is, aan ondernemings in die formele en informele sektor versprei, wat swaar getref is deur Covid-19-beperkings.

“Ek kon vandag drie van dié ondernemings besoek wat ontvangers was van hierdie fondse. Bodyline Coachworks is ʼn jeugonderneming wat in Killarney Gardens gebaseer is. Elf personeellede verskaf motor- en bakwerk-hersteldienste. K9 Petfoods is ʼn vroueonderneming wat in Montague Gardens gebaseer is en 50 persone in diens het. Dié onderneming verskaf troeteldierkos aan van die grootste handelaars in Suid-Afrika. Eat Smart is ook ʼn vroueonderneming in Montague Gardens met 14 personeellede wat gesonde gereed-om-te-eet-etes aan handelaars reg oor Suid-Afrika verskaf.”

Volgens Maynier is elkeen van dié ondernemings op verskeie maniere swaar getref deur Covid-19, waaronder personeellede wat siek geword het of in kwarantyn moes wees en die verskaffingsketting is geraak deur vertragings by die Kaapstadse hawe. Die markte is ook negatief geraak deur afsonderingsregulasies.

“Elkeen van hierdie ondernemings het egter groot weerstandigheid gewys in die lig van die uitdagings en ek is baie dankbaar dat ons hulle deur die sakeverligtingsfonds kon help om hul deure oop te hou en poste in die Wes-Kaap te beskerm.”

Volgens Maynier het die fonds finansiële bystand aan die ondernemings verskaf deur ʼn finansiële toelaag met die doel om uitgawes soos vaste koste, bedryfskoste, verskafferskuld te dek.

“Die Wes-Kaapse Covid-19-sakeverligtingsfonds is een van die talle maniere hoe ons hard gewerk het om klein ondernemings tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Ons weet ondernemings, veral klein ondernemings, het tydens die pandemie gesukkel. Daarom het ons van die begin af hard gewerk om ondernemings te help om veilig en verantwoordelik hul deure oop te hou sodat ons poste kan beskerm en die ekonomie in die Wes-Kaap kan red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.