Finansiering van politieke partye: Die skadukant

finansies-bestuur-geld-tyd-stevepb-pixabay

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Suid-Afrika is besig om een van die mees deursigtige politieke finansieringstelsels in die wêreld te vestig en positiewe kommentaar stroom van oral in, maar daar is ook ’n skadukant aan die voorgestelde nuwe bedeling.

Tydens hierdie week se parlementêre voorleggings was die land se twee grootste opposisiepartye, die DA en die EFF, aansienlik minder opgewonde as die ANC en die gemeenskapsorganisasies wat tougestaan het om die lof van die voorgestelde nuwe bedeling aan te prys.

Die vakverbond Cosatu is ’n goeie voorbeeld van hierdie aanprysing. Cosatu meen die doelwitte van die beoogde wetgewing kan help om die openbare wantroue in politieke partye en die politieke stelsel wat gevolg het op onlangse onthullings oor staatskaping en korrupsie, teen te werk.

Cosatu ondersteun veral die bepaling dat staatsfinansiering van politieke partye voortaan proporsioneel sal geskied, dat buitelandse regerings en Suid-Afrikaanse staatsorgane nie politieke partye mag finansier nie en dat opbrengs van misdaad nie as bron van partyfinansiering mag dien nie.

Die vakverbond ondersteun ook die bepalings dat daar toegang moet wees tot alle inligting oor partyfinansiering, en dat ’n te stigte kommissie, wat volledig aan die parlement verslag sal doen, partybefondsing sal monitor met die magte om oortreders te dagvaar en te straf.

Cosatu opponeer egter die voorstel dat die geldelike bydrae wat die staat (eintlik dus die belastingbetaler) omvattend vergroot sal word en dat die drempelbedrag van R100 000 waarbo alle skenkings in die openbaar erken sal moet word, te hoog is. Soos ander burgerregte-organisasies vra Cosatu dat daar geen drempelbedrag moet wees nie – alle skenkings moet openbaar gemaak word.

Dit klink dalk na ’n goeie idee, maar daar is ’n belangrike rede waarom die DA en die EFF min lus is vir dié storie. Dit is naamlik dat Suid-Afrika in praktyk in ’n groot mate ’n eenparty-dominante staat is, en dat enige persoon wat skenkings aan opposisiepartye maak, gevaar loop om diskriminasie met byvoorbeeld die toeken van staatstenders op die lyf te loop.

Dit is ’n groot skadukant wat die doeltreffende funksionering van spesifiek groter opposisiepartye soos die DA en die EFF, en dus hul rol as teenwig en oorsigverskaffer, erg kan kortwiek.

Tweedens beskou baie mense en instansies, waarvan Cosatu maar een is, dit as oneties dat die bedrag wat belastingbetalers vir die finansiering van politieke partye se lopende kostes moet verskaf, sal toeneem. Padlangs gestel: Waarom moet meer geld op politieke partye uitgegee word terwyl die ander almal uitgawes moet besnoei?

Daar is ook ’n denkskool dat die nuwe regulasies bloot ’n rookskerm is vir die ANC om meer geld uit die belastingbetaler te kry indien die party se steun aanstaande jaar tot onder 50% val en hulle dalk nie meer die regerende party sal wees nie.

Die ad hoc-komitee sal na afloop van die huidige stel voorleggings en verdere debat ’n nuwe stelsel van partybefondsing vir Suid-Afrika voorstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rynhardt ·

Ons moet beslis weet wie die Anc-regering,DA en EFF ondersteun vir jare!Dit sal vir jan publiek uitwys wie die ongure karakters is wat gehelp het om ons mense uit te moor, ???? te help onderdruk en beroof van n toekoms vir 24jaar al!Ondersoek moet ook ingestel word na politici se oorsese bankrekenings.?????Bring alles navore!!!Ek weier om n slaaf in SA te wees,terwyl politieke partye n lekker lewe kan handhaaf met hul voortgesette onderdrukking van Boervolk!

Mrs H ·

Ag nee wat, as julle mos nou so n doeltreffende SAP en Weermag het, sal niemand nerens ooit n risiko loop nie?! Of erken julle die gebroke swakheid van ANC stelsel nou? Sisulu se dan daar is niks om oor te kommer nie DA en EFF… Waaroor kommer julle dan? Kan dit wees dat julle skrikkerig is vir transito rooftog sondes wat gaan uit kom? Of dalk die aanvalle en rooftogte van plaasmoorde…?

KP ·

Ek weet mos hoe eerlik dit gaan wees, soos die huidige regering.

Wolhaar ·

Ek glo nie vir ‘n oomblik dat die ANC of enigeen in die Drie-Bedrieër Alliansie hierdie wetgewing staaf omdat dit goed is vir die land nie. Meer waarskynlik ‘n poging om die opposisie te ondermyn, maar ek is nie seker hoe nie. Waarskynlik omdat die ANC ander kanale het (via die staat) om geld in te vorder en natuurlik uit te betaal. Daar is mos geen verskil tussen party en staat nie, ne?

Op die einde van die dag is meer deursigtigheid beter. Ek verstaan nie hoekom ALLE staatsaktiwiteite nie by verstek openbaar is nie. Dit is tog veronderstel om vir en namens ons, die publiek, gedoen te word. In plaas van wetgewing wat die publiek toelaat om aansoek tot inligting te doen (PAIA), moet daar eerder wetgewing wees vir die staat om aansoek te doen om inligting van die publiek te weerhou.

Eish ·

” … dat die opbrengs van misdaad nie as bron van party finansiering mag dien nie.”
Wat baie duidelik impliseer dat dit wel die geval was in die verlede.
Gaan wonderlik wees om die eierdans van groot maatskappye te aanskou ter wille van politities korrekte besigheid.
Eish! Wat onse volkie nie bereid is om te doen in diens van Mammon nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.