Finansiële knyp wink vir meeste SA’ners ná aftrede – verslag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Minder as een uit elke tien Suid-Afrikaners het ʼn behoorlike en weldeurdagte aftreeplan. Só het ʼn onlangse persioenwerklikheidsverlag deur die versekeringsmaatskappy 10X Investments bevind.

Die helfte (50%) van werkende Suid-Afrikaners het glad nie ʼn aftreebesparingsplan nie, meeste van dié is vroue. Die verslag wys ook dat jonger werknemers meer geneig is om ʼn behoorlike aftreeplan te hê as ouer werkers en dat meeste Suid-Afrikaners bekommerd is dat hulle nie genoeg geld sal hê om van te lewe ná aftrede nie.

“Dít is baie mense wat sal moet staatmaak op hul vriende, familie of ʼn skrale staatspensioen,” het Tobie van Heerden, uitvoerende hoof van 10X Investments, gesê.

Die verslag, wat die leefstyl van 15 miljoen werkende Suid-Afrikaners wat meer as R8 000 per maand verdien, meet, wys dat talle burgers nie eers maandeliks met hul salarisse kan uitkom nie.

“Selfs voordat die Covid-19-pandemie ons lewens en ekonomie omgekeer het, was baie Suid-Afrikaners in finansiële nood. Daar is miljoene mense wie se inkomste nie aan hul onmiddellike lewensvereistes voldoen nie, wat nog te sê van hul pensioenvereistes.”

Ander bevindings in die verslag sluit in:

  • Soveel as 64% van mense kan nie bekostig om vir aftrede te spaar nie. Gevolglik het 50% van mense nie ʼn besparingsplan nie. Dít het geleidelik toegeneem sedert verlede jaar (49%) en in 2019 (46%).
  • Altesaam 21% van mense wat wel ʼn plan het meen dat dit baie vaag is, terwyl ʼn verdere 21% glo hulle het ʼn goeie idee wat hul fonds behels.
  • Slegs 8% van die werkende Suid-Afrikaners het egter ʼn deurdagte plan vir hul aftrede eendag.
  • Die verslag wys dat hoewel die tendense onder alle ouderdomsgroepe, demografie en inkomstevlakke voorkom, is 54% van diegene wat nie ʼn plan vir die toekoms het nie vroue.
  • Die meeste Suid-Afrikaners wat nie ʼn aftreeplan het nie (79%), is tussen die ouderdom van 35 en 49, gevolg deur die 25 tot 34 jarige ouderdomsgroep en diegene bo 50 jaar oud (76% elk).
  • Soveel as 79% van mense is bekommerd dat hulle nie genoeg geld sal hê om van te lewe nadat hulle afgetree het nie.
  • Meeste van die deelnemers aan die navorsing (74%) vermoed dat hulle een of ander inkomste sal moet genereer nadat hulle afgetree het. Slegs 7% is oortuig daarvan dat hulle definitief nie nodig sal hê om te werk nie.

“Die belangrikste pilare tot sukses tydens aftrede is om vroeg te begin en konsekwent te spaar. Dit word egter ál duideliker dat Suid-Afrikaners hul huidige leefstyl prioritiseer, ten koste van hul toekomstige gemak,” sê Van Heerden.

Suid-Afrikaners oor of hulle ná aftrede nog sal moet werk.

Pensioenarisse leef goedkoper

Luidens die verslag kan ʼn pensioenaris gewoonlik sy of haar lewensstandaard voor aftrede handhaaf op ʼn laer bruto inkomste as wat hy of sy nodig gehad het toe hy of sy nog gewerk het.

Pensioenarisse se finansiële verpligtinge sal waarskynlik ook minder wees as toe hulle gewerk het.

“Pensioenarisse benodig waarskynlik minder brandstof omdat hulle nie kantoor toe en terug hoef te pendel nie en sal ook minder op hul klerekas en uiteetmaaltye bestee.

“By aftrede sal ouers verkieslik ook nie meer hul kinders moet ondersteun nie, en teen daardie tyd sal die verband op ʼn huis ook afbetaal wees. Verder geniet pensioenarisse ʼn laer gemiddelde belastingskoers,” sê Van Heerden.

Hoewel sommige uitgawes, soos gesondheidsorg- en ontspanningskoste kan toeneem, voorspel kenners dat die algehele lewenskostes van pensioenarisse mettertyd afneem.

Van Heerden stel voor dat werkende persone ʼn aftreebesparing-sakrekenaar gebruik om te bepaal of hulle nog op dreef is om hul leefstyl tydens aftrede te handhaaf op grond van hul huidige besparing, spaarkoers en beleggingstrategie.

Suid-Afrikaners oor hoekom hulle nie spaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Cherokee ·

Wat in ag geneem moet word, inkomste nà aftrede MOET jaarliks styg met die minimum van inflasiekoers.

Buck ·

Wel ek het nie slegte polisse gehad nie, met covid en die regering wat als toemaak moes ek oor die periode kies tussen my winkel en die polisse. Ek moes die meeste polisse laat gaan om nou te oorleef. Na soveel jare sit ek ook nou in die “hand na die tand” bootjie

Cherokee ·

Maar Buck, die winkel verskaf wat vele mense nie het nie, ‘n stygende inkomste. Miskien bietjie eksperimenteer met nuwe produkte, hou vas wat jy het.

Sobymykoolkop ·

So. Minder as EEN uit tien beteken dan seker NUL uit tien?

Baardman ·

Ai, red n volk. As 8 uit n honderd mense n plan het (by voorbeeld), is dit statisties 0.8 uit 10.

Cherokee ·

Waarom dit dan aan 10 meet terwyl dit vergelyk kon word met 100?

Karel Kobus Kruger ·

Verreweg die grootste finansiële uitgawe is ouerskap. As jy daarsonder kan klaarkom, sal jy gemaklik kan aftree, selfs voor 60.

Jacobus ·

Dit is presies waar hierdie kommunisiese ANC regering die burgers van Suid Afrika wil hè, almal moet afhanklik van die staat wees. Jou enigste inkomste moet SASSA wees, so bly die ANC in beheer.

Sarel ·

Navording rondom Pensioenarisse…..
Staatspensioenaris sd inkomste is R1800.00 p.m
Daaruit het hulevdoms R300 tot R400 vir Kruideniers
Aftree oorde geweldig duur…indien jy dit kan bekostig
Mediese dienste…aangewese op Staatdgesondheid
Lyk vir my hulle het navording onder ” gegoede” pensioenarusse gedoen. Gazn doen weer julle huiswerk

Grassie ·

Die meeste bejaardes wat ek ken is van hulle kinders afhanklik om te oorleef. Byna almal van hulle het redelike voorsiening vir hul oudag gemaak maar inflasie het hul ingehaal – ‘n inkomste wat tien jaar gelede nog vodoende was, is nou ‘n hongerloon. Dit is goed om in jou werksleeftyd ‘n huis af te betaal maar wanneer die maandelikse eiendomsbelasting en munisipale rekening met jou klaar is, is daar nie veel oor om van te lewe nie, dan is jy op die pap en tik stadium. Wanneer ‘n mens nie meer finansieel selfstandig is nie moet andere help, maar ‘n ander se genade is ‘n verdomde genade. Dit is ‘n genade om vroeg dood te gaan.

annie ·

… en die syfers geld vir die huidige generasie. Wat van die jonger garde waarvan baie jongmense nou reeds nie werk kry nie en hulself besig moet hou met belaglikhede ten spyte van vele se naskoolse kwalifikasies. Die ANC weier om die landsgrense te sluit vir uitlandse-parasiete en hoop die VN gaan miljarde iewers uittoor vir the darling of the world…

Frank John ·

Ek sê altyd, dat elke persoon vanaf sy/haar eerste inkomste moet ‘n spesiale spaar plan hê bo en behalwe pensioen fonds en polise ens, net in die bank, waarvan jy nooit geld uit trek nie behalwe waneer jy eendag op pensioen gaan. Noem dit “jou-eie-pensioen-spaar-plan”. Van dag een maak gereed vir pensioen. Bo alles wil ek sê: vertrou op God om jou te help om gereed te wees waneer jy op pensioen gaan en Hy sal jou help.

VaalDonkie ·

Ja ek het gaan kyk na my annuiteit wat my werkgewer bestuur. Dit sou skaars my groente en vleis elke maand dek. Of miskien een van daai hokkies waarin oumense moet bly in ‘n “aftreeoord”.

Om vroeg te begin spaar maak ‘n reuse verskil. Ongelukkig vir my het ek basies my jare tussen 18 en 30 verspeel en sodoende ‘n groot agterstand ontwikkel. Maar anyway. mens moet maar vorentoe kyk en Lotto speel met die FNB eBucks.

Hardekwas ·

Die staat – anc en vorige np, het sy burgers tot bankrotskap en armoede belas. Dié wat n leefbare pensioen het moet baie dankbaar wees. Hulle is waarskynlik ook die absolute minimum van die bevolking.

Ettienne ·

Die eerste vraag wat gevra word is gewoonlik, ons sal moet kyk nahoeveel jy moet spaar om jou “huidige” lewenstaandaard te handhaaf oor die volgende 20 jaar na aftrede. Dit is waar die probleme begin. Van die begin af word beplanning hierdeur gekortwiek. Die vraag moet lei, met hoeveel is jy bereid om na aftrede af te skaal en wat die minimum waarmee jy sal kan leef ?

Mieke ·

Die ANC, Junk status van die rand, Covid, elektrisiteit, water, rates and taxes, belasting op belasting op belasting wat steeds betaal moet word, btw, motor lisensies, mediese onkostes, bestuurders lisensie, brandstof ens., ens., is verantwoordelik daarvoor dat die gemiddelde Suid Afrikaner eenvoudig niemeer finansieël kan byhou nie. Ek moet eenvoudig bly werk. Van aftrede is daar geen sprake nie!

VaalDonkie ·

My vaste maandelikse uitgawes is R33000. En ons lewe nie luuks nie. Dis maar net wat dit kos om ‘n familie van 3 te onderhou hier in die Kaap (dit sluit nou in huur, kos, skoolgeld, water en ligte en mediese fonds). Ek weet nie waar mens ekstra geld moet uitkrap vir aftree nie. Gelukkig kon ek onlangs ‘n huis koop so ek hoef nie te erg te bekommer oor waar ons gaan bly nie, maar nogtans weet ek nie of ons gaan kan eet as ek nie werk tot ek omval nie.

Miskien as albei ouers ‘n redelik werk het, maar ek glo my vrou doen beter deur ons kind groot te maak en halfdag te werk as wat ons ‘n klomp ekstra geld het, maar iemand moet aanstel om die kind groot te maak en rond te ry (en haar kop vol nonsens praat).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.