Fluitjieblaser terug in sy pos ná OB-ondersoek

Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het die Matlosana-munisipaliteit in die Noordwes opdrag gegee om ʼn fluitjieblaser weer in diens te neem en ’n beleid in te stel wat fluitjieblasers in die toekoms sal beskerm.

Dít volg nadat Mkhwebane bevind het dat Mpho Seero, die interne hoofouditeur by dié munisipaliteit, geskors is omdat hy transaksies wat hy as onreëlmatig en ongemagtig by die munisipaliteit beskou het, aan die groot klok gehang het.

Mkhwebane het ’n ondersoek van stapel gestuur nadat Seero beweer het dat die voormalige waarnemende bestuurder van die munisipaliteit, Sipho Mabuda, hom onregmatig geskors het na aanleiding van sy bekendmaking van vertroulike inligting aan die munisipale raad.

Dié inligting het betrekking op wat Seero as onreëlmatige verkrygingsprosesse beskou het, met onreëlmatige uitgawes van R32 442 930 tussen 2003 en 2013 vir brandstof by ’n plaaslike vulstasie, asook ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes van onderskeidelik R160 662 953 en R21 802 287 op munisipale infrastruktuurprojekte.

Seero het ook gemeen dat regulasie 36 van die regulasies vir verkrygingskettingbestuur misbruik is.

Dié regulasie maak voorsiening vir geld wat uitbetaal in noodgevalle, wat beteken dat normale prosesse nie gevolg hoef te word nie aangesien tyd dan beperk is, byvoorbeeld in die geval van opruimingswerk ná vloedskade.

Oor die brandstofkwessie het die munisipale raad Seero aangesê om ’n ondersoek van stapel te stuur na die geld wat by ʼn plaaslike vulstasie bestee word. Seero het bevind dat voertuie wat nie in die munisipale vloot gelys is nie, meer as een keer per dag met petrol of diesel gevul is. Hy het ook uitgevind dat geen diensooreenkoms tussen die munisipaliteit en dié vulstasie bestaan nie.

Die OB het na aanleiding van haar ondersoek bevind dat Seero onregmatig deur die munisipaliteit geskors is en dit bestempel as ʼn blatante poging deur Mabuda om van Seero ontslae te raak nadat Seero hom van korrupte aktiwiteite beskuldig het.

Mkhwebane het die huidige bestuurder van die munisipaliteit aangesê om Seero binne 30 dae ná die uitreiking van haar finale verslag, wat op 13 Mei ingedien is, weer aan te stel.

Die bestuurder moet verder toesien dat die OB se verslag by die munisipale raad ingedien word en hy moet namens die munisipaliteit ’n brief aan Seero skryf waarin die ouditeur om verskoning gevra word.

Afgesien hiervan moes die bestuurder ook verseker dat ’n beleid oor beskermde onthullings in die werkplek ingestel word om binne 90 werksdae ’n “kultuur van openheid en aanspreeklikheid sonder die vrees vir viktimisering” te skep, het die OB beveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Ek het ook opgelet dat instruksies om vervolging in te stel, in gebreke gebly het. Moet egter, as versagtende omstandighede, nie vergeet dat die OB lid van die ANC is nie.

ja nee ·

hoop daar word intern en extern opgevolg in die korrupsie saak en die betrokke aanspreeklik gehou vir hulle aksies.andershelp die poging ook niks en stel nie n voorbeeld van wat gebeur met korrupsie nie.ek dink ander koppe moet rol by die munisipaliteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.