Fitch sien nie lig in SA tonnel

(Argieffoto: Reuters/Reinhard Krause/ANA)

Die Suid-Afrikaanse regering het Vrydag gesê hy neem kennis van die Fitch-graderingsagentskap se besluit om die vooruitsig vir die land se kredietgradering van stabiel na negatief te verander.

Fitch het reeds Suid-Afrika se staatskuld as laer as beleggingsgraad gegradeer en het dié gradering onveranderd op BB+ gehou. Die graderingsagentskap het gesê die toenemende begrotingstekort weens laer BBP-groei en verhoogde besteding, insluitend die regering se finansiële reddingsboeie aan sy eie staatsinstansies, veral Eskom, skep kommer oor die land se ekonomiese groeipotensiaal.

Fitch se verandering in sy vooruitsig is slegte nuus vir Suid-Afrika wat desperaat probeer om beleggers na die land te lok. Hoewel Fitch Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd gelaat het, is ʼn afgradering in vooruitsig dikwels ʼn voorloper tot ʼn kredietafgradering.

Die nasionale tesourie het in ʼn verklaring gesê die regering is bewus van die druk en risiko’s wat staatsinstansies, en veral Eskom, op die land se fiskale raamwerk plaas.

“Die regering probeer dringend om Eskom te stabiliseer en ʼn langtermynstrategie vir die toekoms te bewerkstellig. Die regering sal moeilike besluite moet neem om die land se skuldtrajek om te draai en die vooruitsigte vir ekonomiese groei te verbeter.”

Die tesourie het daarop gewys dat Fitch kennis geneem het van die regering se pogings om ekonomiese groei deur middel van beleggingsveldtogte aan te wakker, asook maatreëls om infrastruktuurbelegging te versnel, vervoer- en telekommunikasiekoste te verminder en visumregulasies aan te pas om toerisme ʼn hupstoot te gee.

“Soos die minister van finansies in die spesiale toedelingswetsontwerp bekendgemaak het, het ʼn span wat deur die direkteurs-generaal van die nasionale tesourie en openbare ondernemings gelei word, ʼn aantal opsies oorweeg as oplossing vir Eskom se skuldlas om volhoubaarheid te verseker.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër vandeesweek aangekondig dat die regering ʼn bykomende reddingsboei van R26 miljard aan Eskom sal toestaan. Dié bedrag is bykomend tot die ekstra R69 miljard oor drie jaar (en dus bykomend tot die ekstra R23 miljard vanjaar) wat van die belastingbetaler verhaal word om Eskom aan die gang te hou.

Benewens daardie ekstra R69 miljard oor drie jaar gaan daar ook ʼn bykomende R33 miljard benodig word in die volgende geldjaar (2020-’21) wat van die belastingbetaler en deur bykomende staatslenings gefinansier sal moet word.

Mboweni het erken Eskom is die grootste risiko vir Suid-Afrika se fiskale raamwerk, en dat die hele stelsel inmekaar sal stort as Eskom sink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jimmy

Afwaartste spiraal…..

Werner

Nie gedink hulle gaan wakker skrik nie sou dit al lankal gedoen het

James

Te laat die skip het te veel gate. Het begin sink. Daar is n BEE gat, korrupsie gat, wetteloosheid gat, onteining gat wat nou gemaak word en so kan ek aangaan.

Uiteindelik

So gaan dit in n land met een regerende party, maar twee regerings , een wat afbreek en korrup is en een wat probeer opbou!

Hettie

Wag tot die grondkwessie begin dan val ons in die asdrom !