Flabba-moord: ‘Dit was selfverdediging’

Nkululeko Habedi. Foto: Facebook

Nkululeko Habedi. Foto: Facebook

Sindisiwe Manqele het Maandag in die Alexandra-landdroshof in Johannesburg beweer sy het die musikant Nkululeko “Flabba” Habedi uit selfverdediging noodlottig met ʼn skerp voorwerp gewond.

Amanda Vilakazi, Manqele se regsverteenwoordiger, het haar kliënt se verklaring voorgelees. Manqele het ontken dat sy Habedi doelbewus vermoor het.

Sy het gesê dat haar lewe in gevaar was toe sy Habedi glo in die hart gesteek het. Sy het “ten sterkste” ontken dat sy hom doelbewus vermoor het.

“Ek stel dit dat ek onskuldig beskou moet word tot ek skuldig bevind word,” het Manqele in haar verklaring gesê. “Die staat het ʼn swak saak teen my. Ek is vol selfvertroue dat ek nie skuldig bevind sal word nie.”

Vilakazi het in die hof aangevoer dat haar kliënt nie ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou nie en dat sy toegang tot voldoende regsverteenwoordiging ontneem gaan word as sy nie borgtog kry nie.

Sy het gesê Manqele kan dadelik R5 000 borgtog betaal en, as dit meer is, die ekstra geld bymekaarkry met die hulp van vriende en familie.

Die staat het haar borgtogaansoek teengestaan. Die staat het aangevoer dat die aanklag teen Manqele baie ernstig is en het die aanname dat die staat ʼn swak saak het, verwerp.

Dit het ook vorendag gekom dat Manqele na bewering selfmoord probeer pleeg het deur haar polse met ʼn gebreekte bottel te sny nadat Habedi gesteek is.

Habedi (38), ʼn lid van die hip-hop-groep Skwatta Kamp, is verlede Maandag in die vroeë oggendure by sy huis in Johannesburg met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Manqele, sy meisie, is kort daarna in hegtenis geneem.

Landdros Gideon Schnetler het die verrigtinge verdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.