Flink polisieman trek ‘moordenaar’ blitsig vas

Argieffoto

ʼn Vermeende moordenaar is vasgetrek nadat ʼn polisiekonstabel die verdagte sien ryloop het, hom ʼn saamrygeleentheid aangebied en met hom na die naaste polisiestasie gery het.

Konst. Thuthukani Khuzwayo was aan diens toe hy inligting ontvang het oor ʼn man wat twee mense in die Makhilimba-gebied in Eshowe, KwaZulu-Natal, vermoor en op die vlug geslaan het.

Volgens die polisie se voorlopige inligting is daar Woensdag ʼn troue by die Mthethwa-nedersetting gehou. Omstreeks 20:00 het die verdagte by die troue opgedaag en glo op die gaste losgebrand. Vier mense is tydens die voorval gewond. Mbhekiseni Mthethwa (53) en Sipho Mzimela-Mnguni (40) het op die toneel gesterf. Twee ander mense is onderskeidelik in die knie en maag gewond en na ʼn hospitaal gehaas.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê die vermeende skieter het op die vlug geslaan en iemand het die polisie van die voorval in kennis gestel en ʼn beskrywing van die verdagte gegee. Konst. Khuzwayo het vinnig gereageer en sy private motor gebruik om na die verdagte te soek wat glo na Durban op pad was. Hy het die verdagte in Gingindlovu langs die pad sien ryloop en het gestop om hom ʼn saamrygeleentheid te gee, en met hom na die Gingindlovu-polisiestasie gery.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en sy sak is deursoek waar polisiebeamptes bebloede kledingstukke gevind het,” lui die verklaring.

Die 27-jarige verdagte is tans by die Eshowe-polisiestasie in aanhouding en sal Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en twee aanklagte van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.