Flaminkkuikens terug na Kamfersdam

Dié jong kleinflaminke, wat op Mike Bolhuis se kleinhoewe buite Pretoria grootgemaak is, sal binnekort na Kamfersdam in Kimberley teruggekeer. Foto: Mike Bolhuis – Flamingo Project Facebook-blad.

Sowat 130 jong kleinflaminke het Woensdag per vliegtuig van Durban en Pretoria na Kamfersdam in Kimberley teruggekeer na ʼn komplekse reddingspoging van die kuikens, wat twee en ʼn halwe maande geduur het.

Nog ʼn verdere 800 sal ook in die volgende paar weke na Kimberley teruggevlieg word en by die ander jong flaminke aansluit.

Luidens berigte het die dam in die tussentyd voller geloop nadat Kimberley mildelik reën gehad het. Die Kimberley Ekapa Mining (KEM) het ook die Sol Plaatje-munisipaliteit gehelp om meer gesuiwerde rioolwater in die dam terug te pomp wat die watervlakke van die dam laat styg het en omstandighede vir die flaminkkolonie verbeter het.

Daar word gereken dat daar nou weer sowat 5 000 wilde kleinflaminkkuikens is, wat hulle ook weer op die dam kom vestig het nadat die droogte gebreek het.

Mike Bolhuis, ʼn private speurder van die Jakarandastad en liefhebber van die voëlspesies, het op 24 Januarie ʼn reddingspoging saam met die Saam Staan Kimberley-groep van stapel gestuur nadat die kuikens se ouers hulle neste einde Januarie en Februarie verlaat het weens ʼn uitgerekte droogte en gebrek aan water in dié dam in die Noord-Kaap.

Bolhuis het Vrydag aan Maroela Media gesê hy het nie genoeg woorde om sy hele ervaring met die reddingspoging te beskryf nie.

“Ek is trots om dit te kon regkry om soveel van hierdie kuikens te red, maar ek gaan hierdie voëls ook vreeslik mis. Hulle het diep in hart gekruip.

“ʼn Mens kan jou verkyk aan hierdie voëltjies en hoe hulle met hulle snawels die water filtreer terwyl hulle die water met hulle pote omroer. Niemand kon hulle dit leer nie, hulle is net eenvoudig reg hiervoor ontwerp,” vertel Bolhuis.

Hy het net lof vir elke veearts, bewaringsbeampte, aktivis, vrywilliger en skoonmaker wat by tye 24 uur, sewe dae in ʼn week, gewerk het om te verseker dat die flaminke versorg en veilig is.

Volgens dr. Katja Koeppel, ʼn wildleweveearts van Onderstepoort, gaan al die flaminke wat die reddingspoging in Januarie oorleef het, stelselmatig binne die volgende weke op Kamfersdam naby die wilde kuikens vrygelaat.

Die flaminke is met hul aankoms in Kimberley geweeg, gemeet en gering. Die swaarste kuiken het 1,4 kg geweeg en die gemiddelde gewig was 900 g. Die vlerkspan van die kuikens was tussen 100 en 240 mm. Al die data van die jong flaminke is elektronies vasgelê.

Kuikens met die grootste vlerkspan is die sterkste en het al hulle primêre vere wat beteken hulle sal binnekort kan vlieg.

Volgens Bolhuis verskil die kleinflaminke in ouderdom, gewig en grootte en daarom moet kundiges die voëls individueel beoordeel om te verseker dat hulle elkeen gereed is om self in die natuur te oorleef.

flaminkprojek-2019-04-02

“ʼn Mens kan jou verkyk aan hierdie voëltjies en hoe hulle met hulle snawels die water filtreer terwyl hulle die water met hulle pote omroer. Niemand kon hulle dit leer nie, hulle is net eenvoudig reg hiervoor ontwerp,” vertel Bolhuis. Foto: Mike Bolhuis – Flamingo Project Facebook-blad.

Hy sê daar word hard op Kimberley gewerk om te verseker die voëls kan suksesvol terug in die natuur geïntegreer word. “In die tussentyd word daar net so hard gewerk by die geakkrediteerde instansies om te verseker die kuikens word reg grootgemaak vir hulle vrylating later in Kimberley.

“Dit is waarom dit vir ons steeds belangrik is dat al die geld wat aan verskillende instellings vir die flaminkprojek geskenk word, wel by die flaminke uitkom.”

Bolhuis sê dit is waarom ʼn nie‑winsgewende organisasie vir die reddingspoging geskep is waar donasies geskenk kan word. “Die rekeninge van die verskillende geakkrediteerde instansies sal uit hierdie poel van donasies betaal word.”

Die private speurder sê hy glo ook nie hierdie projek gaan ʼn eenmalige gebeurtenis wees nie.

“Ek sal hierdie projek deursien tot hierdie voëls vlieg. Ek sal graag by Kamfersdam betrokke wil bly en verhoed dat so iets ooit weer gebeur.

“Dit is belangrik dat ons voorsorgmaatreëls hiervoor tref. Daar is al van 2016 gewaarsku dat die dam en sy flaminkekolonie op ʼn ekologiese ramp afstuur en niemand het iets gedoen nie.

“Ek sien dit as ʼn misdaad as ʼn mens sien ʼn dier het seer of is verstrengel en jy help nie daardie dier nie. Daar is byna nie meer ʼn plek waar die mens nie beheer, toesig of invloed in die natuur het nie en daarom is dit ons verantwoordelik om in te tree as iets soos ʼn droogte uitbreek,” het Bolhuis bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hans Richardt ·

Waarom red as dit droog is? Natuur het eie manier van bestuur. Kamferdam is vol in elk geval.

Hb ·

Stem saam. Laat di natuur sy gang gaan. Nou gaan daar weer n wanbalans met iets anders wees. Nou gaan n spietkop seker nou mut inspring om di krappies, prawnsies en alge en dies meer te red want daars nou te veel Flaminke???

Linja ·

Die probleem is dat dit nie natuurlike omstandighede was/is nie.

Hierdie is n mens gemaakste pan, waar afval water inloop. Die “mensgemaakte” omgewing het die flaminke gelok.

Asgevolg van instandhouding het die water begin opdroog.

Oorsaak van die tragedie was mens, so mens moet pa staan.

Mirrie Raubenheimer ·

Ek het groot respek vir Mike Bolhuis gekry. Die ou het sonder pmhaal gedoen wat hy moes doen. Knap , mnr Bolhuis. Salute!

Cherokee ·

Netjies gedoen! Miskien behoort ‘reddingspoging’ verander word na ‘reddingsdaad’ want dit blyk nie meer ‘n poging te wees maar ‘n geslaagde daad. Groot en trotse werk gedoen..

Andreas ·

As mens lief is vir die natuur klim daar ‘n gevoel in jou, jy raak skoon wég van die wêreld om jou, jy hoor en ruik die bos, jy sien die bamboeskleurige grasse in die winter, die mopanies in kleure vlam, jy hoor die voëls, die diere, dit voel vir jou asof jy vir die eerste keer geleer het om te luister en jy waardeer die oê en sintuie wat die Vader vir jou geleen het.

Mike, jy kan hier by my kom sit, dan raak ons vergeet weg van die wêreld om ons.

andre ·

Wonderlike projek wat weer die edel kant van die mense se karakter ten toon stel.

VARS en MOOI!

Lizelda ·

Dankie Mike en almal wat betrokke was met d help vd flaminkies. N persoon wat lief is vir diere bly in my oe n goeie mens.

jean ·

Hoekom terug na Kamfersdam?…Wat as dieselfde weereens gebeur wat, soos almal weet, deel is van S A vandag?

Luister ·

Welgedaan! Ek het familie wat gereeld gegaan het om met die voerdery te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.