Floyd Brink weer Johannesburg se stadsbestuurder

Floyd Brink is Woensdag weer as Johannesburg se stadsbestuurder aangestel. (Foto: Facebook / City of Johannesburg)

Floyd Brink is Woensdag weer as Johannesburg se stadsbestuurder aangestel.

Dit volg ondanks ʼn beslissing van die Johannesburgse hooggeregshof op 7 November dat sy aanstelling in Februarie onregmatig was. Die hofaansoek wat die bevel voorafgegaan het, is deur die DA gebring.

Ingevolge dié bevel het die raad nie die korrekte aanstellingsprosedure gevolg nie. Die hof het verder beslis dat ʼn nuwe bestuurder binne tien dae aangestel moet word.

Die stad het ʼn aansoek om verlof tot appèl teen dié bevinding ingedien, maar dit is Maandag met koste van die hand gewys.

Floyd het egter Woensdag genoeg stemme van die ANC, EFF en Patriotic Alliance tydens ʼn geslote raadsvergadering ingepalm om weer sy pos as stadsbestuurder op te neem.

Die Johannesburgse metroraad het na afloop van die vergadering gesê hy glo steeds die hof het versuim om geldige regsargumente aangaande die aanstellingsproses onafhanklik en sonder vooroordeel te oorweeg.

Die raad voer verder aan dat die regte prosedure wel nou gevolg is, en dat dit nie nodig is om die appèlhof oor dieselfde saak te nader nie. Die raad meen die hofsaak het immers oor die aanstellingsproses gegaan en nie Brink se vermoë om die werk te doen nie.

“Namens die stad wens ons mnr. Brink weereens geluk met sy aanstelling. Ons sien uit na administratiewe stabiliteit en ononderbroke dienslewering,” het Kabelo Gwamanda, Johannesburg se burgemeester, gesê.

DA-raadslid Belinda Kayser-Echeozonjoku sê die aanstelling is weereens ʼn geval van kaderontplooiing – een van die groot redes waarom die stad agteruitgaan en waarom die raad moet ontbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blikkies ·

Johannesburg Stad is reeds pap vrot onherstelbaar vernietig as gevolg van swak bestuur. Hoe kan jy ‘n absolute mislukking weer in dieselfde stoel sit om Koning te kraai. Hulle moet JHB stad toedraai met doring draad en laat staan. Die Super Dwase sal mekaar self uitmoor om oor die as wat gaan oorbly te regeer. Inwoners wat ongelukkig onder daardie wanfunksionele raad val moet botweg weier om enige gelde aan hulle oor te betaal.

Ore ·

Wonder soms of die stemmery gepaard gaan met om teen ‘n party/e te stem en nie werklik vir ‘n party nie. EFF,ANC en PA is gewoonlik rats om vir ‘n onbevoegde/onbekwame/korrupte persoon / saak te stem as om eerder te stem vir wat reg is.

latie ·

hoe kan die JHB stad mense weg jaag jy kan nie want daar soveel ontwetig wat daar bly en niks worry nie as net die regte reels na kom dan sal hul alles vernietig want hul soek verniet hoe kan nie plek onderhou as hul wil verniet bly????

annie ·

Die kaders het nou al omtrent al die room van elke koek in dié land afgelek buiten nog die in die Kaap en ok net-net nog nie, maar hulle wil en die kanse is goed dat dit nog sal gebeur. Dit was ‘n kopskoot in 1994 en die afvrot het reeds ver gevorder. Allerhande tinkture word nou gebrou deur klomp groepies wat hoop hul gaan wen, maar die kanse is nul tensy die kop afgesny word maar die ding kan nog pik. Wie gaan dit waag?

Andre ·

…die A en C en onse Julius, het nog groot planne vir Egoli. Hou maar dop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.