Flabba-moord: Vrou sal teen vonnis appelleer

Nkululeko Habedi. Foto: Facebook

Nkululeko Habedi. Foto: Facebook

Sindisiwe Manqele, wat Donderdag tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op die musikant, Nkululeko “Flabba” Habedi, het borgtog gekry totdat sy kan aansoek doen om teen haar vonnis te appelleer.

Regter Solly Sithole het die 27-jarige Manqele tronkstraf opgelê en beveel dat sy lewensvaardighede- en woedebestuurprogramme ondergaan as deel van haar vonnis. Norman Makhubela, Manqele se regsverteenwoordiger, het dadelik nadat die vonnis gevel is, aan die hof gesê sy kliënt sal appelleer.

Hy het gevolglik ʼn nuwe borgtogaansoek voor die hof gebring. Paul Schutter, die staatsaanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan en aan die hof gesê daar is geen rede om Manqele vry te laat terwyl sy wag om te hoor of haar appèl aangehoor sal word nie.

Sithole het egter borgtog aan Manqele toegestaan en beveel sy moet ʼn opsporingstoestel dra en twee maal per week by die Midrand-polisiestasie aanmeld.

Manqele het gedurende die verhoor erken sy het Habedi uit selfverdediging met ʼn skerp voorwerp doodgesteek, maar het gesê sy het hom nie doelbewus vermoor nie.

Hoewel 15 jaar tronkstraf die aanvaarde minimum vonnis vir moord is, het die hof dwingende omstandighede gevind om hiervan af te wyk. Die regter het gesê daar was ʼn gespanne konfrontasie die dag van die moord tussen Manqele en Habedi. Indien daar nie ʼn konfrontasie was nie, sou die moord nooit plaasgevind het nie.

“Jy het ook probeer om Habedi weer by te bring nadat jy hom met die skerp voorwerp gesteek het. Dit wys vir my daar wasʼn vlak van spyt en skok by jou aanwesig,” het die regter gesê. Hy het ook genoem Manqele was die slagoffer van wedersydse jaloesie en sy het ʼn geskiedenis van besitlike en gewelddadige verhoudings.

“Soos ook in die sielkundige se verslag aangedui, is jy nie inherent ʼn bose mens nie en is daar ʼn goeie kans dat jy gerehabiliteer kan word. Rehabilitasie begin by jou en jy moet erken dit wat jy gedoen het, was verkeerd  en dat jy gereed is vir rehabilitasie,” het Sithole gesê.

Manqele se aansoek om appèl sal op 12 April aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wouter ·

Maar hulle huil en skree omdat Valush nie n paar maande vroeer parool kry nie nadat hy 24 jaar + gesit het. Moord is moord. Net omdat hy wit is en die regter ook.

m ·

Ek verstaan nou glad nie, miskien is ek net baie dom, maar hoe de hel kry jy 12 jaar tronkstraf en net daarna borg. Jy is reg Wouter hier is nou groot bohaai oor Valush maar het hierdie vrou nie ook moord gepleeg nie, maar niemand brul oor haar borg nie. Pateties!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.