Fliek nie meer vertoon ná nuwe ouderdomsbeperking

Inxeba – The Wound (Foto: ANA)

Die Film- en Publikasieraad (FPB) het Woensdag aangekondig hy het die ouderdomsbeperking van Inxeba (The Wound), die omstrede Suid-Afrikaanse fliek wat op die kortlys vir vanjaar se Oscar-toekennings was, aangepas.

Die fliek, ʼn gay liefdesverhaal wat in isiXhosa vertel word, se oorspronklike ouderdomsbeperking van 16 vir kru taal en seks, is deur die raad se appèltribunaal verander na X18 vir die klassifiseerbare elemente van seks, kru taal, naaktheid, geweld en vooroordeel.

“Die gradering van X18 beteken dat die rolprent slegs by aangewese volwasse persele versprei kan word. Dit beteken dat die prent nie in teaters of op enige ander platform uitgesaai mag word wat nié ingevolge die wet aangewese geriewe vir volwasse gehore is nie,” het die FPB gesê.

Inxeba (The Wound) handel oor die tradisionele ukwaluka, ʼn Xhosa-ritueel wat aanduiding is van ʼn seun wat ʼn man word, en wat besnydenis insluit. Kwessies oor seksuele identiteit word aangeroer in die vorm van ʼn gay liefdesverhaal. Die lokprent vir die fliek het wyd kommentaar uitgelok.

Talle teaters het besluit om nie die fliek te vertoon nie ná dreigemente van groepe wat teen die fliek gekant is.

Maroela Media het vroeër berig die Christen-Demokratiese Party (CDP) het gesê hy is geskok oor die ANC-regering se minagting van die waardigheid van die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika deur dié fliek te finansier en te laat meeding op internasionale vlak.

Theunis Botha, leier van die CDP, het gesê die fliek beeld Jesus Christus uit as ʼn homoseksuele man. “ʼn Mens kan net dink wat sou gebeur het as dieselfde uitlating oor die Islamitiese ‘profeet’ gemaak is!”

Hy het gesê dit is betreurenswaardig dat ʼn fliek met só ʼn godslasterlike tema deur die regering bevorder word. “Dit is ʼn belediging vir die byna 80% Christelike bevolking in Suid-Afrika. Die CDP doen ʼn beroep op alle Christene, as die meerderheid Suid-Afrikaners, om teen hierdie fliek, en enige voorval waar ons Here Jesus Christus se naam misbruik word, op te staan. Ons bevorder egter nie geweld of intimidasie as ʼn metode om die staat te dwing om ons waardigheid te respekteer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

lizl ·

Gelukkig sal ek nooit dit kyk nie… vir `n paar redes : Godslaster, en is in Xhosa. Soos ek geduring moet hoor… I don`t speak Afrikaans… Eish… sorry I don`t speak Xhosa , al is daar ook byskrifte by.

Eish ·

Eish! Dat onse klompie nou n Oscar genomineerde kunswerk so stief behandel né.
Wie is die meeste kwaad? Die Xhosas oor die ongevraagde projektering van die tradisionele inwydings seremonie? Al die belangegroepe het reeds hul stem dikgemaak. Desnieteenstaande die mees liberale grondwet ter wêreld, is kultuurgoed vir elke bevolkingsgroep steeds van waarde.

Ada ·

Hoop dit word ook geboikot waar ook al dit toegelaat gaan word.

Jack Klok ·

Die mees vervolfde groep mense op aaarde vandag is Christene. In die voormalige bekende Christen lande wat almal sekulêr geword het word godsdiensvryheid gebruik om Christene te vervolg. Vervolging is nie net die fisiese geweld waaraan hulle blootgestel word nie maar ook die minagting wat teenoor Christene deur owerhede en allerande groepe betoon word. Die Christelike waardestelsel word met minagting behandel, beledig, verkleineer en beskuldig van alles wat sleg is.

Dean ·

Ek wonder net wat beteken dit dat die teater ingerig moet wees vir volwasse gehore? Ek hoop nie dit is wat ek dink nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.