‘Fishrot’-beskuldigde onthul knoeiery in verklaring

(Argieffoto)

ʼn Prokureur wat sedert die begin van verlede jaar in Suid-Afrika skuil ná sy rol in die Namibiese viskwota-skandaal op die lappe gekom het, gaan waarskynlik ʼn staatsgetuie in die sloerende bedrog-en-korrupsie-hofsaak in Namibië word.

In ʼn beëdigde verklaring van 76 bladsye, wat in April verlede jaar in Stellenbosch onderteken en pas aan die media gelek is, erken Marén de Klerk sy rol in die knoeiery in die visbedryf. Dié is in 2019 oopgevlek toe die WikiLeaks- webwerf sowat 30 000 vertroulike dokumente op die internet gepubliseer het.

Dit is “Fishrot” gedoop en het ʼn katnes van korrupsie tussen Yslandse seekosmaatskappy Samherji en individue in die Namibiese regering blootgelê wat sedertdien wyd deur die media gedek is.

Die nuuskanaal Al Jazeera het ʼn dokumentêre televisieprogram, The Anatomy of a Bribe: A Deep Dive into the Underworld of Corruption, internasionaal uitgesaai en gewys hoe hooggeplaaste politici en ampsdraers van Namibië se regerende Swapo-party onderhandel om omkoopgeld van miljoene Namibiese dollars na hulself en die party te kanaliseer.

Die destydse minister van vissery, Bernhard Esau en Sacky Shanghala, wat die minister van justisie was, staan tans tereg op aanklagte van geldwassery, korrupsie, omkopery en bedrog. Hulle medebeskuldigdes sluit in die voormalige uitvoerende hoof van die staatsbeheerde Fishcor, Mike Nghipunya, en James Hatuikulipi, voorheen die voorsitter van Fishcor se direksie en die hoof van Investec Bank in Namibië. Almal is reeds meer as ʼn jaar in aanhouding.

In De Klerk se verklaring, wat Maroela Media onder oë gehad het, beskryf hy wie die rolspelers en maatskappye was vir wie hy opgetree het en hoe sy trustrekening gebruik is om geld vir van die wat in aanhoudings is, rond te skuif. Hy vra ook vrywaring van vervolging op nege moontlike klagtes wat verband hou met belastingbedrog, diefstal en geldwassery.

De Klerk noem tien sleutelpersone met wie hy te doen gehad het sedert hy in 2016 by die visbedryf betrokke geraak het.

Die name van Adriaan Louw en die Suid-Afrikaner, Johannes Breed, verskyn derde en vierde op De Klerk se lys. Hy beskryf Breed as ʼn belangrike rolspeler in die visbedryf in Angola en Namibië, Louw se regterhand en ook die finansiële adviseur vir Louw se vele maatskappye. Louw en Breed ontken albei die bewerings in De Klerk se verklaring.

Mosselbaai (Foto: VisitMosselBay.co.za)

Maroela Media het in 2019 berig dat Breed op die direksie van ʼn omstrede vismeelfabriek is wat vir Mosselbaai beplan word. Die berig het ook gemeld dat Breed die besturende direkteur van die Angolese maatskappy African Selection Trust (AST) is en sedert 2018 op die direksies van agt Suid-Afrikaanse maatskappye in die visbedryf dien, met inbegrip van Afro Fishing wat die beplande Mosselbaai vismeelfabriek besit.

In sy verklaring sê De Klerk dat Louw en Shanghala hom in Desember 2016 dringend na ʼn vergadering in Langebaan ontbied het, terwyl hy in die Wes-Kaap met vakansie was. Hy het voorheen prokureurswerk vir Louw gedoen en Shanghala geken as die prokureur-generaal van Namibië, die pos wat Shanghala beklee het voor hy minister van justisie geword het. Hatuikulipi is tydens dieselfde vergadering aan hom voorgestel.

Hulle plan was om saam ʼn onderneming in die Namibiese visbedryf te begin wat Shanghala na bewering sou goedkeur onder die dekmantel van sy verpligtinge as die land se prokureur-generaal. Al die betrokkenes sou daarmee baie geld maak, is aan De Klerk gesê.

“Ek kry skaam om te erken dat ek op daardie oomblik besef het dat Shanghala sy posisie as direkteur-generaal gaan misbruik om kontrakte te teken waarby Louw en uiteindelik ook ek sou baat,” sê De Klerk, wat voorheen op die etiekkomitee van die Namibiese prokureursorde gedien het.

Bernardt Esau, voormalige minister van Visserye en Mariene Hulpbronne in Namibië.  (Foto: Verskaf)

Hy beweer hy het tydens die vergadering die indruk gekry dat Louw een of ander geheime ooreenkoms met Esau en Shanghala aangegaan het om te verseker dat visvangregte aan hom toegeken word. Louw het glo ook aan De Klerk verduidelik dat die rolspelers lede van Swapo is, dat hy aandele in hulle ondernemings sou kry en ʼn direkteur van Louw se Angolese maatskappy, African Selection Trust (AST), sou word, dieselfde maatskappy waarvan Breed die besturende direkteur is en waaroor Maroela Media voorheen berig het.

Die ooreenkoms oor aandeelhouding in die nuwe onderneming, Seaflower Pelagic Processing (SPP), is ʼn maand later onderteken. AST se nuwe Namibiese filiaal, African Selection Fishing (ASF), het 60% en die staatsbeheerde Fishcor 40% van die aandele gekry.  De Klerk, Louw en Breed is as direkteure aangestel saam met Hatuikulipi en Nghipunya.

Altesaam 25% van ASF se 60%-aandeelhouding moes na bewering op Louw se aanbeveling in ʼn rakmaatskappy, Celax Investments Number One, geplaas word wat De Klerk sou beheer. Hy het later besef dat daardie aandele óf besit óf ten minste beheer word deur Shanghala, Hatuikulipi en Nghipunya, wat toe nog hul amptelike posisies beklee het.

“Die skepping van Celax Investments het geboorte gegee aan die tweede komponent van die korrupte skema,” sê De Klerk.

Hy beweer Shanghala en Hatuikulipi het in 2017 – skynbaar sonder Louw se medewete – begin om enorme bedrae geld vir Celax Investments in sy regsfirma se trustrekening in te betaal, onder meer vir  ʼn geldwasprojek waarby Swapo sou baat. De Klerk sê hy besef dat dit moontlik gesteelde geld was; in mediaberigte is al geskat dit kan tot soveel as 75 miljoen Namibiese dollar wees.

Sacky Shanghala, die voormalige minister van Justisie (Foto: Verskaf)

Luidens De Klerk was Louw woedend vir Shanghala en Hatuikulipi toe die Fishrot-ondersoek op die lappe kom. Hy het opdrag gegee dat ʼn gedeelte van die Celax-aandele na hom oorgeplaas word, net om dit kort daarna weer na De Klerk oor te dra.

De Klerk moes glo deurlopend Louw se belange beskerm en verseker dat mededingers nie uitvind wat aangaan nie. Alle vrae aangaande die betrokke onderneming moes na bewering na Breed gestuur word wat dit dan beantwoord het. De Klerk sê die bewoording van die e-posse en die feit dat kopieë ook aan Nghipunya, Louw en Breed gestuur moes word, is ʼn bewys dat hulle almal ten volle bewus was van die sameswering om ʼn viskwota vir Seaflower te verkry.

Intussen is die wette oor die toestaan van viskwotas binne enkele maande deur Esau verander, glo om die korrupte ooreenkoms in werking te stel. Dit het toe verpligtend geword om die verwerking van vis in fabrieke op land te doen en nie langer op die oopsee nie. Seaflower Pelagic het in 2019 ʼn visfabriek van nagenoeg R540 miljoen in Walvisbaai in gebruik geneem en volgens destydse mediaberigte het Fishcor ʼn kwota van 50 metrieke ton makriel (maasbankers) met ʼn geskatte waarde van R120 miljoen per jaar vir 15 jaar aan Seaflower toegeken.

ʼn Senior advokaat het Louw en De Klerk egter gerusgestel dat hulle betrokkenheid by Seaflower hulle nie aan die omkopery- en korrupsie-aanklagte teen Fishcor kan verbind nie.

“Natuurlik het nie ek of Louw vertel van die gebeure wat ek in hierdie verklaring beskryf nie en wat begin het by die vergadering wat in Desember 2016 gehou is nie,” sê De Klerk.

Louw en Breed het albei uit Angola aan Maroela Media gesê dat hulle op 15 Januarie vanjaar vir die eerste keer van De Klerk se verklaring bewus geword het. Hulle beweer die inhoud is nie korrek nie en dat hy die Fishrot-skandaal met hulle projek Seaflower verwar.

Seaflower is glo deur die hele Namibiese kabinet goedgekeur en die oogmerk was ten alle tye om meer werk te skep deur ʼn land-gebaseerde pelagiese visverwerkingsfabriek op te rig, eerder as om vis op bote te verwerk.

“Land-gebaseerde fabrieke stel sewe keer meer werkers aan en daar is N$700- miljoen in die projek belê,” sê Breed, ʼn gekwalifiseerde rekeningkundige wat uit die aard van sy beroep op die direksies van verskeie maatskappye dien. “Seaflower is saam met Fishcor van stapel gestuur om die oogmerke van die nasionale ontwikkelingsplan te bevorder en ek het afskrifte van e-posse ontvang omdat ek die finansiële beplanner was.”

Louw sê in ʼn verklaring aan die media dat ʼn onafhanklike forensiese oudit gedoen is en dat die verslag hom en African Selection Trust (AST) onvoorwaardelik van enige oortreding vrygespreek het.

“Hierdie projek is aan drie potensiële vennote aangebied voordat AST genader is om ‘n vennoot te word en sedertdien is die grootste pelagiese visaanleg suid van die Sahara in Walvisbaai gebou.”

Louw sê hy het eers in Januarie 2020 bewus geword dat De Klerk Celax sonder sy medewete of toestemming gebruik het toe die media daaroor berig het waarna hy hom onmiddellik van die maatskappy gedistansieer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Almal van dieselfde dam se ganse . Nou fluit die een om sy eie nek te red . Dan is hulle nog afrikaners ook !

Kokerboom

Bedrog, gierigheid, korrupsie is endemies wereldwyd

pestilensie

Mmm, IN DIE TRONK , hoeveel van ons korrupte amptenare sit in die tronk ? Miskien is daar hoop vir Nam

Stephen

Maren De Klerk waarom het jy dan gevlug toe alles op die lappe kom? Jy mis Namibia en wil nou terugkeer dus probeer jy jouself verontskuldig.
Die skuld vir FISHROT begin bo by die President wat deeglik bewus was van al hierdie skelm transaksies. Hierdie skandaal het ook Swapo lelik geklap tot so n mate dat hulle rreds knou gekry het met die tussentydse verkiesings en op pad is om die volgende algemene verkiesing te verloor teen IPC van Dr Ithula.
Nog nooit voorheen het n skandaal die Regering so geruk soos hierdie een nie.

Elsabe

Liewe hel, hoe hou jy kop van waar jy werksaam is en wie jou kollegas is? Skryf jy alles in ‘n swart boekie op? Hoe lyk jou dagboek en waarheen moet jy more vlieg om by watter vergadering te gaan aanmeld? Rotting, die hele Afrika. Dit stink.